Ouma het horlosie-dae. Dis die dae wanneer sy geweet het van tyd, van afsprake en van die pasiënte wat sy moes sien in haar plaaspraktyk.

Maar dan is daar die dae wat sy in ’n waas van vergeetagtigheid was, waar geen horlosie tyd kon aandui nie en waar niks sin gemaak het nie. Die eens bekwame matriarg en mediese dokter word stadigaan afgetakel deur demensie en dit raak al die mense rondom haar. Van haar seun, Groot Samuel, die werker, Klein Samuel, haar kleindogter, Delilah, haar huishulp, Gogo en die speurder, Jannie. Sy verdrink in die plaasdam, maar dan is daar vrae oor haar dood. Was dit ’n ongeluk of was dit moord?

Dié sentrale gebeurtenis word omvou deur ’n storie wat laag op laag onthul word. Elke karakter vertel ’n aspek van die komplekse verhaal waarin verhoudings, familie, lojaliteit, verlies, vergifnis, dood, wraak en barmhartigheid belangrike temas is.

Proctor skilder ’n eg Suid-Afrikaanse landskap en karakters eie aan die land. Jy kan die plaaslandskap sien, die grond ruik en die atmosfeer voel. Dis nie ’n vinnige verhaal vol aksie nie, maar een wat ontvou deur klein gebeure tussen karakters. Karakters wat meeste van die tyd sonder woorde kommunikeer. Tog is daar universele kwessies wat aangeraak word, soos demensie en ouer word, en hoe dit mens raak, identiteit en waar jou wortels is. Proctor skop die boek af met ’n aanhaling uit ’n gedig van Elisabeth Eybers, “Die waarheid kwaak ’n karige geluid.” As jy die laaste bladsy toemaak, besef jy die waarheid is inderdaad iets waarna jy moet soek in hierdie verhaal met sy vele onderliggende temas oor die waarde en waardigheid van mens wees.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

In ’n onderhoud onthul Elaine Proctor dat sy nie klaar is met hierdie karakters van The Savage Hour (Quercus, R275) nie en dat daar onafgehandelde sake is wat moontlik in ’n volgende boek getakel sal word. Haar karakters het haar verras en party het ’n intense teenwoordigheid en vra om nog iets te sê. Ek hoop dat daar nog boeke oor hierdie karakters sal kom, want hierdie verhaal was een van die beste boeke wat ek onlangs gelees het.

Die boek is nogal kompleks, omdat daar soveel verskillende temas verweef word in ’n baie eg Suid-Afrikaanse verhaal. Was dit belangrik vir jou om ’n verhaal met Suid-Afrikaanse temas te skryf?

Die saadjie vir die boek was mense waarvoor ek lief is en die land waarvoor ek lief is. Dit het toe ontwikkel in ’n verbeelde wêreld, wat ek in ’n drie-dimensionele omgewing moes omskep. Een van die temas is die stryd om ’n bestaan te probeer maak uit die grond waarop die mense woon en om so te probeer oorleef in ’n moeilike omgewing. Dan is daar die pyn oor die verlies van hierdie eens baie kapabele vrou se vermoë om te funksioneer en te kommunikeer en haar eie bewustheid daarvan. Sy besef sy word beroof van haar daaglikse kapasiteit vir die lewe en ek wou dit oordra op ’n geloofwaardige wyse. Dit het my by die punt gebring waar ek gewonder het oor die reg om ’n lewe te beëindig as jy weet al wat voorlê is pyn en swaarkry en ’n vervreemding van die mense naaste aan jou. Die verhaal is vir my vol rou en verlies.

Die karakters het baie sterk emosionele ervarings, al wys hulle dit nie op ’n openlike manier vir mekaar nie en hulle praat ook nie met mekaar oor hul emosies nie. Was dit ’n moeilike boek om te skryf?

Dit was en dit was ook nie. Vir my het die boek hoofsaaklik gegaan oor verpligting teenoor passie en die verantwoordelikheid vir mekaar, en die konneksie wat mense in ’n gekompliseerde omgewing ervaar waar hulle konneksie met mekaar nie ’n gegewe is nie. Dis nie ’n gegewe dat die wit matriarg van die plek noodwendig ’n diep affiniteit vir haar kinders sal hê nie of vir haar huiswerker of vir die vrou wat op die varkplaas werk wat sy help nie.Vir my het dit gegaan oor die manier hoe hierdie konneksies gemaak word, en dit wat ons moet erken hieroor, sodat ons met respek as mense en ’n nasie kan vooruitgaan. Dit was ’n ernstige boek oor wat ons vir mekaar sal doen in ons laaste oomblikke, hoe die karakters elkeen reeds ’n moeilike lewe geleef het en steeds leef.

Waarom skop jy die boek af met ’n aanhaling uit ’n gedig van Elisabeth Eybers en gebruik jy haar digkuns as ’n draad deur die storie?

“Die waarheid kwaak ’n karige geluid.” Mens moet stil wees en aandagtig luister om die fyn geluid van waarheid te hoor. Ek was nog altyd baie mal oor Eybers se digkuns en het grootgeword daarmee. Hierdie spesifieke gedig het sy geskryf oor die einde van haar huwelik en die waarhede wat sy moes hoor om te verstaan waarom iets eindig en hoe dit werklik was in plaas van hoe sy wou gehad het dit moet wees. Dit het vir my ook ’n deur oopgemaak om dinge te ondersoek, al het dit my hartseer gemaak.

Al die karakters deel ’n tipe van gebrokenheid. Was dit opsetlik?

Dit was nie my bedoeling om gebroke karakters te skep nie. Ek dink almal van ons het op ’n manier maar ’n soort gebrokenheid, mens moet soms net van naby kyk. Gebrokenheid laat mense ook toe om dinge te weet wat hulle nie sou weet as hulle ’n moeitelose lewe lei nie. My karakters is nie vir my gebroke op ’n hopelose manier nie. Dis amper asof hulle almal ’n klein stukkie skrapnel gekry het van dit wat Suid-Afrika is en dit binne hulle rondra. Dit gee definisie aan hulle.

Dink jy mense wat nie Suid-Afrikaans is nie sal die boek anders ervaar?

Ek dink die meeste mense stel belang in die kwessie van identiteit: wie is ons en wat maak ons gelyk? En definieer ons land ons? Al is mense nie Suid-Afrikaans nie, sal hulle ook aanklank kan vind by die tema van ouer word en demensie. Ek is verras deur lesers buite Suid-Afrika se reaksie.

Is hierdie ’n persoonlike storie vir jou, want jy dra die boek op aan jou broer en skoonsuster wat na jou ma omgesien het vir 20 jaar?

Die storie is geïnspireer deur my liefde vir my mense en my land en die omgewing van De Wildt. Die plek en die mense is persoonlik, maar die karakters is uitgedink. Ek het wel ’n ma wat aan demensie ly en die boek was ’n manier om gevoelens te ondersoek oor hoe mens oor tyd kyk na wat met iemand gebeur en jy nie iets daaraan kan doen nie.