Patats het ’n lae GI, wat sorg vir meer energie – net wat jy nodig het in die winter. Jy kan ook die sop sonder die garnale maak.

genoeg vir 6 – 8

  • 20 ml kerriepoeier
  • 60 ml olyfolie
  • 2 uie, fyngekap
  • 3 knoffelhuisies, fyngekap
  • 1 appel, geskil en gerasper
  • 1 cm vars gemmer, fyngerasper
  • 800 g (sowat 5) patats, geskil en in blokkies gesny
  • 1 x 400 g-blik rooi lensies, gedreineer
  • 1 200 ml groente-aftreksel
  • 300 ml melk
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 24 steurgarnale, doppe verwyder en skoongemaak

Verhit kastrol oor matige hitte. Droogbraai kerrie so 20 sekondes in warm pot. Voeg olyfolie by en verhit tot spesery braai. Voeg uie en knoffel by en braai vir 1 minuut. Voeg appel en gemmer by en braai nog 2 minute. Voeg patats, lensies, aftreksel en melk by. Geur goed met sout en peper. Laat kook 25 – 30 minute of tot patats sag en gaar is. Maak fyn in voedselverwerker. As sop te dik is, voeg nog melk by. Gooi terug in pot en bring

weer tot kookpunt. Pak garnale bo-op. Geur goed met sout en peper en maak pot toe. Kook vir 5 – 8 minute of tot garnale pienk word. Skep in opdienbak en sit voor.