Shanti Ananda – beter bekend as Mauritius se hemelse wegkruipplek – se spa het vier jaar gelede geopen en het sedertdien baie gesog geraak. Die spa is net nog ’n luukse toevoeging tot die vele toeriste-attraksies wat dié oord die ervaring van ’n leeftyd maak.

Daar is 25 kamers waar jy ’n wye keuse van behandelings en ook tradisionele Indiese behandelings kan ontvang, onder meer Ayurvediese vernuwingsbehandelings.

Shanti Ananda is langs ’n natuurlike strand wat deur ruie tropiese woude omring word – die 14 hektaar tropiese tuine het ’n magiese aantrekkingskrag met private swembaddens en 61 villas en suites. Die strand is boonop een van die bestes op die eiland.

Hier kan julle ontspan in ’n beeldskone omgewing met genoeg vermaak vir almal. Gaste kan bedags by die plaaslike boetieks gaan inloer of aan die wye verskeidenheid watersportsoorte en avonture deelneem. Vir die gholfgeesdriftiges is daar ’n nabygeleë kampioenskap-gholfbaan met 18 putjies, en vir die kinders is daar hope pret-aktiwiteite. Daar’s ’n kinderklub wat onder meer jogaklasse aanbied. En die tienerklub hou die jongklomp besig met dinge soos kajak-seil, snorkel en windplankseil vir beginners.

By Ananda Active word begeleide natuur-avonture aangebied. Kinders kan skilpaaie in hul natuurlike habitat gaan besoek en by die naburige Chamarel-avontuurpark die opwindende natuurroete te voet aandurf.

Shanti Ananda bied ook die perfekte agtergrond vir ’n onvergeetlike trou-ervaring. Alles sal foutloos deur die troukoördineerder gehanteer word om die okkasie vir almal stresvry en onvergeetlik te maak. Dit sluit alles in, van die à la carte-spyskaart, die blomme en musiek tot die versierings.

En hoe klink romantiese aandetes in die maanlig op die strand?

Geurige en outentieke kos word by die oord se twee restaurante bedien. Jy kan smul aan ’n wye verskeidenheid internasionale geregte, onder meer spesialiteite van die lande om die Indiese Oseaan. Daar is selfs spesiale spyskaarte vir die gesondheidsfanatikus.

En in die skemerkelkie-kroeg sal musikante jou vermaak terwyl jy die see-uitsig geniet. Prentjiemooi!

* E-POS res@theholidayfactory.co.za OF BESOEK www.theholidayfactory.co.za

* Holiday Factory is een van Suid-Afrika se voorste toeroperateurs en spesialiseer in ’n verskeidenheid pakkette na eksotiese bestemmings. Ervaar gehaltediens en billike pryse en bespreek jou volgende vakansie by Holiday Factory.