Ons is nié net opgewonde oor 2017 omdat 2016 verby is nie. Dis wat die mense van ons land – van sjefs tot akteurs, rugbyspelers en musikante – alles vanjaar doen wat ons die meeste opgewonde maak. Hier deel ons elke week die name van Suid-Afrikaners wat ons dié jaar dophou.

As jy hom nog nie ken nie, is dit ons voorreg om jou aan Loki Rothman voor te stel. Ons is opgewonde oor sy nuwe musiek en optredes en sy naam is saam met al ons vorige name op ons redaksie se lys van dinge om te sien, doen, lees en na te luister in 2017.

Loki Rothman het op die Suid-Afrikaanse musiek-radar verskyn toe hy in die eerste seisoen van die talentsoek-reeks SA’s Got Talent in die top-ses geëindig het. Sedertdien het hy al as kitaarspeler saam met die Afrikaanse rapper Jack Parow getoer en met sy debuut-album, The Way Back, met sy kitaarspel en lirieke beïndruk.

Waaroor is jy opgewonde in 2017?

Tot dusver is ek hoofsaaklik bekend as kitaarspeler. Hierdie jaar is die eerste keer dat ek op my loopbaan as ’n solokunstenaar gaan fokus en begin optree. Ek sien uit dat mense my leer ken as sanger, liedjieskrywer, komponis én vervaardiger. En natuurlik ook as kitaarspeler.

Wat hou die jaar vir jou in?

Daar is ’n klomp planne vir 2017! Ek toer tans saam met Laurika Rauch vir ons duet van die liedjie "Blou". By die KKNK in April gaan ek en Albert Frost te sien wees in ons vertoning The Acoustic Guitar. Daar is ook ’n vertoning saam met die komediant Schalk Bezuidenhout in die pyplyn. Verder is ek besig om materiaal te skryf vir ’n nuwe album waaraan ek vanjaar begin opneem. Ek’s ook besig om die klankbaan te komponeer vir ’n nuwe fliek, Liewe Kersfeesvader, waarvan die regie behartig word deur Etienne Fourie (bekend vir onder meer Dis koue kos, Skat).

  "Liewe Kersfeesvader" DAY 1 #kyknetfilms @kyknettv #scoring #filmscore #afrikaans #studio #producer #production   A post shared by Loki Rothman (@lokirothman) on

Waaraan skryf jy jou sukses toe?

Ek glo nog altyd dat ’n mens nie moet wag vir die “regte” tyd, plek of situasie om iets te doen nie. Ek het net aangehou om my kitaarspel te oefen, myself aan soveel as moontlik mense in die bedryf bekend gestel en tussendeur geleer uit my foute om te kom waar ek vandag is. Wat jy insit in wat jy aanpak, bepaal ’n groot deel van jou sukses.

Wie is jou musikale held(e) en hoekom? Ek het drie: Die komponis en liedjieskrywer Randy Newman, die 70’s-sanger Jim Croce en die sanger en liedjieskrywer John Mayer. Ek hou van musiek met interessante akkoorde en van liedjies wat ’n storie vertel. Al drie dié kunstenaars is ongelooflike skrywers.

Vertel ons iets van jouself wat min mense weet?

Ek is ’n groot Star Wars-aanhanger en sien vreeslik uit na die agtste episode wat later vanjaar uitkom. Ek versamel ook kitare en enige ander tipe snaarinstrument. Daar is al 38 snaarinstrumente in my versameling, waaronder die vreemde sitar en sarod, wat al twee gebruik word in tradisionele Indiese musiek.

Oor dié Suid-Afrikaners is ons net so opgewonde …

Appel

Klara van Wyk