Al mis Joey Venter haar geliefde Kaapprovinsie baie, geniet sy tog die vreemdheid van Hongkong baie en gebruik sy die geleentheid om meer te reis in die Ooste.

joey en koosDie Venters woon in Sai Kung, net buite die stad Hongkong. Sy is ’n kindertuinjuffrou en haar man, Koos is ’n passer en draaier. Hulle wou altyd hul vlerke sprei. Na hul seun, Jasper, begin studeer het, het Joey in 2010 ’n pos by ’n laerskool in Pok Fu Lam op Hongkongeiland aanvaar. Koos het daardie November by haar aangesluit en as nutsman begin werk.

Wat was die moeilikste om aan gewoond te raak?

Die heel eerste week het ek gedink dit was die grootste fout ooit om na Hongkong te skuif. Dis vreeslik warm in Julie/Augustus en die humiditeit is ondraaglik hoog. In die Noordelike Halfrond is die seisoene andersom - winter is in Desember en somer in Junie.

Die warboel van duisende mense op straat wat stadig stap, terwyl hul op selfone besig is, kan tot groot frustrasie en irritasie lei. Aan die begin was die chaos om my pad te vind en net op die regte bus te klim ’n reuse uitdaging. Alhoewel die Kantonnese baie hulpvaardig is, kan baie nie Engels praat of verstaan nie. Jy moet seker wees van jou roete en busnommers. Ons het op ’n plaas net buite Eendekuil gewoon, so jy kan jouself voorstel met watter skok ek aarde toe gekom het. Ek het na my aankoms by vriende in Sai Kung tuisgegaan en dit het gehelp om die groot skuif effe makliker te maak.

Die reuke op straat is soms onaangenaam en jy gryp na ’n geparfumeerde snesie om jou mond en neus vir ’n wyle te bedek.

Inkopies was die ander groot uitdaging. Die bekende was weg en ek was gekonfronteer met die onbekende. Iets so eenvoudig soos koffie koop was ’n uitdaging.

Om ’n haarkapster te kry was ’n nagmerrie, want die Chinese word “in house” opgelei en voorts verskil hul tegniek ook nog. Gelukkig het ek ’n Suid-Afrikaanse haarkapster hier gekry en is dankbaar.

Mini-bus, een van die publike vervoer metodes. Mini-bus, een van die publike vervoer metodes.

Ek hoor dikwels SA mense sê Hongkong is ’n inkopie-paradys. Is dit werklik so?

Ek dink dit was tot onlangs nog so, maar met die Rand wat waarde teenoor die Hongkong Dollar verloor het, is dit nie meer altyd die moeite werd nie. Tog bly dit baie opwindend en oorweldigend, want jy sien nog fantastiese winskopies en jy’s so bang jy kry nie weer die geleentheid nie. Mens koop soms dinge wat jy nie regtig nodig het nie! Indien jou belangstelling in die tegnologie lê, behoort jy ’n paar rand te spaar op items. Ons vind dis deesdae beter om Bangkok toe te gaan vir algemene inkopies.

Hongkong stadium Hongkong stadium

Die kultuur?

Die taal is Kantonnees. Dis baie eenvoudig, met geen tye nie, geen veelvoude nie, maar die nege tone maak dit ’n vrek moeilike taal om te besig. Die twee gewildste godsienste is Bhoeddisme of Taoïsme. Voorts is hier ook ’n groot teenwoordigheid van Rooms-Katolieke en Christene.

Kliniese, skoon en netjiese voorkoms is baie belangrik, maar dan grawe hulle in die neus en knip naels in die openbaar. Hulle maak ook graag keel skoon en spoeg dan. Dis opvallend dat die meerderheid jonger mense dit nie sommer doen nie. Dis die ouer en meer tradisionele mense wat nog dié outydse gewoontes beoefen.

“To keep face” beteken dat jy nooit iemand voor ander mense so behandel dat dit voorkom asof jy hom of haar wil verneder nie. Jy mag onder geen omstandighede in ’n harde of aggressiewe stemtoon praat nie. Indien jy dit wel doen, word jy beskou as die vyand en is jou dae getel.

Geskenke word graag uitgedeel, maar dit word nooit voor die gewer oopgemaak nie. Dis om iemand se gevoelens te spaar indien die ontvanger nie van die geskenk hou nie. Die kleur van geskenkpapier is ook belangrik. Rooi en goud is altyd gewild, want dit beteken goeie geluk. Swart, blou en wit papier het ’n negatiewe betekenis.

In die Weste is dit niks vreemds om die kantoor te verlaat sodra jou werksure verstryk het nie. Hier is dit goeie maniere om langer ure te werk, want hulle glo die baas sien dit raak en sal sy waardering uitspreek. Daarom sien jy ook heel dikwels dat hulle op die trein of bus slaap.

Ek eet saam met my kollegas. Ek eet saam met my kollegas.

Die kos daar?

Dim Sum is sekerlik die gewildste. Die woord beteken om tee te drink. Die tee-drinkery gaan gepaard met heelparty bamboesmandjies gevul met die heerlikste lekkernye bv. Pork buns, Shrimp dumplings, Steamed Rice Sheet Rolls, Turnip cake, Chicken claws/feet (Hoenderpootjies), ens. Die kos word nie op een slag bedien nie. Die tee-drinkery kan ure aanhou. Jy sit om ’n ronde tafel met ’n roterende sirkel in die middel. Eers word die teekoppies en eetgerei gesteriliseer met kookwater daar by die tafel. Daarna word die tee geskink en ieder en elk gesels saam oor wat geëet gaan word. Dan eers word die lysie gemerk vir die kelner om te neem. Die kos kom dan in sarsies. Jy eet klein bietjies, maar vir maklik twee ure lank. Tussenin word daar geklets en gelag.

Ons gunsteling-plek om te eet is by ’n Dai Pai Dong of straatkafee. Ons is nogal uitsoekerig en kies graag een met ’n relatief skoon kombuis. Hier kry jy gewoonlik Wok-geregte soos gebraaide rys, noedel- en ook gestoomde geregte. ‘Milk Tea’ is ’n oorblyfsel van die Britse Kolonialisme en is steeds baie gewild by die Dai Pai Dongs. Dis effe anders as waaraan ons gewoond is. Hierdie tee word van kondensmelk of ingedampte melk gemaak. Dis goed gebroude tee wat deur ’n sif en moeseliendoek gegooi word en dan keurig gemeng word met net die regte hoeveelheid melk.

Die Mong Kok mark. Die Mong Kok mark.

Is die besoedeling erg?

Die besoedeling is sekere tye van die jaar onuithoudbaar. Dan kry ons die fabrieke in China se lug wat instoot oor Hongkong. Dis nie naastenby so erg soos in Beijing nie, maar tog kommerwekkend. Ons oorleef dit deur ’n masker te dra of chroniese medikasie te gebruik. Ek was aanvanklik permanent siek met òf sinusontsteking òf laringitis. Nadat my dokter in Suid-Afrika ’n neussproei en antihistamien as chroniese medikasie voorgeskryf het, gaan dit baie beter. Dit lyk soms vreemd om mense met maskers in die openbaar te sien. As ’n leek het ek aanvanklik gedink hulle is siek, maar baie mense tree voorkomend op deur maskers te dra.

Lees in die Januarie 2015 SARIE meer oor Joey en Koos Venter se Hongkong-ervarings.

Hier is ek in my klaskamer. Hier is ek in my klaskamer.