Die dokumentêre fotograaf Paul Weinberg het al vir 30 jaar ’n konneksie met die San. Dis hoe lank hy al hierdie volk se lewe in foto’s dokumenteer.

Sy boek, Traces and Tracks, A Thirty year Journey with the San (Jacana, R380), laat my met ’n diep gevoel van heimwee vir die mense van die San. Weinberg se versameling foto’s strek oor 30 jaar en dokumenteer die kontras tussen die verlede en die hede. Dis ’n uiteenlopende versameling foto’s waarin hy die lewe van die San vasgevang het. Van die vroeëre foto’s wat in tipies dokumentêre swart en wit-styl is, staan in skerp kontras met die kleurfoto’s wat hy in die meer onlangse verlede geneem het.

Almal van ons word geraak deur die wêreld wat verander, maar vir die San wat eens in nabye harmonie met die grond geleef het, is hul tradisionele leefwyse heeltemal omver gewerp. Hoe pas hul kultuur en tradisies in die moderne wêreld in en hoe bedreig die hede hierdie mense se leefwyse? In hierdie boek probeer Weinberg antwoorde kry op hierdie vrae en bepeins hy die kwessies wat die San se oorlewing vandag bedreig. Die uitmuntende foto’s maak dit ’n onvergeetlike boek. In die teks word die foto’s in konteks geplaas, maar dit gee ook waardevolle inligting oor die wêreld se oudste volk. Weinberg skryf vanuit ’n baie persoonlike perspektief oor hierdie projek en jy kan nie anders as om diep geroer te word deur die dilemma waarin hierdie mense is nie – ontwikkeling en modernisering is besig om hul kultuur en tradisies te verswelg. Dis ’n erfenis wat nie net vir die San verlore raak nie, maar ook vir elkeen van ons wat op hierdie aarde leef.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Ek het per e-pos met Weinberg oor sy werk gesels.

Wou jy altyd ’n fotograaf word en kan jy onthou wat die eerste foto is wat jy geneem het?

Ek was eintlik op pad om ’n regsgeleerde te word en toe ontplof 1976 (16 Junie optogte in Soweto). Dit het my as wit nasionale dienspligtige geïmpliseer en ek het toe besluit om standpunt in te neem teen die SA Weermag. Dit het my hele lewe in beroering gebring en ek was selfs bereid om die land te verlaat as dit nodig sou word. Ek het van jongs af ’n aktiewe belangstelling in fotografie gehad. Ek het my eerste kamera gekoop toe ek 11 was. Toe dink ek, wel dis ’n vaardigheid waarheen ek kan terugkeer. Die res is geskiedenis. Ek het fotografie aan die Durbanse technikon studeer vir ’n jaar, my BA daarna voltooi, as ’n gewetensbeswaarde (conscientious objector) geregistreer en toe die pad gevat na Johannesburg. Daar het ek fotografie gegee by die Open School, ’n gemeenskapskunsprojek, en stadigaan ontwikkel as ’n fotograaf met die fokus op nuus en ander projekte.

Ek dink my eerste foto was van ’n koedoe tydens ’n familiebesoek aan ’n natuurreservaat. Dit was nie aardskuddend nie, effe bewerig en in die middagson … Dit het baie beter geword daarvandaan.

Jy het ’n lang en bekroonde loopbaan as dokumentêre fotograaf. Waarom is jy aangetrokke tot dokumentêre werk?

Vertelkuns, om stories te vertel. Ek voel eerlikwaar dat stories vertel ons mens maak en ook die hindernisse wat mense so graag tussen hulle oprig, afbreek. Vandat ek ook meer vaardig geraak het, is ek mal oor die manier waarop oomblikke hulself onthul en die interaksie tussen werklikheid, onderwerp en die kamera. Cartier-Bresson noem dit die decisive moment, maar dis meer as dit, dis jou eie spesiale konneksie met die wêreld op die spesifieke oomblik in tyd. Ek is lief daarvoor om oomblikke bymekaar te bring in ’n verhaal. Dis altyd uitdagend en mens weet nooit hoe dit gaan ontwikkel nie.

As ’n dokumentêre fotograaf sien jy die wêreld voor jou lens soos dit is. Niks word weggesteek onder ’n lagie verf om dit mooi en sag te maak nie. Het dit ’n emosionele impak op jou?

Beslis. Maar mens probeer altyd kyk hoe die kamera hierdie situasies na ’n volgende vlak kan neem. Ek hou ook daarvan om te skryf en om rolprente te maak, so dit laat my by die raam verbykyk en om spelerig te wees met ander formate.

Is dokumentêre fotografie steeds relevant in die huidige era van kits-gratifikasie en sosiale media?

Ja en dit sal altyd wees. Die kern is vertelkuns, maar dis ook oor om ’n standpunt te stel, om vas te staan. Dis jou voetafdruk in ’n wêreld van kompeterende en veranderlike idees en waardes … dokumentasie sal altyd daar wees. En dokumentêre fotograwe sal altyd daar wees om uit te lok en om die gemaksone-boom te beklouter.

Jou nuwe boek dokumenteer ’n 30 jaar lange reis met die San.

Ja ek het oor drie dekades na die gemeenskappe in Namibië, Botswana en Suid-Afrika gereis om die lewe van die moderne San te dokumenteer en hul stories te vertel. Hierdie is my vierde boek oor hierdie projek. Die ander is Shaken Roots, In Search of the San en Once We Were Hunters. Ek voel ongelooflik bevoorreg dat ek die geleentheid gehad het om een van die oudste kulture op hierdie planeet te kon observeer en te dokumenteer. Ek wil graag met hierdie boek my reis met ander mense deel en hopelik ’n bewustheid skep oor die uitdagings wat die San in die gesig staar.

Het hoe jy na die San kyk verander deur die jare?

Ja en nee. Aan die begin het ek meer gekyk na hul lewe in ’n veranderende en moderne wêreld. Maar soos ek die San deur suidelike Afrika gevolg het, het die stories en omstandighede van streek tot streek en land tot land verander. Ek het meer betrokke geraak in daardie stories soos dit opgekom het. Toe ek in 2013/2014 die gemeenskappe weer besoek het, wat ek 30 jaar gelede besoek het, het ek nog ’n laag bygevoeg by wat ek voorheen gedoen het. In hierdie fase het ek meer algemene en landskapfoto’s geneem, sowel as om onderhoude te verfilm … Ek het anders gewerk in ’n ander periode.

Die San word deur baie uitdagings in die gesig gestaar in die moderne era. Wat sou jy sê is die grootste hiervan?

Ek sou sê hul grootste uitdaging in die moderne era is om die grond van hul voorouers te behou. Die grond konnekteer hulle met ’n manier van lewe wat hulle ken – jag en versamel. Hulle kan aanpas by ’n veranderende wêreld van daardie basis af deur ekotoerisme, die verkoop van handwerk en so aan. As jy die grond wegneem, dan is die basis vir hul lewe van hulle weggeruk. Dis mense wat op die grond gewoon het vir die langste tyd in die mens se geskiedenis. Dis ontsaglik traumaties om hulle weg te neem van hul grond waar hulle diep wortels het en ’n ongelooflike kennis van hoe om te oorleef. Jy kan dit nie net ‘herskep’ nie. Regerings, setlaars en landbouers van alle gelowe en kleure was deur honderde jare nog altyd diep onsensitief hieroor … dis hul lewensbron, zeitgeist.

Vir ’n projek soos hierdie neem jy duisende foto’s. Hoe kies jy wat in die boek gaan en wat nie?

Daar is altyd foto’s wat uitstaan bo die res. Dan is dit hoe hulle saamwerk as ’n geheel. Dis die uitdaging van visuele vertelkuns. Altyd ’n opwindende en kreatiewe proses. Mens weet nooit hoe dit gaan ontwikkel nie en ek is mal oor die verrassing wat dit bring.

Gunsteling-medium, swart en wit of kleur?

Ek kom uit ’n skool wat hoogs beïnvloed is deur die tradisie van die ‘dokumentêre genre’ – swart en wit film, 35 mm fotografie. Toe gaan ons oor na digitaal. Ek het ’n klein krisis gehad vir jare. Ek het net nie gemaklik gevoel om kleurfoto’s om te skakel na swart en wit nie. In hierdie boek, omdat dit ’n soort terugblik is, het ek kleur digitale foto’s en swart en wit hulself laat vind … Ek word groot!

Wat daag jou fotografies uit?

Om altyd daardie pragtige oomblik te vind wat resoneer. Daarnaas om stories te vertel wat mense se verbeelding skuif en stimuleer. Ek werk baie hard om die politically correct default-posisie waarmee Suid-Afrika en die wêreld ’n obsessie het, teen te staan.

Neem jy vakansiefoto’s wanneer jy nie amptelik “aan diens” is nie?

Ek is nie een van daardie obsessiewe “heeltyd kamera om die nek”-fotograwe nie. Maar my mik en druk-kamera is altyd naby my. Dis net te ingewortel in my en ek sien altyd foto’s raak waar ek ook al is. Dis die fotografiese patologie! Ek moet sê soms is dit nogal ’n verligting om ’n toneel te sien en net te sê ‘sjoe, dis mooi’ en dit nie HOEF af te neem nie. Alhoewel ek ’n boek, Dear Edward, oor my familiegeskiedenis gedoen het, is ek nogal lig op my familie. Ek fokus my kamera baie min op hulle.

Versamel jy werk van ander fotograwe?

Meeste fotograwe kan nie mekaar se werk koop nie. Ek ruil wel met ander fotograwe uit, boeke en foto’s. Ek het ’n spesiale versameling van regoor die wêreld wat ek koester. Ek het vir ’n klompie jare as argivaris en kurator by Universiteit van Kaapstad Biblioteke gewerk waar dit my werk was om Suid-Afrikaanse fotografie te versamel. Dit was ’n voorreg om in diepte in iemand anders se werk te kon delf en dit na die wêreld te bring.