Ons is om baie redes opgewonde oor 2017 en nie nét die blote feit dat "Die Aaklige 2016" verby is nie. Ons lys van vandag af al die redes hoekom jy kan uitsien na die nuwe jaar, en meer spesifiek, al die name van Suid-Afrikaners wat ons opgewonde maak. Van sjefs tot akteurs, rugbyspelers tot skrywers, skaatsplankryers tot musikante. Hierdie mense is die voorlopers, innoveerders en kreatiewes en maak ons trots oor wat in Suid-Afrika aan die gebeur is.

Ons skop ons reeks af met ’n skrywer, Irma Venter. Jy ken hulle dalk alreeds maar indien nie, is dit ons voorreg om jou aan hierdie Suid-Afrikaners bekend te stel. Ons is opgewonde oor wat hulle doen en hul projekte is op ons redaksie se lys van dinge om te sien, doen, lees en na te luister in 2017.

irma venter

Irma Venter se eerste spanningsverhaal, Skoenlapper, het in 2012 verskyn. Sedertdien was daar byna elke jaar ’n nuwe boek uit haar pen: Skrapnel, Sondebok, Skarlaken en nou in Maart ook Sirkus (Human & Rousseau).

Venter vertel haar stories op ’n boeiende manier. Nes jy dink jy het die intrige uitgepluis, gee sy vir jou ’n nuwe kinkel om oor te wonder. Haar karakters is geloofwaardige mense en die omgewing waarin die verhale afspeel, word vindingryk met net ’n paar woorde beskryf. Daar is niks voorspelbaar aan hoe sy die gebeure laat ontvou nie. Die moordtonele word so visueel beskryf dat jy die prentjies moeilik uit jou kop kan sit. Aan die manier waarop sy die agtergrond inkleur, is dit ook duidelik dat sy haar navorsing behoorlik doen.

Ons het haar ’n vinnige paar vrae gevra.

Wat doen jy?

Ek skryf spanningsverhale/misdaadboeke/whodunnits. Ek is ook ’n voltydse joernalis by die tydskrifte Engineering News en Mining Weekly. Ek skryf stories oor tegnologie en besigheid, veral rakende die motorbedryf.

Waaroor is jy in 2017 opgewonde?

Ek is opgewonde oor die reën. En dankbaar. Oor die ANC se presidensiële verkiesing vanjaar. Oor sakelui en oud-stryders met beginsels. Oor Deon Meyer se film Jagveld wat lyk asof dit die tradisionele rol van die vrou in die Afrikaanse rolprentbedryf gaan rek. Oor die Woordfees op Stellenbosch in Maart. Oor die Zeitz-museum vir Kontemporêre Kuns Afrika (Mocaa) wat in September in Kaapstad open – selfs CNN is opgewonde hieroor.

Wat is jou gunsteling- Afrikaanse woord?

Hardekwas, of hárrekwas. Dis een van daai woorde wat ’n mens net in Afrikaans kan sê.

Lees nou

Lynelle Kenned!

Roelof Temmingh

Jason Jacobs