Ingrid Brunkhorst Hurrell en haar gesin woon  reeds van 1988 oorsee. Vir elf jaar was hulle in Amerika.

In daardie tyd het hulle die geleentheid gehad om deur ‘n sending organisasie vir agtien maande op die Makah Indiane Reservaat in Neah Bay, Washington te woon. Van Neah Bay kan mens Kanada oorkant die Straat van Juan de Fuca sien. Nooit het hulle toe gedink hulle sou eendag self in Kanada woon nie!

Waar woon julle?

Ons woon in Ladner in British Columbia, Kanada.  Dit was aanvanklik ‘n vissersdorp, maar baie van die visfabrieke in die omgewing het lankal toegemaak. Die gebied is bekend vir die dyke wat kuslangs gebou is om die see uit te hou, asook derduisende voëls wat jaarliks in die moddervleie oorbly op hul migrasieroetes. Ons het ‘n lieflike uitsig van Vancouver, noord van ons, met die Cascade bergpieke waar entoesiaste kan gaan ski. Suid van ons is Washingtonstaat in Amerika en op ‘n onbewolkte dag sien mens Mt.Baker. Ons het eers vir amper sewe jaar in Langley gewoon. Dis so 40 km van waar ons nou is. Langley het baie perdeplase en word beskou as “The Horse Capital of British Columbia.” Ek is mal oor perde. Dit was vir my heerlik om in ‘n ou plaashuis op 60 akker in Langley te woon.

My man, Eric. My man, Eric.

Wat doen julle?

My man, Eric, is ‘n siviele ingenieur vir ‘n maatskappy wat te doene het met lughawe-ontwikkeling. Sy kantoor is in Vancouver, maar soms vlieg hy na ander lande vir projekte wat enigiets duur van ‘n paar dae tot ses maande. As ek kan saamgaan, is ek daar! Ons het twee volwasse seuns, Jamie en Dustin. Ek is geregistreer as maatskaplike werker by die BC College of Social Workers.  Ek werk as ‘n berader en het ‘n klein private praktyk by my huis. My groot passie is egter fotografie en skryfkuns en dis waaraan ek meeste van my tyd bestee.

My ma en ek. My ma en ek.

Wat was die moeilikste aanpassing?

Vir my persoonlik is die moeilikste aanpassing dat mens so ver van familie af woon. My broer is in SA, my ma en sus woon in Arizona. Ander familie is versprei oor die wêreld: Duitsland, Oman, Australië, Nieu-Seeland en so aan.

Toe my pa jare gelede oorlede is, het ons in Hawaii gewoon. Ek kon nie betyds by die begrafnis kom nie, toe het ek my eie routyd in Kailua-Kona gehad. Ek het onder ‘n frangipaniboom gesit en huil oor Pa, vir wie ek oor die foon moes groet. Dit het my hart stukkend geskeur. Ek het geel linte om daai frangipaniboom gebind, so terwyl die maan silwersag gestraal het oor die baai.

Wanneer die verlange na familie te erg word of mens net op ‘n dag rêrig lus is vir bietjie Rajah kerriepoeier, Appletizer, fizzers of Ouma beskuit, dan ry mens eenvoudig Serengeti Trading Store toe in Langley!

Lekkerste van daar wees?

Ek hou van alles wat nuut en anders is. Ek is mal oor ander kulture, hul gewoontes, kos, klere, musiek, kuns. Die natuurskoon is ook wonderlik.

Was dit maklik om in te skakel in ‘n nuwe gemeenskap en vriende te maak?

Ons het al in soveel plekke gewoon dat ek soms soos die spreekwoordelike mosklippie voel wat net rol en rol en nooit settle nie. Ons het almal verskillende ervarings as dit kom by vriendskappe in Kanada. Ons oudste is ‘n brandweerman en die broederskap wat in so ‘n brandweerstasie bestaan, het hom onmiddelik deel gemaak van ‘n sterk groep vriende. Ons jongste het deur sy skool vriendskappe ontwikkel – ek dink hy het die maklikste aangepas en Kanadees begin word in sy denke en begrip van die land. Ons is betrokke in ‘n gemeente wat ‘n Suid-Afrikaanse egpaar as leraars het, Andries Basson en Irmari Steyl-Basson. Irmari is van Sewende Laan-faam. Al is dit ‘n Kanadese kerk, is dit tog lekker om ‘n SA pastoor te hê! Ek en my man is bevoorreg om goeie Kanadese vriende in die gemeenskap te hê, maar soos goeie wyn, neem dit ook maar tyd.

Kanada is in die algemeen ‘n kouer land as Suid-Afrika. Kon jy maklik klimatiseer?

Oor dit soveel kouer is hier, is die huise en karre, winkels, skole en kantore natuurlik baie beter ontwerp om die minus temperature te hanteer. Vancouver kan baie grys en reënerig wees. Ons kry bietjie sneeu hier, maar dit bly nie lank op die grond nie. Nie soos in Whistler of  Noord Vancouver se Grousse Mountain waar die sneeulopies is nie.

Ek het een jaar ‘n beradingskontrak gehad om een keer per maand op te vlieg Smithers toe vir ‘n paar dae. Smithers is in die noordelike gedeelte van British Columbia. Lieflike gebied, veral vir mense wat hou van ski. Ons is gelukkig mal oor sneeu en die koue pla ons nie. Eric het ‘n ses maande kontrak gehad in Alberta en moes spesiale werkstewels aankoop wat mens inprop vir ‘n paar uur en dan bly hulle warm vir ses ure. Daar het hy in minus 23º Celsius temperature gewerk. Daar is niks so mooi soos sneeu wat donssag val en alles in ‘n wonderwéreld omskep nie. Lieflik en vredevol vir die siel!

Vertel meer oor jou fotografie.

My liefde vir fotografie het in die 80’s begin toe ek as persfotograaf en redakteur van die personeelblad by UNISA gewerk het. Ek woon graag perdeskoue by om foto’s te neem. So paar jaar gelede was ek deel van die mediaspan vir die Koninklike Toer toe Kate en William Alberta besoek het. Dan woon ek ook graag First Nation powwows by – ek is mal oor hulle regalia en danse en natuurlik die frybread of bannock, wat mens nogal herinner aan ons vetkoek. Verder neem ek soms familie kiekies en ek doen ook graag kunsfotografie. Fotografie gee vir my, nes geskrewe woorde, ‘n manier om my innerlike wese met ander te deel want in ‘n geselskap praat ek nie maklik oor myself nie. Dis makliker om ‘n foto te neem of  ‘n gedig te deel en te sê: “ Kyk bietjie hier. Dis wié ek nou rêrig is.”

'n Sonneblom-land in Ladner. 'n Sonneblom-land in Ladner.