Maar nie versigtig genoeg nie, jy maak gereed om te koes.

“Wat bedoel jy?! Van voor of van agter?!” vra sy met ’n dun stemmetjie en uitroeptekens.

“Nee,” probeer jy die botsing versag, “van die kant af.”

Sy laat val haar mes en vurk op haar bord en sê nou’t jy haar eetlus bederf. Sy weet sy’t die Krismisvakansie dalk meer as gewoonlik feesgevier, maar dit kan nie só erg wees nie, want sy voel dit nog nie aan haar klere nie. (Dis waar ’n vrou bewus word van haar lyf. ’n Man het nog lank nie agtergekom sy’s 10 gram mooier nie, dan voel sy dit al aan haar klere. ’n Knap verskoning om nuwe klere te koop, een of ander tyd pas niks mos meer nie, en 10 gram maak immers ’n groot verskil.)

“Maar net verlede maand het jy gesê jy wil net nie soos ’n bus lyk nie en ek moet vir jou sê as jy soos ’n bus begin lyk!”

“Ja, toe sê jy ek lyk soos ’n Lamborghini. En net omdat ek gesê het jy moet vir my sê as ek soos ’n bus lyk, beteken nie jy moet dit sê nie!”

(?)

“Nou maar dan sal ek niks weer sê nie,” troos jy. “Buitendien, ek’t jou uitgevang. Dit was net ’n grappie.”

Blaasoppie, so die grappie help niks.

Daar’s sekere dinge, sê sy ernstig, waaroor ’n mens nie grappies maak nie, en ’n vrou se gewig is een daarvan. Nóú voel sy dit aan haar klere en jy behoort dit teen dié tyd ook te weet. Die probleem is: Gewig gaan sit nie in ’n vrou se klere nie, dit gaan sit om haar heupe.

“Maar jy’s so lig soos ’n roos,” sê jy met die oog op Valentynsdag. “Jý behoort dit tog te weet. Of te voel.”

“Jy beïndruk my nie, ek weet wat ek weet!”

Haar klere het dit vir haar gesê ... en sy glo haar klere eerder as vir jou. Jy vra dus nie of sy poeding wil hê nie. Sy sal wel later ’n bakkie jogurt (laevet) met ’n teelepel betig/aanspreek/voor stok kry, tik-tik asof die jogurt iets verkeerds gedoen het.

“Het jy rêrig net ’n grap gemaak?” vra sy terwyl sy tik-tik met die teelepel teen die binnekant van die jogurtbakkie. “Oor die bus van die kant af gesien?”

“Ek het maar net jou been getrek, ja.”

Wel, tik sy met die teelepel voort, rammelend soos donderweer: “Hoekom het ek dan niks aan my been gevoel nie?”

Jy weet nie wat die regte antwoord onder die omstandighede sal wees nie.

“Sal dit help as ek sê jy’s so ver van ’n bus af soos ’n kruiwa van ’n Ferrari?”

“’n Kruiwa? Nou vergelyk jy my met ’n kruiwa! Wat kan ’n mens miskien met ’n kruiwa doen?”

Jy sê liewer niks nie, al ken jy die antwoord.

“Ek dink beslis nie dis snaaks nie!” sê sy met nog ’n uitroepteken terwyl sy die jogurtbakkie per ongeluk te hard neersit. “Ek gaan in die spaarkamer slaap!”

Maar jy’s reg daarvoor.

“Wag vir my, ek kom saam!” sê jy. Jy’t immers jou eie uitroepteken.

In die spaarkamer, aan albei kante van die bed, staan twee dosyn welriekende rose op sulke máér steeltjies. Sy blaas net daar af.

“Jou doring!” sê sy.

Met ’n uitroepteken.