“Oscar Pistorius is nie ’n monster nie, maar eerder ’n tragiese held. Hy is ’n komplekse mense met veelvuldige fasette in sy persoonlikheid.”

Dis die gevolgtrekking wat John Carlin in sy boek, Chase Your Shadow:The Trials of Oscar Pistorius (Penguin, R275) maak. Dit was een van die moeilikste boeke wat hy al geskryf het, sê Carlin, want hy wou nie net oor die hofsaak skryf nie. Hy wou eerder soek na redes waarom so ’n tragiese gebeurtenis soveel mense so intens geraak het en waarom Oscar onmiddellik die monster geword het. Stukkie vir stukkie word al die verskillende fasette van Oscar se lewe aan hom onthul deur die verskeidenheid mense met wie hy regoor die wêreld onderhoude gevoer het. Uiteindelik skilder hy ’n portret van ’n man wie se openbare beeld van bravade, mannemoed, vrygewigheid, sjarme en ambisie teenstrydig is met die Oscar wat eintlik sukkel met onsekerheid, weerloos voel en boonop ’n plofbare humeur het.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Dis ’n boeiende verhaal van iemand wat die beste van ons almal in Suid-Afrika verteenwoordig het, iemand wat ons trots gemaak het en goed laat voel het deur sy sukses. Daarom is die teleurstelling en woede soveel groter wanneer hy met een tragiese en gewelddadige daad ons platvee en herinner dat alles in die land nie altyd mooi, goed en iets is waarop ons trots kan wees nie.

Die belangstelling in die hofsaak plaaslik en internasionaal was ongekend en oral was dit ’n gesprekspunt. Het jy dit ook so ervaar?

Beslis. Selfs in Parys het een van die televisiestasies daar ’n opname gedoen oor 2014 se grootste stories en Oscar Pistorius was een daarvan. Dit sê baie, want die Franse het nie eens die saak gevolg nie, omdat dit in Engels uitgesaai is. My boek word uitgegee in Italië, Spanje, Duitsland, Holland, Pole, sowel as die Verenigde State, en in al die lande is daar belangstelling in die hofsaak. Gedurende die 18 maande wat ek aan die boek gewerk het, het ek regoor die wêreld gereis, onder meer in Texas, Boston, Ysland en Italië. Oral het mense my opinie gevra oor die saak.

Waarom hierdie ongekende fassinasie daarmee? Die verhaal van die gevalle held hou deur die eeue reeds sedert Homer vir die mens ’n fassinasie in. Oscar Pistorius is ’n tragiese held, nes uit die tyd van Aristotelis regdeur tot Shakespeare. Dié held besit altyd unieke kenmerke wat hom uitlig bo gewone mense wat maak dat hy bewonder en verafgod word. Weens ’n swak plek in sy karakter kan sy optrede onder sekere omstandighede die held tot ’n val bring en dís wat die mensdom so boei.

Selfs voor die Reeva-insident is Oscar Pistorius se verhaal een van die mees uitsonderlikes in die geskiedenis van sport. ’n Outjie wie se bene op 11 maande geamputeer is, wat op 25 jaar op gelyke voet teen die wêreld se vinnigste mans hardloop – mens kan so storie nie opmaak nie. Hierdie verhaal bereik sy piek met sy atletiek-glorie in Londen en ses maande later, steeds op die kruin van sukses, skiet hy sy pragtige vriendin dood. Dis so ’n klassieke verhaal dat almal daarmee kan vereenselwig.

Die Reeva-aspek is ook interessant, want deur die loop van die hofsaak het sy amper onaantasbaar geraak. Niemand wou te diep delf en te krities na haar kyk nie.

Soos in die klassieke verhaal van Skoonlief en die Ondier, het Oscar oornag vir duisende mense die monster geword. Omdat almal in hierdie verhaal inkoop, moet Reeva Steenkamp mos perfek, rein en ongeskonde wees. Sy is in die fleur van haar lewe afgemaai, met haar hele toekoms wat nog voorgelê het en dit maak dat mense nie te krities na haar wil kyk nie.

Op ’n meer ingewikkelde vlak, wanneer so iets gebeur, is almal verbyster. Ons sukkel om goed wat so lukraak gebeur te verstaan en daarom is ons eerste reaksie dat hy skuldig moet wees.

Wat was jou reaksie toe jy van die insident gehoor het?

Ek volg sy atletiekloopbaan al vir jare. Toe ek die eerste keer gehoor het, het ek ook al die vrae geopper: hoekom het sy nie geskree nie?, waarom het sy die deur gesluit?, al daardie goed. Toe hy boonop borgtog kry die week daarna, was ek woedend. Ek het gedink dis weer ’n geval van ’n ryk man se geregtigheid. Toe ek ’n maand later besluit het om ’n boek te skryf, moes ek ’n bewuste beluit neem om my kop skoon te maak van alle vooroordele. Ek wou ’n eerlike boek skryf. Uit my navorsing en gesprekke met verskillende mense, het ek gou besef dat sy weergawe, hoe mal ook al, tog waarskynlik is. Oral waar mense my gevra het of hy skuldig is of nie, kon ek met eerlikheid sê dat ek nie weet nie. Net hy weet wat werklik gebeur het. Ironies genoeg is die vraag of hy haar opsetlik doodgeskiet het van die tafel gevee deur regter Masipa se uitspraak, wat bevind het sy kon hom nie op grond van die getuienis voor haar daaraan skuldig bevind nie.

Sy het erg deurgeloop onder kritiek tydens die saak. Wat is jou opinie oor hoe sy opgetree het tydens die verhoor?

Die een ‘classy’ mens wat uitgestaan het in hierdie rolverdeling van karakters met wie ek te doene gehad het, was regter Masipa. Sy het die hof met ’n kalmte beheer en sy het my beïndruk met haar aandag aan die detail. Sy was terdeë bewus van elke aspek van die getuienis. Op die vraag of dit dolus eventualis was, dis so fyn punt. Ek kan sien dat daar ’n debat daaroor gevoer kan word. Maar op die vraag of hy haar opsetlik doodgemaak het en of dit vooraf gegaan is deur ’n argument, het die staat heeltemal gefaal om die saak te bewys. My opinie is dat Gerrie Nel te veel op hom geneem het. As hy al sy eiers in die dolus eventualis-mandjie gesit het, kon hy moontlik die saak gewen het. Ek het vooraf met heelwat lede van die staat se span gesels en het gedink hulle sou ’n baie sterker saak hê, maar binne die eerste drie dae van die verhoor was dit beslis nie die geval nie. Dis nie deur die media hier en elders so gedek nie. Wat die uitsending van die hofsaak aanbetref: Dit was amper asof die wêreld dit benader het soos ’n rugbywedstryd. Jy kies vooraf jou span en jy juig elke keer as Barry Roux punte aanteken. Wanneer Gerrie Nel ’n drie druk, is jy nie so beïndruk nie. Soos met wedstryde is daar rustyd, wanneer met kenners gesels word wat hulle mening gee. Dis soos ’n sportgebeurtenis met ’n element van ’n realiteitsreeks. Meeste mense wat die hofsaak op televisie gevolg het, het vooraf besluit of hy skuldig is of nie. Altans dis hoe dit vir my gevoel het.

Jy het Invictus geskryf wat gegaan het oor die glorie van die reënboognasie en nou hierdie boek. Was dit ’n moeilike boek om te skryf?

Van my vyf boeke was hierdie een by verre die moeilikste. Die navorsing was ’n uitdaging, want dit was moeilik om al die kritiese inligting oor Oscar te kry. Ek moes die muur van wantroue wat om hom gebou was oorbrug om ’n verhouding met hom te kon bou, sodat ek ’n objektiewe beeld kon kry van wie hy werklik is. Die skryf was ook moeilik, omdat dit nie ’n inspirerende boek is nie; dis nie ’n viering van die mensdom op sy beste nie, en allermins van Suid-Afrika. Dis eerder ’n sielkundige verhaal oor die kompleksiteit van die mens se aard. Omdat dit oor die werklike lewe gaan, moes ek ook so gebalanseerd en regverdig as moontlik probeer wees. Net ’n kwart van die boek gaan oor die misdaad en die hofsaak. In die res van die boek het ek probeer om ’n portret te skilder van ’n uitsonderlike persoon onder uitsonderlike omstandighede, wat nie ’n monster of ’n heilige is nie. Hy is net ’n mens.

Het daar enige dinge na vore gekom tydens jou reise wat jou verras het?

Dit was fassinerend om die verskillende lae van sy persoonlikheid en die dieper besonderhede van sy lewe te ontdek. Vroeg in my navorsing het ek met ’n Britse joernalis gepraat wat ’n onderhoud met Oscar gedoen het die jaar voor die insident. In die onderhoud het hy al die gewone dinge van “ek is nie gestremd nie, ens.” kwytgeraak. Aan die einde het sy hom gevra of hy ooit weerloos voel. Hy het geantwoord dat dit is wanneer hy in die bed lê met sy stompies en hy hoor ’n vreemde geluid in die middel van die nag. Dít het my laat dink.

Insiggewend was my ontmoeting met Samkelo Radebe, een van Oscar se spanmaats in die paralimpiese span en hoe hy Oscar vir my opgesom het. Hy het my daarop gewys dat atletiek al ding is wat Oscar regtig het, hy het geen ander kwalifikasie nie.

Hoe ouer ek word hoe meer besef ek dat ek eintlik min beheer oor my lewe het en dat my lewe gevorm word deur toevallige besluite wat ek geneem het en deur plekke waar ek was. In Oscar se geval kon sy lewe heeltemal anders verloop het as sy ouers nie besluit het om sy bene te laat amputeer nie. Ek sou moontlik as ouer eerder die roete van korrektiewe sjirurgie gevolg het. Hy sou nooit ’n atleet wees nie. Hy sou nooit vir Reeva ontmoet het nie. . .

Die ander toevalligheid wat sy lewe bepaal het, was sy ontmoeting met Francois van der Watt, die man wat vir hom hardlooplemme gegee het. Francois wou eintlik ’n boer in die Vrystaat geword het, maar toe word hy ’n dokter. En toe bel ouma Gerty vir Francois en so begin Oscar se atletiekloopbaan. Daar is soveel ander voorbeelde van dinge wat sy lewe so anders kon laat verloop het.