Wanneer jy Tolbos lees en vir Katrien Neethling ontmoet, verstaan jy waarom sy dit sê. Na haar ma se dood raak Katrien effe verwyder van haar familie, want sy voel hulle behandel haar soos ‘n kind en sluit haar nie in by besluite wat geneem word wat haar raak nie. Katrien se storie begin waar sy as tienjarige oor die radio hoor van die opstande in Soweto en hoe die polisie op die betogende kinders skiet. Hierdie gebeure maak haar van vroeg af reeds bewus van die politiek en dit is dus natuurlik dat sy soos wat sy opgroei, betrokke raak by politieke bedrywighede.  In Pole wod daar betoog teen kommunisme en die vyftienjarige Wladek Kowalski is by die betoging. So raak hy bewus van die politiek en raak hy ook betrokke by ondergrondse politieke bedrywighede. Hy moet uiteindelik vlug na Suid-Afrika as die veiligheidspolisie op sy spoor is. Natuurlik gebeur dit ook dat Wladek en Katrien se paaie kruis in Suid-Afrika, met baie interessante gevolge.

Die gebeure in Tolbos (Lapa Uitgewers, R215) speel af teen die gebeure vanaf Junie 1976 tot die einde van 1989. Joubert verweef ‘n boeiende familiesage met die geskiedenis en baie aspekte van die geskiedenis, asook mense soos Max du Preez en Helen Zille maak deel uit van die verhaal. Hierdie is die finale boek in die trilogie wat begin met Tussen stasies en Ver wink die suiderkruis. Die verhale kan onafhanklik van mekaar gelees word. Ek het per e-pos met Irma Joubert gesels oor haar skryfwerk.

Toe jy Ver wink die Suiderkruis geskryf het, het jy geweet dit gaan ‘n trilogie wees?

Nee, glad nie. Ver wink die Suiderkruis is aanvanklik geskryf as ’n veel dunner Romanza-boek vir LAPA. Selfs toe ek Tussen stasies begin skryf het, het ek nie geweet dit gaan op Suiderkruis volg nie. Dis eers toe ek die kleine Gretl Suid-Afrika toe moes stuur en ek ’n Afrikaanse gesin gesoek het om haar aan te neem, dat my man vir Bernard en Kate Neethling op hulle plaas in die Bosveld voorgestel het. Nadat Tussen stasies verskyn het, het ons besluit om Suiderkruis effens aan te pas en uit te brei tot ’n enkeltitel. En toe lesers aandring op ’n opvolg van Tussen stasies, het Tolbos dit ’n trilogie gemaak.

Die verhale is almal gebaseer op die geskiedenis. Hoe het jy besluit op die hooftema rondom die geskiedenis vir elke boek?

Suiderkruis is geskryf omdat ek soveel belang stel in die sosiale omstandighede tydens die depressie en veral die armblanke-vraagstuk van die 1930’s – dis ook een van die temas in Pérsomi. Tussen stasies is gebaseer op ’n ware verhaal van ’n Poolse vrou wat dit self vir my vertel het. Haar verhaal het in Amerika geëindig, ek wou my verhaal in Suid-Afrika laat eindig. Een van my man se skoolvriende was een van die Duitse weeskinders wat in 1948 na Suid-Afrika gekom het, daarom word hulle verhaal toe die tweede helfte van my verhaal. Tolbos speel in die 1980’s af omdat dit ’n uiters interessante en komplekse stuk van spesifiek die Afrikaner se geskiedenis is.

Moet jy baie navorsing doen om die geskiedkundige agtergrond  korrek weer te kan gee?

Geweldig baie. Mense wat historiese romans lees, ken gewoonlik hulle geskiedenis. Daarby skryf ek nie verhale uit die verre verlede nie, ek skryf oor tye en gebeure wat baie van my lesers self beleef het. Een historiese fout sal die boek ongeloofwaardig maak.

Baseer jy die karakters op mense wat werklik bestaan het, of  het  jy die families geskep?

My feite is waarhede, my karakters en hulle families totaal fiktief. Die meeste van my boeke is wel gebaseer op ware verhale wat mense my vertel het, maar dan word die storie my storie wat in my kop broei en stoei en groei tot ’n nuwe storie. Daarom is die karakters ver verwyderd van die mense wat aanvanklik vir my die storie vertel het. Ek gebruik ook nie “rolmodelle” waarop ek my karakters skoei nie – my karakters is mense in hulle eie reg wat ek baie goed leer ken voordat ek die storie begin skryf.

Maar tog het jy bekendes soos Helen Zille en Max du Preez albei in jou boek ingeskryf. Hulle bestaan werklik, hulle leef nog. Watter slimstreke moes jy uithaal om dit reg te kry?

Beide is joernaliste na wie Katrien as jong verslaggewer  in die tagtigerjare opsien. Zille was die joernalis wat die waarheid rondom die dood van Steve Biko in 1977 oopgekrap het, Du Preez was die redakteur van die Vrye Weekblad wat die fondamente van die Nasionale Party geruk het met sy doelwit: “Ons wil Afrikaans bevorder en bevry van die stigma . . . wat daaraan kleef as die taal van die onderdrukker.” Veral vir hierdie deel van die verhaal moes ek 100% seker maak dat die tonele, die mense en die gebeure korrek beskryf word.

In Tolbos speel die verhaal deels in SA en deels in Pole af en dan die laaste deel in SA. Wou jy bewustelik weer ‘n skakel terug maak na Pole, omdat Gretl in Tussen stasies daarvandaar gekom het?

Gedeeltelik ja, maar ook omdat ek die korrelasie tussen die val van Kommunisme in Pole en die val van Apartheid in Suid-Afrika verstommend vind. Op 16 Junie 1976 vind die Soweto-opstande plaas, dit begin as vreedsame opmars en eindig in ’n bloedbad – dit sien ek as die begin van die val van Apartheid. ’n Week later, op 25 Junie 1976, vind vreedsame opstand teen die Kommunistiese stelsel in Pole plaas, dit eindig in ’n bloedbad – die begin van die val van Kommunisme.

Dertien jaar later, op 9 November 1989 word alle grense tussen Oos- en Wes-Duitsland onverwags oopgestel. Gedurende die nag begin mense van weerskante die Berlynse Muur afbreek, sigbare simbool van die val van Kommunisme. En enkele weke later, op 11 Februarie 1990 stap NelsonMandela ná 27 jaar uit die tronk en in die straat in – ’n vry man vir almal om te sien.

Hierdie is net maar twee voorbeelde, maar gedurende die hele verloop van die vrymakingsproses is daar soveel ooreenkomste dat die feite om ’n storie gesmeek het.

Wanneer jy die storie begin skryf, weet jy presies waarheen die verhaal ontwikkel, of is daar soms ‘n verrassing wat vanself kom?

Ek ken die basiese verhaallyn van my storie en die hoofkarakters se persoonlikhede, ek voltooi die navorsing van die historiese gebeure en lewenswyses van die tyd en ruimtes waar die verhaal afspeel voordat ek begin skryf. Nee, daar is nie werklik verrassings nie, enkele kleiner insidente miskien, maar ek ken my storie wanneer ek begin.

As leser raak mens intens betrokke by jou karakters en baie emosioneel oor die goed wat met hulle gebeur. Huil jy ook soms oor wat met jou karakters gebeur?

Ek raak geweldig betrokke by my karakters, hulle word vir my lewende mense wat in my huis saam met my kom woon. As iets slegs met hulle gebeur, soos Pérsomi se broer wat dood is of Lettie se dogtertjie in Kronkelpad wat polio gekry het, huil ek my in so ’n toestand in dat ek nie verder kan skryf nie. Ek het vir omtrent twee weke lank gesukkel om weer voort te gaan met skryf toe ek vir klein Gretl van Jakób af moes wegstuur. Dis eers toe Jan voorstel dat sy na Kate en Bernard toe moet gaan, dat ek weer rustig kon raak.

En ek word net so kwaad vir my karakters. In Tolbos wou ek met tye vir Katrien oor my skoot trek en ’n goeie oudtydse pakslae gee, ek het geweet sy gaan moeilikheid optel, maar sy is net só eiewys en astrant dat sy na niemand luister nie. My karakters is mense wat hulle eie koppe volg en hulle nie deur ’n ou tannie soos ek laat voorsê nie.

Is daar een van die karakters uit die trilogie met wie jy ‘n besondere band het, of is hulle almal na aan jou hart?

Eintlik het elkeen van hulle ’n eie, besonderse plekkie in my hart – selfs Katrien in Tolbos vir wie ek lief geraak het soos ’n mens maar lief  bly vir jou stoute kind, selfs in sy of haar stormagtige jeugjare.

‘n Onregverdige vraag: Uit ‘n geskiedkundige oogpunt, watter een van die boeke was die moeilikste en mees emosionele om oor te skryf?

Uit hierdie trilogie was Tussen stasies emosioneel die moeilikste en uit die Pontenilo-trilogie Kronkelpad, omdat dit in beide gevalle kinders was wat gely het. Histories gesien was Tolbos die moeilikste, veral omdat dit in die tagtigerjare afspeel en die oorgrote meerderheid van my lesers dit ook beleef het. Ek moes dus ekstra versigtig wees met my feite.

 Hoe skryf jy – het jy ‘n roetine, ‘n spesifieke plek ens?

Ek skryf op die rekenaar in my studeerkamer of op my skootrekenaar enige plek waar ’n sitplek is. Ek het nie ’n vaste roetine nie, omdat Jan en ek beide pensionarisse is en gesond en bevoorreg genoeg is om ’n baie vol lewe te kan lei. Wanneer my navorsing voltooi is en ek begin skryf, werk ek gewoonlik vanaf baie vroeg soggens, want dan is ek vars en die huis stil. En as die spertyd begin tande wys, werk ek sommer aanmekaar en my buurvrou Suzette sorg vir kos.

Dis algemene kennis dat jy ‘n geskiedenisonderwyser was, maar waarom is jy so gek oor geskiedenis?

Ek was eintlik ’n Afrikaans-juffrou wat ook Geskiedenis vir die seniorklasse gegee het. Ek glo my liefde vir die geskiedenis het begin toe my Duitse ouma vir my ware stories vertel het van haar familie wat aanvaklik uit Oos-Pruise gestam het, van my oupa se ontberinge as tienjarige seuntjie in die Standertonse konsentrasiekamp, van die mynopstande in die 1920’s en haar eie deelname aan die vuurwarm stoele-gooi politieke vergaderings van die 1940’s. Op laerskool ontdek ek toe Konsalik se boeke: Skerwe van die ysterkruis en Die snydokter van Stalingrad en ander en ek begin alles verslind wat oor die Tweede Wêreldoorlog handel, fiksie en nie-fiksie. Voeg daarby dat my ouma haar twee oudste kinders gedurende die Groot Oorlog van 1914-18 in Londen moes grootmaak, dat my oom Baden Purchase die Eerste Wêreldoorlog-loopgrawe as invaliede verlaat het, dat my oom Charles Holloway vyf-en-twintig  jaar later by El Alamein gewond is, en geskiedenis het werklikheid geword – stories wat régtig met lewende mense gebeur het. Want dis wat geskiedenis is: ware stories.

Gaan ons in die toekoms weer ‘n epiese familiesage uit jou pen sien?

Moontlik ja, dis heerlik om ’n familie te leer ken oor baie jare. Maar daar het nog nie ’n nuwe familie in my kop ingetrek wie se storie ek moet skryf nie.