Miskien was dit die voorblad wat my aangetrek het met hierdie een, of dalk was dit omdat koffie in die titel genoem word. Ek moet by sê, die voorblad is nie uitsonderlik mooi nie. Ek het ‘n vriend wat my smaak soms beskryf as eklekties, en dis dalk waarom die spesifieke voorblad my aangetrek het. Ek weet net dat die boek een was wat ek moes lees, net weer om bevestiging te kry van hoe waardevol vriendskap in mens se lewe is. En dat almal van ons ‘n geheim het, en dikwels is dit beter vir jou om daardie geheim te deel met intieme vriende. Dis deel van die proses van genesing. Die onverwagse boek wat op my lessenaar beland het, is The Little Coffee Shop of Kabul. Meer oor die boek hieronder.

Onthou om ons elektroniese winkel op kalahari.com te besoek om die boeke aanlyn teen afslagpryse te bestel.

The Little Coffee Shop of Kabul, Deborah Rodriquez (Sphere, R138,91)

Vyf vroue, Sunny, Yasmina, Isabel, Candace en Halajan kom bymekaar uit by ‘n klein koffiewinkel in Kaboel. Elkeen van hulle het ‘n geheim en deur die loop van die verhaal, soos wat hul vriendskap met mekaar ontwikkel, kom die geheime ook uiteindelik op die lappe. Dis ‘n verhaal oor vriendskap en hoe dit die een ding is wat dié vroue van verskillende nasionaliteite, ouderdomme en agtergronde saambind. Uit elkeen se verhaal kry jy ook insig oor hoe buitelanders ‘n invloed op die mense van Afghanistan het. Deur Halajan en Yasmina se oë leer jy watter struweling dit kan veroorsaak, omdat die invloede dikwels indruis teen die kultuur en gewoontes van die land. Dikwels hou hierdie struweling verband met die liefde, want in dié land is daar baie spesifieke reëls oor verhoudings tussen mans en vroue. Rodriquez het voorheen in Kaboel gewoon en dis duidelik dat sy die land en kultuur ook goed ken uit die beskrywings in hierdie verhaal. Ek het die boek terdeë geniet, omdat dit so eg menslik is en mens nie anders kan as om empatie te hê met die karakters nie. -  Phyllis Green

2Jane Eyre, Charlotte Brönte (Publishers Group Worldwide, R189)

Dié klassieke boek is my gunsteling roman deur die Brönte-susters. Jane Eyre is ’n weeskind wie se oom en tannie haar saam met hul eie kinders grootmaak. Nadat haar oom sterf, stuur sy vrou, wat Jane nie kan verdra nie, haar na ’n skool wat haar as ’n goewernante oplei. Jare later gaan werk Jane vir Edward Rochester as sy pleegkind, Adèle Varens, se goewernante op die Thornfield-landgoed. Jane en Meneer Rochester raak verlief, maar is die geraamtes in sy kas genoeg om die onskuldige Jane vir ewig weg te dryf?En wie is verantwoordelik vir die misterieuse gebeure wat op Thornfield afspeel? Dié klassieke gotiese roman is genoeg om jou laataand te laat wonder oor die krake in die dak . . . Met ’n pers leeromslag, gegraveer met aanhalings en karaktername uit die boek, laat Canterbury Classics se nuwe uitgawe van dié roman jou voel of  jy self in die 1840’s leef. -Elmari de Vos

3Alice Brown's Lessons in the Curious Art of Dating, Eleanor Prescott(Quercus, R103)

Soms wonder mens of daar regtig na jou omgesien word wanneer jy aansluit by 'n huweliksmakelaar-agentskap.  As jy gelukkig is en by Alice van die agentskap, ''Table for Two'',  beland kan jy verseker wees dat sy geen steen onaangeroer gaan laat om jou perfekte pasmaat te kry nie.  Haar baas, Audrey, is 'n oujongnooi en baie kil en afsydig teenoor Alice.  Sy vermy haar ten alle koste, omdat Alice nie in die prentjie pas van die maat-soek professie nie.  Alice is 'n regte dromer en glo in die ''happy ever after'' . Daarom maak sy seker sy kry die perfekte pasmaats bymekaar uit.  Kate, een van haar kliënte, is desperaat en is ten minste al 5 jaar agter met haar lewensplan.  Gaan Alice vir haar die perfekte pasmaat opspoor?  Tussendeur is daar nog jaloesie en rugstekery wat kop uitsteek tussen die verskillende  agentskappe.  – Jenny du Toit

4Mothers & Daughters, Kate Long (Simon & Schuster, R125)

Carol is een van daardie vrouens wat altyd probeer om die regte ding te doen. In die proses word sy misbruik en haar gevoelens word vertrap.  Haar dogter, Jasmine oftewel Jaz, manipuleer haar ma. Sy ignoreer haar ma se gevoelens en huiwer nie om haar verbaal seer te maak en af te pers nie.  Carol verdra ook haar man se mislike geaardheid totdat sy besluit sy het genoeg gehad. Een goeie ding wat Carol wel doen is om van Phil te skei wanneer hy begin rondloop en buite-egtelike verhoudings aanknoop.  Matty word gebore en Carol stort al haar liefde uit op haar kleinseun. Met hierdie nuwe toevoeging tot haar lewe word sy die kans gegun om nie weer foute te maak nie.  Mens wonder tog of  dit waar is dat die geskiedenis homself herhaal wanneer Ian, Jaz se man, ook gaan soek na groener weivelde.  Wat die boek nogal interessant maak is die deurlopende aanhaal van fotos uit Carol se lewe.  Waar en deur wie dit geneem is en die impak wat dit in daardie stadium op haar lewe gemaak het. – Jenny du Toit

5Seisoen van Vergifnis, Alta Cloete (LAPA Uitgewers, R175)

Die vyfde boek in die Geur- en Seisoen-reeks. Enkelouer Amanda en haar stiefbroer Wim is albei op die spoor van hul biologiese pa’s. Hulle was gelukkig om Herman en Vivien as ouers te hê, maar Herman is nie hul biologiese pa nie. 'n Pasiënt van Amanda is vermoedelik haar pa. Daar is sondes in almal se verledes. Amanda se seun ken sy biologiese pa, maar hy wil ’n rolmodel soos Wim hê. Voorheen hetAmanda Wim se liefde verwerp. Hy het  in Noorweë gaan werk en woon, en daar 'n nuwe liefde gevind. Nou worstel hy en Amanda opnuut met hul gevoelens vir mekaar.

Seisoen van vergifnisondersoek die liefde en menseverhoudings. Die dialoog oortuig en dit is 'n goed geskryfde, ligte leeservaring.  - Malene Breytenbach

6Skrikkelmaan,  Bets Smith (LAPA Uitgewers, R165)

Is Beaté se pa se dood regtig 'n ongeluk?  Daar is nie eers kans om behoorlik te herstel ná die dood van haar geliefde pa,  Armand Sonnekus nie, want sy moet Sonsoeker Ondernemings oorneem.

Dis baie stresvol en sy word 'n maklike prooi vir 'n kriminele fortuinsoeker, Gary, wat hom voordoen as 'n mediese dokter.  Beaté  raak al meer betrokke by Gary, en sommer baie vinnig spin hy 'n web om haar van vals simptome en nog valser prognoses. Hy is geweldig oortuigend en kort voor lank glo sy haar pa leef nog!

Met vals x-traal fotos word sy oortuig dat sy 'n breingewas het. Kan dit die oorsaak wees dat sy knaend so siek voel, floutes kry en stemme hoor? Haar aantreklike buurman ontferm hom oor haar en sommer gou voel hulle meer as net vriendskap vir mekaar.

Durf Beaté hom hoop gee op 'n toekoms saam as sy al hoe meer versleg en binnekort gaan sterf? –Jenny du Toit

7The Jewels of Manhattan, Carmen Reid(Corgi Books, R115)

Is dit moontlik dat die drie Jewel susters van Texas juweeldiewe kan wees?  Beeldskone Sapphire het Grace Kelly as ikoon, Amber is die selfstandige sussie en Em, kort vir Emerald, is die rabbedoe wat altyd op die uitkyk is vir opwinding.

Hulle verhuis na New York nadat hul pa skielik sterf en hulle ‘n plan moet maak om die verband op hul plaas in Texas af te betaal. Die susters deel 'n klein woonstelletjie.  Sapphire kry werk as die persoonlike assistente van 'n afslaer van antieke juweliersware.  Amber en Sapphire is ooggetuies tydens 'n juwele diefstal en ontmoet so vir speurder Jack Desmoine. Die aangetrokkenheid wat hy en Amber teenoor mekaar voel, raak later so ietwat problematies. Em raak op 'n heel ongewone manier betrokke by die diefstal van baie belangrike juwele by Sapphire se werk. Teen haar sin word Amber ook hierby betrek. Hulle word gedwing om te vlug, en baie vernuftige planne moet bedink word. Gaan hulle daarmee wegkom? – Jenny du Toit

8Tigers in red weather, Liza Klaussmann(Picador, R178,85)

Nick en Hughes se huwelik lyk vir almal perfek.  Maar Nick is meeste van die tyd emosioneel verwyderd en half onbereikbaar.  Sy wou altyd meer uit die lewe gehad het en wou groter hoogtes bereik.  Hughes het weer sy eie geheime wat hy nie met Nick kan deel nie. Maar hy bly deurentyd die perfekte gentleman.  Hy probeer alles op die oppervlak perfek hou en aanvaar Nick se afsydigheid.  Nick en haar niggie, Helena, is geweldig geheg aan mekaar, maar daar is krake in hul verhouding wanneer Helena met die verkeerde man trou. Sy word heeltemal deur hom gemanipuleer en hy takel haar emosioneel en verbaal af. Hul seun, Ed, pleeg later in die verhaal moord.

Nick en Hughes se dogter, Daisy, is 'n jaar jonger as Ed en die teenpool van hom.  Hulle word saam groot en Daisy is uiteindelik die enigste mens wat Ed verstaan en regtig na hom luister.  Ed is wreed en sluip gedurig rond, loer mense af of luister in op gesprekke. Wanneer Daisy besluit om met Tyler, 'n jeugvriend, te trou besluit Ed om in te gryp.  Hy wil nie Daisy sien seerkry nie, maar sy plan misluk in die uitvoering daarvan. ‘n Verhaal vol intriges en drama wat fokus op verhoudings.  – Jenny du Toit

9The Truth About Melody Browne, Lisa Jewell (Century, R225)

Toe Melody Browne nege jaar oud was het sy alles in ’n vuur verloor.  Haar huis, haar geheue, alles. Op vyftienjarige ouderdom raak sy swanger en nadat haar ouers ‘n ultimatum aan haar stel, loop sy weg saam met die pa van haar kind. Op twee-en-dertig jarige ouderdom, na ’n ontmoeting met ’n hipnotiseur, begin Melody terugflitse kry van ’n verlede waarvan sy niks weet nie. Brokkies hier en daar, plekke wat bekend lyk en voel. Sy besluit om ’n bietjie dieper te delf en ontdek dat die Melody Browne wat sy gedink het sy was, nooit werklik bestaan het nie. ’n Prentjie vorm van ’n jong dogtertjie wie se lewe alles behalwe gelukkig en sorgloos was, maar tog nooit toegelaat het dat haar omstandighede haar onder kry nie, tot die aand wat haar huis afgebrand het. Die storie wissel tussen die verlede en die hede, maar is maklik om te volg en jy verloor nie die draad van die storie met die rondspringery nie. Gelukkig het dié storie 'n gelukkige einde, want Melody Browne verdien ’n gelukkige einde. - Esmé Blackburn

10Whatever it takes, Adele Parks (Headline Review, R175,95)

Eloise Hamilton besluit om haar geliefde Londen te verlaat en saam met haar man in die klein Engelse dorpie van Dartmouth te gaan bly. Só hou sy haar skoonma Margaret ook gelukkig, en sy het darem nog haar vriendin Sara in Londen om haar op hoogte van sake te hou. Min weet Eloise dat haar lewe met dié skuif net meer ingewikkeld word. Margaret en Sara het hul eie probleme en Eloise word by hierdie vroue in haar lewe se hartseer betrek. Margaret se gesondheid is besig om agteruit te gaan en die kans word al groter dat sy die geheim wat sy al haar lewe probeer wegsteek verklap. Intussen is Sara se behoefte aan ’n baba so groot dat dit haar dryf om risiko’s te neem sonder dat sy dink aan die gevolge daarvan. Eloise besef dat sy die enigste een is wat almal bymekaar hou en soos wat sy probeer om almal te help, word iemand baie belangrik afgeskeep.

Op eerste oogopslag lyk Whatever it takes dalk na ’n ligte lees, maar die emosie en deernis waarmee Adele Parks skryf maak dit alsbehalwe. – Liesl du Toit