Rietjie vertel meer oor hul lewe in Kigali.

Ek lees met verwondering van Martelize Brink se toer deur Rwanda in April 2014 se SARIE (bladsy 52) en ek wil graag vertel van ons lewe hier in Afrika.

Kyk hier na Martelize se foto-galery van haar toer

Rietjie en Andre van Vuuren Rietjie en Andre van Vuuren

Ons bly die afgelope 8 maande in Kigali. My man, Andre, werk op 'n projek om stelsels (rekenaar en ander) te beplan vir die regering. Ons het nooit eers oorweeg om in Afrika te woon en te werk nie totdat Andre uit die bloute die aanbod van 'n onbekende maatskappy gekry het. ‘n Voormalige werkkollega het Andre se CV ingehandig en toe is Andre genader. Hy het ‘n kontrak geteken vir een jaar. Die betaling is goed en die maatskappy dra al ons kostes vir behuising en vliegkaartjies. Ons spaar baie en Andre kan vroeër aftree (hy het Jan 64 geword). Die enigste ondervinding wat ek van Afrika gehad het, was toe ek vir my beste vriendin, Heleen gaan kuier het.  Haar man werk vir 'n maatskappy wat selfoontorings oprig en vesel ondergronds lê. Hulle het 7 jaar in Zambië gewoon.  Ek het een keer daar gaan kuier en daarna is hulle Kampala toe.  Verlede November het ek daar gekuier. Hulle is intussen verplaas na Mosambiek en trek einde April soontoe.

Kigali uit die lug. Kigali uit die lug.

Kigali is 'n baie skoon stad. Plastieksakke is heeltemal verban en aankope by alle winkels word in bruin papiersakke verpak. As jy met enige sigbare plastiek by die lughawe gebou uitstap, word jy vriendelik versoek om dit in 'n drom te gooi en ‘n man staan gereed met 'n "Minora"-lemmetjie om plastiek van tasse af te sny. Die laaste Saterdag van elke maand is "Umaganda". Dan sien jy geen voertuie op straat nie en alle winkels, restaurante en besighede is toe tot na 12h00, soms tot 14h00. Op hierdie Saterdag word strate en geboue skoongemaak en almal doen welsynwerk iewers in die stad.

Op my bromponie. Op my bromponie.

Ons maak gebruik van openbare vervoer om winkels toe te gaan. 'n Taxi stad toe en terug kos 20 000 Rwandan franks, ongeveer R320! Andre het vir my 'n bromponie gekoop om supermark en gym toe te ry, wat baie pret is. Ons as "musungus" word oral aangekyk en veral blonde mense is vir die plaaslike inwoners snaaks. Die taal is oorwegend Frans en Kinyarwanda. Die grootste winkel is Nakumatt,  amper soos Game of Makro waar jy enige ding kan koop, behalwe alles is dubbel so duur as in SA. Redelike kwaliteit vleis kry ons by "The German butchery", 'n supermark wat huishoudelike produkte en ook vars brood en ander gebak verkoop. Hier het ons al Mrs Balls blatjang gekoop teen R75.

Van die mooi borduurwerk. Van die mooi borduurwerk.

Ek geniet die hele ervaring van hierdie mooi land en sy mense. Ek het die wonderlikste vrouens ontmoet en ons kuiers en uitstappies is altyd verrykend. Om te sien hoe die vrouens van Rwanda mandjies vleg, keramiekware maak, kaartjies maak van ou papier en die mooiste borduurwerk doen, is 'n groot inspirasie. Ek besef elke keer hoe bevoorreg ek is om in SA te bly met alles wat tot my beskikking is. Hier oorleef mense net met die nodigste. Oorkant ons woonstel werk vrouens met babas op hul rûe in die son om mielies, bone en ander groente te plant. Hulle skoffel en doen alles self.

Die woonstelblok waar ons woon. Die woonstelblok waar ons woon.

Ons voel baie veilig. Elke huis en woonstel blok het 'n sekuriteitswag by die hek. Hier’s geen misdaad soos kapings en rooftogte nie. Ons stap elke aand na die naaste eetplek en terug. Mense is baie vriendelik en kinders hardloop na jou en slaan hul arms om jou bene. Hier is die wonderlikste restaurante en ons eet meestal uit. Met Andre se daaglikse toelaag vir kos, hoef ek nie te kook nie. Ek het wel al spaghetti bolognaise gemaak, koek en muffins gebak (mengsels wat ek uit SA gebring het). Ons woonstel word ook elke dag skoongemaak, beddegoed en handdoeke word een maal per week vervang. Ek doen byna niks, was net ons wasgoed en dan word dit deur die huiswerker gestryk. Ek gaan soggens na 'n aerobiese klas wat in 'n kerksaal gehou word. Verder kyk ek televisie, lees en hekel ‘n lappieskombers.

Ek dink die heel lekkerste gaan wees om die gorillas te gaan besoek. Dít het ek nooit in my wildste drome verwag nie - dat ek dit eendag sou ervaar nie! Ons het al Gisenyi, Kivumeer en Nyengwe Lodge per  helikopter besoek.  Ons gaan later in Maart die gorillas besoek vir ons 12de huweliksherdenking wat op die 23ste Maart is. 'n Permit vir die gorillas kos 750 USD, ons betaal gelukkig halfprys, omdat ons tydelike verblyf-permitte het.

Kivumeer Kivumeer

Aan die begin was dit baie moeilik, ons het niks van Kigali geweet nie, behalwe dit wat ons op Voetspore gesien het en wat ons opgelees het oor die mense-slagting in 1994. Die eerste 5 weke na ons hier aangekom het, was ek baie afgesonder in ons woonstel totdat ek van die African International Club in Kigali gehoor het. Ek het met Margie Krogh kontak gemaak en so het my sosiale lewe begin. Ons hou koffie-oggende by verskillende ambassadeurs se huise, maak uitstappies na markte en interessante plekke in Kigali, hou sosiale aande waar jy nuwe mense kan ontmoet en lekker kuier.

Taal is ‘n uitdaging, want die mense se Engels is glad nie goed nie. Hier is geen groot bekende supermarkte nie. Jy moet maar koop wat jy sien en ten duurste daarvoor betaal, want die meeste goedere is ingevoer. Moeilikste is om weg te wees van jou familie, vriende, huis en eie motor - ek mis die groot winkelsentrums en kan nie wag om einde Maart SA toe gaan vir bietjie "retail therapy" nie. Dinge is nie altyd lekker hier nie, soos toe ons  skielik van vriende moes afskeid neem nadat hulle 48 uur gegee is om die land te verlaat (die 6 diplomate wat volgens die nuus uitgeskop is oor spioenasie).  Op die oomblik bestaan die Hoë Kommissie hier net uit George Twala (Hoë kommissaris/Ambassadeur) en ‘n paar helpers.

Ons kuier by die Hoë Kommissaris se huis. Ons kuier by die Hoë Kommissaris se huis.

Kyk hier na Martelize Brink se foto-galery van haar toer na Rwanda