Maar soms werk dit anders. Soms weet jy nie dat jy iets nodig het nie totdat jy dit kry - en dan wonder jy hoe op dees aarde jy ooit daarsonder klaargekom het.

So was dit omtrent ’n dekade gelede met my en my skottelgoedwasser. En nou onlangs weer met my en my enigste Afrikaanse vriendin hier in die vreemde. Nie dat ek my vriendin met ’n masjien wil vergelyk nie. Sy maak minder geraas, om net een verskil te noem, maar soos destyds met daardie rumoerige tweedehandse skottelgoedwasser het ek ook nie vooraf besef ek het haar nodig nie.

Vandat ek in Frankryk woon, het ek nog nooit eintlik moeite gedoen om ’n vriendin te soek nie. Miskien omdat ek so besig was om ander dinge te soek, soos ’n winkel waar ek grondboontjiebotter en gouestroop en ander bekende lekkernye kan koop. Of bloot net die nodige dokumente om die Franse burokrasie te keer om my uit die land te skop.

En ek hét mos vriendinne “by die huis”, oorkant die oseaan, ’n hele string formidabele vroue wie se waarde ek ver bo korale skat. Ek dra hulle ingeryg rondom my hart, elkeen ’n juweel uit eie reg, uniek en onvervangbaar. Ons sien mekaar miskien net een keer per jaar, maar dan vergoed ons vir al die verlore ure. Ons gesels meer as net ’n hond uit ’n bos. Dis sommer ’n hele dieretuin wat uit verskeie bosse gekuier word.

Daarom het ek nie eens agtergekom ek mis ’n vriendin in my alledaagse lewe op die Franse platteland nie - tot die burgemeester van ons dorpie op ’n dag so terloops vir my vra of ek weet van “die ander Afrikaanse vrou” wat hier om die draai woon. Nee, sê ek, en meen hy misgis hom seker. Sy kom waarskynlik van die een of ander Afrika-land, nou noem hy haar Afrikaans. Die meeste van my bure weet nie eens daar bestaan ’n taal soos Afrikaans nie. Die enkele ingeligtes wat al van André P. Brink en deesdae ook Deon Meyer gehoor het, dink die taal wat ek met my kinders praat, word “Afrikaner” genoem.

Selfs nadat monsieur le Maire vir my die vrou se onmiskenbaar Afrikaanse naam neergeskryf het (omdat dit, soos myne, vir hom gans onmoontlik is om uit te spreek), was ek nie haastig om haar te bel nie. Ek is nou eenmaal nie van die soort ekspatriaat wat glo enigiemand wat my taal praat, moet noodwendig my vriend word nie. Die grootste voordeel van vriende, het ek nog altyd gedog, is juis dat jy hulle kan kies. Anders as familie, helaas.

Dit was dus eers ’n hele paar maande later dat ek en “die ander Afrikaanse vrou” mekaar ontmoet het - danksy die burgemeester, weer eens, wat sy wederhalf oorreed het om ons albei vir tee te nooi. En daar, wonder bo wonder, hóú ons van mekaar. Boonop stel ons vas haar oudste en my jongste is dieselfde ouderdom. Met versigtigheid gooi ons toe die twee vyfjariges saam, amper soos chemiese bestanddele in ’n proefbuis, en tot ons verligting volg daar nie ’n ontploffing nie. Mia en Lolo smee onmiddellik ’n hegte band.

Wat seker ook begryp kan word. Hulle behoort tot ’n skaars spesie. Daar’s nie veel kinders in die wêreld wat skewe Afrikaans met ’n perfekte Franse aksent praat nie.

Dis nou anderhalf jaar later - en ek wonder steeds hoe ek amper ’n dekade oorleef het sonder ’n Afrikaanse vriendin. Iemand wat wéét waar ek vandaan kom, sonder dat ek dit hoef uit te spel. Iemand vir wie ek ’n digbundel van Antjie Krog of ’n fles ingelegde groenvye uit my pa se tuin kan gee, sonder enige verduidelikings. Iemand wat tussen die Franse woon en baie van die Franse hou en tog ook soms, soos ek, grénsloos geïrriteer word deur die Franse.

Nou weet ek weer, maak nie saak wat Marilyn Monroe gesing het nie, dis nie diamante wat ’n meisie se beste vriend is nie. Dis net ’n vriendin wat ’n vrou se beste vriend kan wees. Iemand wat haar taal praat. Letterlik en figuurlik.