Ons is nié net opgewonde oor 2017 omdat 2016 verby is nie. Dis wat die mense van ons land – van sjefs tot akteurs, rugbyspelers tot skrywers, skaatsplankryers tot musikante – alles vanjaar doen wat ons die meeste opgewonde maak. Hier deel ons elke week die name van Suid-Afrikaners wat ons dié jaar dophou.

Jy ken hulle dalk alreeds, maar indien nie, is dit ons voorreg om jou aan hierdie opkomende sterre bekend te stel.

Vandag is ons opgewonde oor die skaatsplankryer Jean-Marc Johannes wat sy oog op die Olimpiese Spele het. Onthou dié naam, jy gaan dit nog baie in die internasionale arena hoor!

Olimpiese drome

Ja, skaatsplankry is een van vyf sportsoorte wat nou Olimpiese status het en waarin in 2020 die eerste keer by die Spele in Tokio deelgeneem gaan word. Die ander vier is branderplankry, mededingende rotsklim, karate, en bofbal (mans) of sagtebal (vroue).

En die 26-jarige Jean-Marc Johannes van Athlone, een van SA se top-skaatsplankryers, oefen nou kliphard om ook by die Spele te wees. Ons gesels met hom.

Wat is op jou skedule vir 2017?

2017 is ’n goeie jaar vir skateboarding en daar is baie kompetisies wat plaasvind. Die grootste is die Fise-wêreldtoernooi, een van my gunstelinge.

Verlede jaar het ek eerste plek behaal in die amateur-afdeling (kyk in die video hieronder na sy vertoning), maar vanjaar kompeteer ek in die professionele kategorie.

Wat is die rede vir jou sukses?

Deursettingsvermoë. Of dit nou is om te verbeter en ’n nuwe trick te leer of ’n doelwit in die lewe na te streef. Dis passie wat die rede is dat ek teruggaan, ongeag die aantal kere wat ek al misluk het. Ek kan met selfvertroue sê dat niks buite bereik is as jy jou kan voorstel hoe jy dit doen nie.

Hoe berei jy voor vir die Spele?

Vir ’n elite-kompetisie soos die Olimpiese Spele sal ek meer as gewoonlik seker maak wat die beoordelaars se kriteria is en wat die formaat van die kompetisie is. Die manier waarop ek sal oefen – dit geld vir enige kompetisie in die toekoms – sal wees om voorbereid te wees met meer as net ’n stel toertjies.

Ek sal seker maak ek is gemaklik om enige obstacle te skaats en my roetine verander binne die beoordelaars se riglyne. Dit is maklik om vasgevang te word in ’n gemaksone en selfversekerd te voel met ’n sekere aantal toertjies.

Deesdae volg ek ’n ander benadering en hoewel dit meer werk is, kan dit net meer voordelig wees om die ekstra werk in te sit. Die afgelope paar jaar het ek al hoe meer besef die lewensduur van my beroep hang af van my leefstyl. Deur my dieet te verander en aan my fiksheid te werk berei ek my nie net voor vir ’n kompetisie nie, maar ook om beserings hok te slaan, om myself aan te hou druk en om elke dag op en van my bord af goed te voel.

FOTO Ference Isaacs FOTO Ference Isaacs

Mense sal verbaas wees om te weet dat ...

... ek sedert verlede jaar elke laaste Maandag van die maand ’n radio-insetsel op DJ Ready D se program op Good Hope FM het.

Ons sien ook uit na hierdie Suid-Afrikaners se 2017:

De Klerk Oelofse

Regardt Scheepers

Lynelle Kenned

Refentse Morake