Verjaarsdae is baie belangrik, veral as jy nog ’n kind is. Daar is die opgewondenheid van ’n verjaardagkoek.  Miskien ’n partytjie . . . En natuurlik ’n geskenkpakkie!

Ek kwalifiseer seker nie meer as ’n kind nie, maar my opgewondenheid ken steeds geen perke wanneer ek verjaar nie. Ek sien steeds uit na my geskenkpakkie. En die koek! Almal wat my ken, weet ’n boek is die perfekte geskenk vir my. My leessmaak is so wyd dat enige boek ’n treffer is. Onlangs kry ek ’n elektroniese briefie van Mariette Postma, met ’n hele paar resensies aangeheg. Sy is een van my getroue resensente. Eers is ek effe verbouereerd, want nie een van die boeke is iets wat ek na haar gestuur het nie. Onmiddellik is dit ’n heen-en-weer van e-posse om uit tepluis waarom sy die (welkome) resensies vir my stuur. Toe ek nou mooi agter die kap van die byl kom, besef ek sy het verjaar. En sy het ’n heerlike geskenkpakkie ontvang. Die pakkie was gevul met ’n verskeidenheid boeke. Sy het spesiaal iets oor elk van die boeke geskryf en deel haar geskenkpakkie hierdie week baie vrygewig met ons. Ek hoop julle geniet haar geskenkpakkie soveel soos ek!

Onthou om ons boekwinkel op Kalahari.com te besoek om van die boeke aanlyn te bestel.

Americanah, Chimamanda Ngozi Adichie (HarperCollins, R185)

Die titel beskryf Nigeriërs wat voorgee dat hulle nie meer Joroeba kan praat nie en die laaste lettergreep van “American” uitrek met ’n onduidelike, bygesleepte ‘r’ wat hulle aan die einde van elke woord las.

Die verhaal sentreer om jongmense wat ’n toekoms weg van militêre diktatorskap soek om geld huis toe te stuur. Die twee hoofkarakters, ’n Nigeriese Romeo en Juliet, Obinze en Ifemelu, is dadelik verlief toe hulle op skool ontmoet. Hulle droom (oor ’n toekoms wanneer hulle eendag saam studeer) versplinter wanneer Ifemelu deur omstandighede verplig word om dadelik te vertrek.

Adichie vertel van die moeilike lewens van ontwortelde Afrikane in Amerika, maar ook in Engeland en toon aan hoe desperaat sommige van hulle is om te ontsnap. Sy wys ook op hulle aanpasbaarheid in die vreemde, met baie kostelike vertellings tussendeur.

Ifemelu se blog-inskrywings verleen filosofiese diepte aan wat andersins net ’n baie sensitiewe vertelling sou wees van ware liefde oor dekades en kontinente heen met ‘n interessante kykie in die lewens van Nigeriërs. – Mariette Postma

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Cry baby, Lauren Liebenberg (Penguin, R240)

Liebenberg beskryf die lewe van ’n jong, welvarende gesin in voorstedelike Johannesburg met die daaglikse vreugdes en hartseer, oorwinnings en nederlae. Sam, die jongste, toets Michael en Grace se geduld, maar verstom hulle gereeld met sy interessante benadering tot die lewe. Sy angs in die nag maak die ouers egter toenemend moedeloos, veral sy gesprekke oor die onsigbare dogtertjie wat hom so tart.

Tussen die ander ma’s voel Grace vaal en onversorg vanweë hul beheptheid met voorkoms. Sy is diep besorgd oor haar jongste se vreemdheid wat nie opklaar nie en bevraagteken haarself al meer, omdat sy hom nie kan gerusstel nie.

Wanneer ’n eksperiment van die kinders ’n krisis veroorsaak, word Sam se ouers gedwing om hulle byna perfekte lewens in oënskou te neem. Die verhaal herinner aan haar vorige twee boeke, The Voluptuous Delights of Peanut Butter and Jam en The West Rand Jive Cats’ Boxing Club, omdat sy Johannesburg so doeltreffend intrek as die omgewing waarin dit afspeel. - MP

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

The good luck of right now, Matthew Quick (Pan Macmillan, R308)

Bartholomew Neil sukkel om selfstandig en sinvol te leef sonder sy ma, wat hom beskerm het teen die wrede wêreld daarbuite. Die ander standvastige teenwoordigheid in sy lewe was die Katolieke Kerk, veral Vader McNamee se gereelde besoeke. Maar hy val ook uitmekaar net toe Bartholomew hom die nodigste het. Sy ma se teorie oor geluk wat altyd balanseer met iemand anders se hartseer, werk in sy guns wanneer hy deur sy nuwe vriend, Max, die biblioteekmeisie van sy drome ontmoet. Hulle drie en Vader McNamee onderneem ’n reis na Kanada op soek na Bartholomew se pa en die katparlement. Die hoofkarakter skryf briewe aan Richard Gere en vra sy advies oor alles wat hy nie verstaan nie, soos geloof, Jung en die Dalai Lama, katte se telepatiese verstaan van mense, die onbegryplikheid van vroue. Die verbintenis met Gere word eers later in die verhaal duidelik. ’n Amusante, bittersoet, maar veral boeiende roman oor verantwoordelikheid en vriendskap. – MP

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Love Anthony, Lisa Genova (Simon & Schuster, R144)

Lisa Genova, ’n neurowetenskaplike, het ook Still Alice en Left Neglected geskryf en sy slaan weer die leser se asem uit. Hierdie verhaal gaan veral oor onvoorwaardelike moederskap, vriendskap en outisme. Olivia woon in Nantucket, waar sy niemand ken nie en haar seun Anthony hartstogtelik mis, maar ook haar man David. Die agtergrond word mettertyd gegee, om die beurt met die verhaal van Beth en haar vriendinne. Die verskeurdheid wat egskeiding veroorsaak word Genova-styl baie eg vertel, met die fokus op vroue se hartseer en hul belewing van verwerping. Die storie het ook baie vrolike momente wat veral deur kinders geskep word. Oningeligtes oor outisme word verras met die begrip en dierbaarheid waarmee hierdie kinders vorendag kan kom. Die donker kant hiervan word ook vreesloos uitgebeeld in al sy skelheid, wat lesers laat besef watter uitdagings outisme aan ’n ouer stel. Amper onmoontlik om toe te maak voordat jy klaar gelees het. – MP

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

The invention of wings, Sue Monk Kidd (Headline, R216)

Hetty Handful se rebelse ma Charlotte verduidelik hoe haar skouerblaaie vantevore vlerke was, mense in Afrika kon vlieg en belowe dat sy dit ook sal regkry. Charlotte vertel haar dogter saans van hulle stories in haar kwiltwerk, waarvoor sy die materiaal en garing by haar werkgewer steel. Die swart driehoekies stel voëls in vlug voor, wat later manifesteer in die lewens van beide Hetty en Sarah.

Op elf jaar kry Sarah Grimké vir Hetty in laventellint toegedraai – ’n geskenk wat sy

weier. Hulle twee word gedwing om baie tyd saam te spandeer en Sarah leer Hetty, teen alle reëls in, om te lees en skryf. Sarah en Hetty word gedwing in ’n verhouding van slaaf/eienaar.

Sarah sukkel die res van haar lewe om te praat, nadat sy as kind aanskou hoe ’n slaaf ‘gestraf’ word en sy word later ’n pionier vir vroueregte en die afskaffing van slawe. Hulle albei raak eers vry as hulle daarin slaag om hul pyn te verwoord. - MP

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

The signature of all things, Elizabeth Gilbert (Bloomsbury, R384)

Gilbert se boeiende historiese roman oor veral vroue, botanie en navorsing sentreer om Beatrix van Devender, ’n begaafde botanis van Nederland wat na Philadelphia verhuis. Haar oujongnooihart word verower deur Henry Whittaker, ’n Brit wat skaars plante versamel en verkoop.

Hul dogter Alma is nie mooi nie, maar baie slim en deeglik geskool deur Beatrix. Tragiese omstandighede, bring ’n suster, Prudence met wie sy nooit ’n goeie verhouding aanknoop nie. Alma reis later na Tahiti en Nederland, waar sy belangrike persone ontdek wat haar lewe vorentoe ten diepste beïnvloed.

Die titel van die verhaal kom van Boehme wat geglo het dat alles ’n handtekening het wat verborge is in die ontwerp van elke blom, blaar, vrug en boom op aarde. Medisinale plante lyk volgens hom na die siekte wat hulle kan genees, soos die lewervormige blare van ’n basilieblaar die goddelike, magiese ‘imprimatur’ van ’n lewer het.

’n Besondere verhaal wat fassinerend vertel word. - MP