Jare gelede het ek gesien hoe ’n klomp wilde seuns met ’n kaskar teen ’n skuinste af jaag. Soos te verwagte het hulle beheer verloor en sou daar ’n tragiese einde gewees het as ’n groterige tannie nie die ding van agter beetgekry en letterlik met haar gewig tot stilstand gebring het nie. Ek kon sien sy moes op haar tande byt om nie elkeen ’n verskriklike klap te gee nie.

Elke liewe dag dink ek aan daardie tannie. Elke liewe dag sien ek hoe onbevoegde mense (óf te jonk óf te onervare óf te onverantwoordelik) beheer verloor oor gevaarlike masjiene (óf te groot óf te gevorderd óf te vinnig) en afstuur op ’n besliste ramp.

Orals op die aarde sit slim, slim mense in intimiderende geboue van glas, marmer en chroom. Hulle dra wit uniforms, oorfone en duur skoene, hulle sit op ontwerperstoele en woeker met rekenaars, tangetjies en soldeerboute. Hulle ontdek geheime, vermag die onmoontlike, bereik nuwe hoogtes en vervaardig apparate wat kan toor. Hierdie tegniese ontwikkeling gebeur só vinnig dat ons deesdae selde deur ’n wonderwerk verras word of deur ’n rolprent meegevoer word. Ons het feitlik alles reeds gesien. Of so dink ons. En dis presies hier waar die kaskar omval.

Ongelooflike tegnologie word op ’n niksvermoedende skepsel losgelaat, ’n wese wat eintlik net op soek is na kos, geluk, veiligheid, liefde en blydskap. Hierdie wese het ’n paar jaar gelede nog met ’n knuppel in ’n grot rondgesluip op soek na ’n ding wat hy kan doodslaan en opvreet. Kort daarna is sy bestaan geruk met die ontdekking van die wiel en die maak van vuur.

Hy was nog uitasem van skok, toe kom pruike en politiek. Hy het skaars sy balans gevind, toe is daar elektrisiteit, masjiene wat vlieg en vrylik beskikbare alkohol. Hy is nét sy kluts kwyt toe is daar ’n pakkie sigarette en ’n televisiestel. En nou loop die arme siel rond met ’n selfoon teen sy oor en babbel met enigeen wat asem het.

Elkeen van hierdie tegniese uitvindsels word aan ons oorhandig met ’n handleiding. Die probleem is dat hierdie handleiding bloot die werking van die masjien verduidelik, daar is geen idees of wenke oor die verbruiker nie. Die tegnologie ontwikkel baie vinniger as die menslike ras, nog nooit was die aarde geestelik só vermink en moreel só bankrot soos nou nie, maar ons sit met genoeg bedrading om die planeet te laat ontplof.

Was die lewe sedert die Skepping al ooit so gevaarlik soos nou? Miljoene en miljoene mense, slagoffers van geldsug, wellus, rassisme, wraak, vrees, oordeel, verveling, smart, skuld en misdaad, sit elkeen met sy vinger op ’n knoppie.

Ek voer ’n baie eenvoudige, selfs outydse bestaan. Ek klits room of eierwitte met die hand, pos nog briewe by die poskantoor, was skottelgoed sonder ’n masjien en skryf resepte met ’n potlood op papier. Maar tegnologie het my lewe daadwerklik kom verander, of ek daaraan wil deel hê of nie.

My droom as kunstenaar is nie meer net om my beste te lewer op die verhoog nie, maar om één vertoning te beleef sonder dat selfone die hele tyd lui of arrogante gehoorlede soos blou spoke sit en boodskappies tik. Die internet wemel van vieslike stories en grappies wat aan my toegeskryf word. Duisende e-posse doen die ronde onder my naam. Ek het nog nooit ’n storie geskryf oor spinnekoppe nie, ook nie oor etiket of kleredrag of sarkasme nie. Hoe verduidelik ’n mens sulke morsigheid aan jou familie, peetkinders of liefdadigheidsprojekte? Tegnologie het dit moontlik gemaak dat elke doellose, goddelose, rigtinglose, gewetenlose en hopelose nou uit die donker kruip vir ’n spreekbeurt.

Die oplossing is nie voor die hand liggend nie, ook nie onmiddellik nie. Ek weet wel dat tegniese verantwoordelikheid deel van ouerskap moet word. Dat basiese goeie maniere moet terugkeer. Dat onskuld en vertroue herstel moet word. Tot dan bly ontwikkeling en vooruitgang twee verskillende prosesse.