Die mark is bedoel vir die hele gesin en beloof om besoekers die warm gasvryheid van die platteland te laat ervaar. Feesgangers sal hul kooplus kan laat botvier met 'n uitgesoekte reeks van meestal handgemaakte produkte, kunswerke en smullekker koshappies om van te kies en te keur. Sodoende sal hulle ook vroeg reeds kan wegspring met geskenke koop vir die feestyd wat voorlê. Besoekers sal kan peusel aan onder meer vars gebakte produkte, gevulde toebroodjies en sosaties wat selfs die kieskeurigste fynproewer sal bevredig. 'n Keuse van droë vrugte, natuurlike skoonheidsprodukte en vele ander handgemaakte-items sal beskikbaar wees, terwyl lewendige musiekvermaak 'n feestelike atmosfeer skep, en feesgangers die geleentheid gee om 'n glasie Drostdy-Hof te geniet. Stalletjies word opgerig op die terrein van De Oude Drostdy wat van 1807 dateer en vandag die dorp se museum huisves. Kinders sal kan baljaar op onder meer 'n springkasteel.