Hollywood se mees glansryke aand het gisteraand 'n hele paar stylwenners op die rooi tapyt voor die Kodak-teater opgelewer. 'n Vurige kleurpalet van die rooiste rooi tot nartjie het vir opwinding gesorg terwyl sagte, naakte kleurtone 'n rustigheid na die styltafel gebring het.

TREND 1: IN ROOI GETOOI

Rooi was 'n groot aksent op die rooi tapyt. Mede-aanbieder, Anne Hathaway, was die toonbeeld van ou-wêreldse elegansie in haar skarlaken Valentino-rok met bypassende skarlakenlippe. Verlede jaar se Oscar-wenner en vanjaar beslis 'n stylwenner, Sandra Bullock, was treffend in haar bloedrooi Vera Wang-skepping. Jennifer Lawrence was elegant in Calvin Klein met die minimum juweliersware - ook 'n groot trend vanjaar.

TREND 2: BALLET-DROOM

Die ballet-geïnspireerde modes, danksy die fliek Black Swan, het dromerige flair aan die rooi tapyt verleen. Hailee Steinfeld se handgeborduurde tulle-romp in 'nude'-skakerings was groot modenuus op talle mode-webtuistes vandag.

TREND 3: NUDES

Die moet-hê skakering van die seisoen! Michelle Williams in haar Chanel-rok was tydloos elegant in hierdie gewilde sagte naakte kleurpalet, wéér met min juweliersware. Mandy Moore was in 'n Monique Lhuillier-ontwerp geklee en haar hare styf teruggevat, amper soos 'n ballerina s'n. Halle Berry se Marchesa-skepping is met kristalle versier en met sy-tulle detail omsoom.

TREND 4: BESSIE-GEUR

Die weelderigheid van die bessie-kleurpalet het perfek by Hollywood se weelderigste aand gepas. Black Swan se Mila Kunis was vroulik, sensueel in 'n ligpers Elie Saab-skepping met haar hare sagkens opgekam. Die ster van die aand en vanjaar se Aktrise van die Jaar, Natalie Portman, was pragtig swanger in haar wynrooi Rodarte-rok. Scarlett Johansson het weer met kant 'gespeel' in haar bessiekleurige rok van Dolce & Gabbana.

TREND 5: SKITTERENDE METAAL

Die metaalkleur het vir hope bling gesorg. Gwyneth Paltrow het geskitter in 'n styfpassende platinumkleurige Calvin Klein-skepping. Haar veelkleurige Louis Vuitton-juwele uit hul gesogte L'Ame du Voyage-reeks was die perfekte pasmaat hiervoor. Haar oorbelle en borsspeld is van Louis Vuitton-diamante en veelkleurige stene geset in wit, geel en rooi-goud. Haar ring het baguette-diamante en Louis Vuitton-diamante was in witgoud geset is. Hilary Swank se Gucci-rok was 'n getooi met kristalle en afgerond met volstruisvere.

En wanneer ons praat oor rooi tapyt-wenners, moet die maerder, sexy Jennifer Hudson se naam beslis genoem word. Sy het eenvoudig WOW gelyk in haar nartjiekleurige Versace-rok.

GROEN!

Livia Firth, vrou van Beste Akteur-wenner, Colin Firth, het geblog oor haar 11-rokke-ineen-skepping as deel van die 'Green Carpet Challenge'.

Bronne:

www.instyle.com

www.vogue.co.uk

www.eonline.com