Onlangs het baaskok Annette le Roux vir ons twee pasteie gebak. Ek het my ooreet, maar ek vermoed die resep kom van ver in haar familie af. Wat vandag of môre gebeur, kom dikwels van gister.

En “nuut” en “toekoms” het ook probleme. My “toekoms” vroeg in 2005 was om ’n nuwe rekenaar te koop in een van daardie superwinkels wat groot “winskope” aanbied. Met al die nuutste truuks. My ou rekenaar, het kenners beduie, behoort tot die ashoop van die verlede. Wel, die nuwe een het maar die streke van die oue herhaal en van die begin af vir nog ritse probleme gesorg. Uiteindelik het ’n jong vriend dit op ’n manier redelik aan die werk gekry. Ek swets soms oor my oue wat beter was.

Toe was dit my selfoon: Ek kon dit gaan omruil vir die nuutste, foefierigste selfoon wat jy kan bedink. Jy kan kiekies en video’s neem, maar my probleem is dat ek nie ’n kamera gesoek het nie, maar bloot ’n ordentlike foon. Deesdae as ek knoppies druk om iemand te bel neem ek my eie vinger af. Of die hond se agterkant.

Ek verlang na my ou foon waarmee ek ’n nommer kon druk en lui en klaar. Dieselfde geld vir ’n radio. Ek het ’n radio in my kar, wat hulle vertel die nuutste, beste “tegniek van die toekoms” is. Probleem is, wanneer ek ’n stasie soek en die knoppie net effe skeef druk, hol die wyser van die een stasie na die ander en ek weet nie hoe om dit stop te sit nie. Met al my gesukkel het ek die verbrande instruksieboekie weggegooi. Nou het ek in my studeerkamer ’n radio so na my hart: Goedkoop, outyds, met ’n knoppie om met die hand die stasie te soek en die klank te stel.

Die swembad se ou Barracuda het ná nege jaar die gees gegee. Ook maar vol nukke gewees. Maar die nuwe model gaan staan elke liewe dag, en staan en staan. Ek het al alles gedoen wat die boekie sê en hier gestel en daar gedruk, maar die volgende dag is daar geen beweging van die klein monster nie.

Nie dat alles nuut en “toekoms” sleg is nie. Ek wil byvoorbeeld nie graag leef in ’n wêreld sonder antibiotika, X-strale, vliegtuie, teerpaaie, motors, griepinspuitings, telefone en rekenaars nie.

Maar ’n bootreis op die Union Castle Line was seker geweldige pret, en ’n rit in ’n vierperdewa oor Bainskloof-pas en uitkamp by die Tweede Tol was seker heerlik, soos my ma vertel het. Sonder TV kan ek gemaklik klaarkom en “Ons Vryheid” beteken maar net jy betaal belasting aan ’n ander regering wat, soos alle regerings deur die eeue, eers vir homself sorg. Nuwe dinge is dikwels slegs ander gedaantes van die oue.

Maar tog sou ek weer soos in my kinderdae ’n middernagdiens wou beleef in die groot ou kerk, waar hulle om vyf voor twaalf die ligte begin afskakel en al die ligte weer aanskakel terwyl die groot klok twaalfuur slaan. Dan sou ek dig teen my ma aanskuif en na haar hand voel. Dis die nostalgie van die verlede.

Maar ek sou ook dinge van die nabye toekoms wou beleef, soos ’n kuur vir alle kanker, ’n brandstof-alternatief vir petrol en olie en (dalk) die einde van terreur. Aan die ander kant sal daar weer nuwe bedreigings kom. Maar, daar is ook altyd vreugde om die son te sien.

In die Bybel is ’n mooi teks oor die inwyding van die nuwe tabernakel: “’n Wolk het die tent van ontmoeting oordek, en die magtige teenwoordigheid van die Here het die tabernakel gevul.” (Eks. 40:34) Om so iets te kon beleef laat rekenaars en selfone en menslike nuuthede maar vaal lyk. Daarom wens ek dat God se beskermende wolk jou sal oordek en dat sy magtige teenwoordigheid jou in die nuwe jaar sal vervul.

Wie gee dan om of die Barracuda gaan staan of die radio nie jou stasie kan vind nie?