’n Matriekafskeid, ware liefde en Charlize Theron se Oscar (én natuurlik daardie rok) is 'n wenresep vir ’n treffer-fliek. Só skryf Fanie Cronjé, SARIE se styl- en sosiale redakteur, oor die nuutste Afrikaanse fliek Hollywood in my huis

Fanie was gisteraand by die première van dié langverwagte fliek by Killarney Mall in Johannesburg.

Plaaslike bekendes het pragtig op die rooi tapyt (wat terloops swart was gisteraand) gelyk. Leandie du Randt, wat in die fliek speel, en haar verloofde (Bouwer Bosch) het in hul ou skoolklere opgedaag om by die matriekafskeid-tema te pas. Vilje Maritz, Louw Venter, Nicola Hanekom en Elana Afrika-Bredenkamp, is almal deel van die rolverdeling en het geskitter by die geleentheid.

Hollywood in my huis se jong akteurs Edwin van der Walt en Christia Visser speel vir die tweede keer teenoor mekaar ná die sukses van Ballade vir 'n Enkeling.

Regisseur Corné van Rooyen het tien jaar lank aan dié projek gewerk. Hy is getroud met Rene van Rooyen wat gehelp het met die draaiboek en vervaardiging van Hollywood in my huis. Sy was ook die regisseur van Mooirivier en die nuwe seisoen van Getroud Met Rugby.

Hollywood In my huis begin Vrydag 26 Junie 2015 landwyd in teaters draai.

Hier is rooitapytfoto's van die aand

Lees ook