Daar was baie onthou-gesprekke met "ds. Izak".

Ons het sommer oor die lewe en alledaagse dinge gepraat. Oor mooi en snaakse goed, ook oor teleurstellings en verlore vriendskappe. Selfs oor ons ma's en 'n gedeelde liefde vir die Paarl, waar ons albei se wortels lê. Dikwels oor sy mooi dogter, Chérie. Soms oor ons gunsteling-tyd wanneer die jakarandas in Johannesburg blom en die eerste somerreën val, dan weer oor sport en godsdiens en die politiek. Ander kere oor koerante en vrouetydskrifte.Veral oor SARIE, waar hy van sy gelukkigste jare deurgebring het. Dit was die ding van Izak - hy kon oor enigiets praat.

Sommer so op die man af.

My eerste gesprek met hom was toeval. Hy was SARIE se redakteur, ek Beeld se vroueredakteur. Sy entoesiasme het my belangstelling in vrouetydskrifte geprikkel, en toe hy my 'n jaar later 'n pos aanbied, was dit sy blindelingse vertroue in my wat my oorreed het om koerante vir tydskrifte te verruil. Só was Izak. Hy het jou laat verstaan jy hét die vermoë.

Jy kán.

My gesprek met hom in sy studeerkamer oor 'n laataand koppie koffie nadat ek jare later as SARIE-redakteur aangestel is, sal die kosbaarste gesprek van my professionele lewe bly. 'n Jong redakteur is vol vertwyfeling, maar sy raad, opgesom in 5 punte, was eenvoudig. Nou nog as ek voor moeilike besluite staan, is dit sý stem wat ek hoor: "Géé van jouself. Gee vir jou lesers, gee vir jou tydskrif. Deur te wys wie en wat jý is, gee jy jou tydskrif 'n hart en siel."

Hierdie punt was méér as raad. Dít was Izak se lewensfilosofie. Hý het gegee. Hy was 'n man van woorde en deur al sy geskrifte en gesprekke het hy nooit geskroom om te wys wie en wat hy is en waarvoor hy staan nie. Soms het hy vriende gemaak, baie keer vyande, maar altyd was hy bereid om sy hart te ontbloot.

"Maak dit mooi."Hoe dikwels was dít nie sy pleidooi wanneer ons oor SARIE gepraat het nie."Vroue hou van mooi goed,"het hy gesê."Die lewe is uitdagend. Maak SARIE haar bederf. Sy verdien dit."Izak het vroue verstaan, juis omdat hy soveel respek vir hulle gehad het. Hy't 'n oor gehad, iets wat vroue waardeer het. Izak sou eers goed luister, en jou dan mooi laat verstaan jy wéét wat om te doen. Dat jy reeds die antwoord het.

So 'n paar jaar gelede het ek en SARIE se rubriekskrywers - Izak, André, Nataniël en Marita - saam die pad gevat en lesersdae landwyd gehou. Izak het van die gedigte uit sy digbundel Vervreemdeling voorgelees. Sy benoudheid, wat hy teenoor my erken het, dat hy by die ander rubriekskrywers sou afsteek en dat lesers hom sou sien "as die moeilike ou man wat ek is", was verniet. Hy was die ster van die show; ons laat lag en ons laat huil. Die gedig van 'n pa se diep verlange na 'n seun en kleinkinders doer in die verre,"Afskeid", het die siel van 'n trotse man ontbloot.

Die pynlike gesprek met Izak 'n paar dae voor sy dood was een wat ek en hy nie wou gehad het nie. Hy't gebel om te sê hy is met motorneuronsiekte gediagnoseer en dat sy "skryfdae verby is". Dít was die dag wat hy "gevrees het - om nie meer vir SARIE te skryf nie". Desember sou sy laaste tot siens wees.'n Paar dae later het sy groet-rubriek, met die versoek dat dit soos 'n Kerskaartjie vir sy lesers aangebied word, op my lessenaar beland.

Kort voor Izak SARIE in 1991 verlaat het om Rapport se redakteur te word, het hy só in

SARIE geskryf: "Ek gee jou 'n drukkie omdat ek 'n drukkie wil hê. Om te weet dat jy, sonder dat ek te veel verduidelik, iets verstaan van 'n tyd om te kom en 'n tyd om te gaan . . ."

"Ds. Izak", vandag gee ek, my span, jou lesers die land oor en jou geliefde SARIE jou 'n drukkie.

'n Deel van jou sal altyd deel wees van SARIE. Jy sal ons bly inspireer. En ja, die jakarandas blom en die eerste somerreëns het geval.

Al my liefde

Michélle

Twee gedigte

Ja, Broer,
ons weet tog die lewe
is net 'n tongklik lank, 'n voetswik ver.
Maar jy sal regop loop, op jóú tong
'n mondvol woorde, 'n druiwekorrel
uit die Pêrel vir die pad.

- André le Roux

Bekendeling
Vanoggend sien ek 'n foto
van jou, jy stap
hande agter die rug gevou:
bome verloor hul bloeisels
waar jy, één van hulle nou
in die laning staan,
jou oë half toe. Jy dig
oor die vervreemding
van bloeisels: die vál.

- Lou-Ann Stone