Ons is nié net opgewonde oor 2017 omdat 2016 verby is nie. Dis wat die mense van ons land – van sjefs tot akteurs, rugbyspelers en musikante – alles vanjaar doen wat ons die meeste opgewonde maak. Hier deel ons elke week die name van Suid-Afrikaners wat ons dié jaar dophou.

Jy ken hulle dalk alreeds, maar indien nie, is dit ons voorreg om jou aan hierdie opkomende sterre bekend te stel.

Vandag is ons opgewonde oor Mila Guy, vryskut-aktrise wat deesdae bedrywiger is as ooit. Sy speel in die dramareekse Erfsondes op kykNET en SABC2 se Keeping Score. Ons het vir haar gelag in Hotel. Sywas ook te sien in flieks soos Ballade vir ’n enkeling en Vir die voëls. Onthou dié naam, jy gaan nog baie van haar hoor en lees!

Waarna sien jy uit in 2017?

Om nuwe projekte aan te pak, die lewe te geniet en meer tyd vir die belangrike mense in my lewe te maak! Ek gaan skiet aan ’n nuwe film waaroor ek baie opgewonde is, en werk ook aan Hotel 2, wat my sommer laat glimlag van oor tot oor. Aan die einde van die jaar kom Liewe Kersfeesvader uit, waaraan ek laas jaar gewerk het. Ek is mal oor die film en sien daarna uit om die reaksie van die publiek te hoor. Tot dusver was ek besig met Keeping Score en Erfsondes, so 2017 is sover goed vir my.

Wat het jy studeer?

Drama aan die Universiteit van Pretoria.

Wat dink jy het die wêreld nodig?

Die wêreld is omtrent in ’n warboel. Ons het meer mense nodig wat verdraagsaam is teenoor mekaar en mekaar se verskille en opinies respekteer en dit nie as ’n bedreiging sien nie. Ons moet hierdie verskille sien as uniek, sodoende sal ons dalk leer om in liefde en vrede op aarde te leef. Ek dink ons het dit veral in ons land nodig.

Gunsteling- Afrikaanse gesegde?

Om ’n akteur te wees is nie aldag maklik nie. Dit vat in die stil tye aan ’n mens, so ek hou nogal van hierdie gesegde: Wees geduldig, alles gebeur met tyd. Die windpomp gaan soek nie die wind nie.

Wat het jou geïnspireer om te doen wat jy nou doen?

Ek was nog altyd lief vir drama en vandat ek kan onthou, het ek opvoerings saam met my niggie, sussie en maats vir almal gehou. Ek het op laerskool al dramaklasse geneem en so deelgeneem in al wat eisteddfod is. Op hoërskool in Nieu-Seeland was ek bevoorreg om drama as vak te hê en aan baie kompetisies en produksies deel te neem. Ek kan aan niks anders dink wat ek regtig sou wou doen nie. My ouers het my ook aangespoor om te doen waarvoor ek lief is en my ma het in my laaste skooljaar gereël dat ek ’n oudisie in Auckland doen vir die universiteit daar. Ek was gelukkig om gekeur te word en van daar af kon ek doen waarvoor ek lief is.

Waar wil jy jouself oor vyf jaar sien?

Hopelik gelukkig en besig om te doen waarvoor ek lief is. Wie weet.

Gunsteling-musiek?

Dit verander altyd want ek hou van alles, maar op die oomblik Angus & Julia Stone.

Gunsteling-kos?

My ma se sop. Elke keer as sy kom kuier, moet sy dit maak voor sy teruggaaan.

Beste raad wat jy al gekry het?

Dit was van my pa: Om jou te bekommer gaan niks aan die saak verander nie. Dit is werklik waar. Om te tob en nie te slaap oor ’n probleem nie, gaan dit werklik nie oplos nie. Die probleem gaan steeds môre daar wees. Alles in die lewe vat tyd, so ’n mens moet maar geduld aan die dag lê. Makliker gesê as gedaan!