HUISBOOT-DROOM
Belinda Koen, administratiewe rekeningkundige klerk, Melkbosstrand

Die Weskus Nasionale Park is die naaste wat jy in Suid-Afrika aan Griekeland sal kom. Die water is so blou dit slaan jou asem weg. Dit was altyd my droom om in Churchhaven in die Pantoffelkerk te trou. Dié droom is nooit bewaarheid nie, maar toe kry ek ’n nuwe een: Om ’n nag op ’n huisboot in Kraalbaai, naby Langebaan en in die park, deur te bring.

Danksy my man, Willem, ’n retoesjeerder by SARIE, het dit waar geword. Ons het onlangs op ’n pragtige sonskyndag saam met ons elfjarige dogter, Jenna, en vriende op die strand gewag om na die huisboot geneem te word. Soos kinders het ons als bekyk: die hoofslaapkamer met groot vensters alkant van die bed wat jou laat voel asof jy ín die water is, die goed ingerigde kombuis. Oral op die boot het jy die mooiste uitsig op die lagune.

Ons het op die dek gebraai en die sonsondergang beleef met ’n glasie vonkelwyn. Ons het wakker geword met die son oor die water. Die kinders het vis gevang, ons het boek gelees en gehoop dié droom sou nooit eindig nie. Die dag het geëindig met ’n lekker piekniek in die blomreservaat op die strand. Dis ’n ondervinding vol mooi herinneringe.

AFRIKA-SJIEK
Petra Nel, apteker, Linden

Dis baie selde dat jy ’n plek vind waaroor jy móét skryf. Ek en my man, Deon, het op Sebe Sebe Lodge, sowat 70 km anderkant Lephalale (Ellisras), afgekom, en wát ’n wonderlike ervaring. Ons is deur die eienares en haar honde welkom geheet en die lekkerte het begin. Die kamers en familie-eenhede het name soos “Die kooi”, “Die pastorie” en “Die katel”. Die binneversiering het ’n Afrika-tema met ’n anderste kick, en die eetkamer is rooi geverf - dit lyk só goed by die grasdak. Etenstyd hiér is iets waarby ons beste restaurante ’n les kan leer. Voeg daarby die doodse stilte saans wat vir enige bosliefhebber ’n paradys is, en om in die oggendmet ’n visarend se roep wakker te word . . .

 
ZANZIBAR OP 'N VESPA
Marnus Hattingh, motorjoernalis, Kaapstad


Met ’n flou-makou-rand moet Suid-Afrikaners deesdae elders as die Riviera kyk as hulle na ’n salige strandvakansie verlang. Daarom het ek en ’n vriend ons rugsakke gepak en na Zanzibar koers gekies. Dis feitlik heeljaar somer daar en met spierwit strande, goedkoop verblyf en palmbome wat smeek om ’n hangmat te dra kan jy tropiese ervarings soos min beleef. Ons het in Stonetown Vespas gehuur en vir die naaste strandoord gemik.

Soggens het ons die omgewing op ons Vespas verken. Smiddae het ons in die louwarm see baljaar. En as die son horison toe trek, het ons in ons hangmatte teruggelê met ’n drankie en ’n dik leesboek in die hand, en die Afrika-sonsondergang bewonder.