Bang om mense wat lief is vir my teleur te stel.

Wat presies my op so ’n jong ouderdom hierby laat uitkom het, weet nugter. Maar sou jy my vandag dieselfde vraag vra, sal ek antwoord: In spoke glo ek nie, vir die donker is ek nie meer bang nie, vir spinnekoppe gril ek, en vir slange is ek vrekbang.

En teleurstelling?

Híérvoor het ek steeds ’n heilige vrees. Die hele lot: Om myself teleur te stel, om ander teleur te stel en ook om deur ander teleurgestel te word. Dis die hopeloosheid van die situasie wat my vang. Want wat doen jy met ’n emosie wat soos ’n mes deur jou sny? Hoe gemaak wanneer jy iemand wat in jou gló, teleurstel? Wat sê jy as iets of iemand waarop jy ten volle staatmaak, jou teleurstel? En dan praat ek nie eens van eie teleurstelling nie. Hoe leeg is daardie emosie nie?

Tog is teleurstelling deel van die lewe. Ons stel hoë eise aan onsself, en ons weet ander maak op ons staat. Maar ons is feilbaar ... Ons vertrou op ander om hul deel te doen, maar so dikwels leer ons op die harde manier dat daardie deel van die ooreenkoms nie nagekom gaan, of kan word nie.

Kenners sê saam met erge teleurstelling kom emosies van skok, woede en wanhoop. Daar’s ’n gevoel van verdwasing en intense verlies. Só werk teleurstelling in alle verhoudinge: intieme verhoudings, vriendskappe, verhoudinge in die werkplek.

Net verlede maand het ek ons opwinding oor SARIE KOS as ’n nuwe, losstaande tydskrif met jou gedeel. En terselfdertyd vertel van SARIE se trotse geskiedenis sedert 1949 toe die tydskrif vir die eerste keer op die rak beland het - spesiaal vir die Afrikaanssprekende vrou. Soos verwag, het SARIE in 58 jaar baie voor- en teenspoed beleef. Ook teleurstellings.

Uit die staanspoor was daar ’n geheen en weer oor of die tydskrif weekliks, tweeweekliks of maandeliks moes verskyn om te oorleef in ’n veeleisende mark. Mettertyd was dit ’n warm wedloop tussen Afrikaanse vrouetitels; toe ook die stryd teen die oormag van al meer Engelse en internasionale tydskrifte. Ons moes lesers bly wys local ís lekker, en adverteerders oortuig dat Afrikaans altyd bo is - dat niks die emosie klop om in jou hartstaal te lees nie. SARIE was selfs verbied - en dít oor ’n artikel oor die G-kol!

Maar die grootste teleurstelling nóg in my joernalistieke loopbaan van twintig jaar en meer was die onlangse skoknuus dat daar in ’n afdeling van Media24 Vrouetydskrifte met die sirkulasiesyfers van 7 vrouetitels geknoei is. SARIE is een van hulle. Hoewel hierdie afdeling absoluut niks met my as SARIE-redakteur, of met ons as SARIE-redaksie te doen het nie, voel ek en my span verraai en verneder. Verraai omdat ons op ander vertrou het om op te tree in die beste belang van ons tydskrif. En tot in die grond toe verneder omdat SARIE in die proses waardevolle adverteerders en lesers teleurgestel het. Ons huil oor ons integriteit wat geknou is, want niks is vir ons kosbaarder nie.

Hoe verwerk ’n mens ’n teleurstelling soos dié?

Elkeen het seker ’n eie manier. Maar ons almal weet dit vra veral tyd. Tyd om te besin en dinge weer in perspektief te kry. Om weer vertroue in ander te bou. Tyd om te wys dat ons as SARIE en as Media24 ook dié ontnugterende teleurstelling sal oorkom en opnuut ander se respek sal verdien, omdat ons gló in ons mark, in onsself en in wat ons doen. Ons vind berusting in die wete dat Media24 nou als doen om die saak reg te stel.

Op die ou end is die lesse wat uit teleurstelling geleer word sekerlik belangriker as die teleurstelling self.

Groete
 
Michélle van Breda

SARIE  November 2007