Sy is 'n Oscar-bekroonde aktrise wat spog met 'n lang bos donker hare, 'n Spaanse aksent wat mans se knieë lam maak en groot, beeldskone oë. As jy nog nie weet van wie ons praat nie, is ons bly om jou te sê dat sy die nuwe gesig van Loewe is, so jy sal haar nog baie sien.

Penélope Cruz het haar gesig al aan modehuise geleen, maar hierdie aanstelling lê haar besonders na aan die hart. Catwalkqueen berig dat Cruz in November 2012 aangekondig is as Loewe se nuwe gesig en dat sy oorstelp was oor die nuus omdat Loewe 'n sterk band het met die Spaanse kultuur, geskiedenis en tradisies.

Die ontwerper Stuart Vevers het vir sy jongste reeks inspirasie geput uit Gala Dalí (vrou van die eksentrieke Spaanse kunstenaar Salvador Dalí). Cruz verskyn in die modeveldtog, geskiet en gestileer deur Mert Alas en Marcus Piggott, met onder andere die ikoniese Amazona-handsak van 1975.