Toe sy ‘n aanbod gekry het om daar vir die aanlynmaatskappy, Sussex Directories te gaan werk, het sy haar nie twee keer laat nooi nie.

Sy deel bietjie meer oor haar doen en late en die Kaaiman-eilande.

My broer, Charles Frank, is uitvoerende bestuurder van Sussex Directories en het my ‘n pos aangebied as databasis administrateur. Ek het dadelik gekom. Sussex Directories hanteer die aanlyngids van die tydskrif, Psychology Today. Die tydskrif is apart, met sy kantoor in New York.  Ons almal wat vir Sussex Directories werk, is wyd verspreid, maar is heeldag op e-pos en skype beskikbaar om te kommunikeer met kliënte wat vir die aanlyngidse wil inteken.  Ons het kollegas in New York, Kalifornië, Nicaragua, Oregon, en dan natuurlik hier in die Karibiese eilande! Ons kliënte kom van die 50 state van Amerika, en Kanada.  So ons kan woon net waar ons wil, ons het letterlik net 'n rekenaar en goeie internet nodig! Ons behartig die aanlyngidse van 'Psychologytoday.com', 'Healthprofs.com' en 'Buildingpros.com'. Die gidse is vir professionele mense wat in die spesifieke velde werk, soos sielkundiges en welsynwerkers, tandartse, chiropraktisyns, argitekte en ander mense in die boubedryf.

Ek woon op Grand Cayman, die grootste van die 3 eilande wat die Kaaiman-eilande uitmaak. Grand Cayman is min of meer 35 km lank en die wydste punt is 13 km breed.

Ek kom van die Strand af.  Die leefstyl was nie eintlik 'n aanpassing nie – ek het basies op die strand grootgeword!  Ek't in Pretoria geswot, daar gewoon vir 'n paar jaar, en was toe vir 10 jaar in Johannesburg.

Al nadeel van die Karibiese eilande is dat hier nie eintlik seisoene is nie. Dis warm of BAIE warm. Dan is daar natuurlik die kans vir natuurrampe, soos Hurricane Ivan wat in 2004 hier was.

Ek was 'n aktrise in Suid-Afrika en het hier aangesluit by die Playhouse, net om darem sane te bly. Ek  was al in 3 vertonings, was ook al in vier advertensies en het 'n rolprent voltooi. Ek sing ook in die Kaaiman Nasionale Koor en het al opgetree saam met plaaslike groepe vir jaareindfunksies.

Ek's nogal avontuurlustig en is mál oor reis en het van hieraf al gereis na Kuba, New Jersey, New York, Orlando en Tampa. Ek het ook al 'n 'road trip' vanaf Miami tot in New York gedoen. Ek't wonderlike vriende, en my broer, sy vrou en 2 kinders is darem mos ook hier. Ons ouers, vriende en familie het al kom kuier.

Ek verlang natuurlik baie na my ouers en jonger broer in Suid-Afrika. Dankie tog vir skype! Kaaiman is natuurlik baie duur, want alles moet ingevoer word.

jolly_roger_met_sonsondergang_630w Foto: Verskaf

Die 'Jolly Roger' seerowerskip met sonsondergang. Die skip is ‘n replika van ‘n sewentiende eeuse galjoen. Dis heerlik om met die boot te gaan seil en drankies te drink met sonsondergang.

So lyk ‘Stingray City’. Ek  soen 'n pylstert by die gewilde 'Stingray City', 'n groot sandbank in die middel van die see waar almal uitklim en saam met pylsterte swem.

swem_saam_dolfyne_630w Foto: Verskaf

Saam met 2 dolfyne by 'Dolphin Cove', ‘n natuurlike strandmeer waar mens saam met die dolfyne kan gaan swem.

standbeeld_300w Foto: Verskaf

Die “prospect memorial” beeld ‘n deel van George Town se geskiedenis uit. In die agtergrond sien mens die  'Peace Memorial'. Hier is nogal heelwat standbeelde wat dele uit die geskiedenis verteenwoordig.

nasionale_museum_300w Foto: Verskaf

Die Nasionale Museum in die middel van George Town. Dis die oudste gebou in die Kaaiman-eilande en was deur die jare gebruik as tronk, hof, danssaal en poskantoor.

Vanuit die observasietoring by Camana Bay op die westelike punt van die eiland  kry mens 'n 360 grade uitsig.Seilbootjies by Camana Bay se hawe. Watersport is baie gewild hier en mens kan bootjies en ander vaartuie huur.

ligtoring_300w Foto: Verskaf

Die 'Lighthouse at Breakers' in die ooste van die eiland is ‘n baken op Grand Cayman. Die oorspronklike gebou is in 2005 gerestoureer en word as ‘n restaurant en kroeg bedryf.

afstandborde_300w Foto: Verskaf

Kyk, Afrika word ook genoem!