Deesdae word baie klem gelê op duur skoonheidsbehandelings wat vroue minstens sóveel keer per maand moet hê. Ek ken ’n hele paar vroue wat nie sulke skoonheidsessies kan bekostig nie, maar tog so straal van vroulikheid dat hulle dit net nie kan wegsteek nie. My een vriendin met die sagte hande en glinsterende hare het ’n warm hart wat net wil géé. Sy lag oor haar nuwe plooitjies, en die dag as sy ’n skoonheidsbehandeling nodig het, hou niks haar terug nie. Sy doen dit behoorlik, en vier haar vroulikheid met komkommerskywe op die oë, ’n borrelbad en ’n glasie vonkelwyn!

Sonder om afgeskeep te voel tussen vriendinne wat wel al die luukses kan bekostig, lig sy eerder haar kop, glimlag met oorgawe, en fluister dan saggies in my oor dat haar helderpienk lipstiffie ’n geskenk van SARIE is.

Sy voel soos ’n million dollars!

Ek besef opnuut: Om goed versorg te wees en fantasties te voel hoef jou nie jou hele salaris te kos nie. Niks keer jou om elke dag vrouwees behoorlik te vier nie.


Elaine Coetzee, Knysna