Elke geslag het sy eie helde. Soms ook dié met voete van klei. Tyd plaas ruimte tussen nóú se opgewondenheid en die betroubaarheid van kwaliteit oor 'n veel langer tydperk.

Insig verg tyd en tyd verg geduld. Vat nou maar kookboeke. Daar is dié wat jou aangryp en opgewonde maak. Selfs effe jaloers. 'n Paar jaar later wonder jy waaroor jy jou so verkneukel het, want die sêkrag van die boek het verdwyn. Dit kry 'n plek in die boonste rak van jou boekery. En dan, skielik op 'n dag, soek jy na iets, trek weer die boek nader en herlees dit met die kennis van latere insig. Maak dit sin word die publikasie deel van jou biblioteek, kry jy niks daaruit nie, kan jy dit maar net sowel aan die een of ander liefdadigheid skenk.

Leipoldt se Cape Cookery, Sannie Smit se vleis-kookboek, Rina Pont se Wildsvleisboek, Marcella Hazan se boeke oor die klassieke Italiaanse kookkuns, Richard Olney se bydraes vir Time/Life, Elizabeth David se latere boeke en 'n swetterjoel boeke oor die kosgeskiedenis tel onder my lees-nou-lees-later-lees-weer-boeke. Daar is so baie dat ek besluit het om my sakevennoot, Emily's se sjef, Johan Odendaal, te vra om sy lysie met my bloglesers te deel:

Hoe weet 'n sjef ná meer as twee dekades wat hy nie toeka geweet het hy wis nie?

Mastering the Art of French Cooking deur Julia Child - sommer albei volumes - was die eerste kookboeke wat Peter my in die hand gestop het. Lees en leer! "Vat ook daai dikke, nee, daar links!" Genade! Larousse Gastronomique is sy naam. Die War and Peace van die kombuis intimideer nog steeds ons studente by vandag verby. Aantree!

Meer as twintig jaar gelede, toe ek gelees en geleer het, was die Franse Brit, Raymond Blanc, my volgende gees. Ek het alles kaalhand opgeët wat hy te vertelle had. Daarby Carrier (veral in Marokko), Richard Olney en ook Bugialli en Hazan, waar die eerlikheid van die Italiaanse kombuis mens sintuiglik-godsdienstig laat voel. Hulle het my fondament gegiet.

Maar dan, ook tog veel ander kosboeke, eerder met die nuanses waar geur breinvas in die bank gebêre is. The Elements of Taste deur Gary Kunz en Peter Kaminsky, is 'n kroonjuweel wat die basiese smake vir my na al die ondersteunende edelstene helder geslyp het. Las ook Elements of Flavour deur John Cambell by.

Soos 'n sjef breër in postuur met ouderdom groei, het van die groot geeste, soos Trotter, Keller, Blumenthal en Adria, wat ook so mooi op papier kook, sterre in my oë bly sit.

Rose Levy Barenbaum se The Cake Bible, dik en sag in die hand, 'n lewe se kennis geroer en gebak, is 'n uitgesproke handleiding wat die kleure in die telraam mooi vir my geherrangskik het. Gefragmenteerde kennis laat jou breëbors droom wanneer, wanneer die eendjies uiteindelik in 'n ry stap . . .

Jean-François Piège in sy kombuis by die Crillon in Parys saam met en sy negosie-kos tuis in 'n bundel wat waag tussen die verbysterende harmonie op 'n gestroopde skilderdoek en ons daaglikse brood. Hierby twee nagereg-boeke. Dessert van La Champignon Sauvage, met die streeksbestanddele van wilde suring, verbena, selei en vlierbessies tot 'n akker tirami-sù! Ja wat, gee die koekmakranka, suurvygies en rooibos oor die onderdeur aan. En die kleurryk-getoeërde Johnny Iuzzini speel dekadent 'n vierpot skerpsinnig as balans tussen wetenskap en kuns. Hierdie is nuwe modes wat ek wil dra.

Die moer het afgesak en die sterk, helder ekstrak kan afgeskink word.

Hierdie almal lê oor die water, maak jou geheue dors. Hoe kan ek Gagnaire en Ducasse vergeet? Nie alleen hulle papiergedagtes nie, maar ook om aan tafel in hulle restaurante smake te voel wat vuurwerke met jou kliere maak.

Maar . . .

Watter inspirasie is die Boesmantekeninge van ons tyd? Boeke wat uit die hart aan die moeder voed. Dié wat ons is. Snaaks hoe die onbekende Keurige Kos van Susan Naude my bybly. En Leipoldt bly Leipoldt. En tant Koot. Die kerkkoor klokklink oor 'n dorre sonbesie-vlakte. Tant Bets se veldkos, Cass se spesery-parfuum en Sannie se professorskennis van vleis is dokumente wat as rotsfondasies vir kultuurmonumente bly staan.

Ook, ongetywelfd Rina Pont se Die Goeie Gasvrou (om nie haar wildsvleisboek te vergeet nie) waar die hele wese en filosofie so pasreg die bestaan van hierdie keurigste kok met elke bestanddeel amper pedanties aan die oorsprong van die geregte vasmaak. 'n Les in dissipline soos 'n voorhamer vir enige persoon wat met respek 'n voorskoot aan sy lyf vasknoop om ander in vlees en gees te voed. Ek salueer. Die kosstileringsghoeroe, Annette Kesler se Entertaining is prentjies van oordadige verlusting in styl - visueel een van die mooistes. In hierdie eeu, het Marlene van der Westhuizen, met haar twee lewensstylboeke hierdie genadige liefdesverhouding weer vasgevat - om te wees wát jy is en tafel te deel met wíe jy is.

Ek was reeds by Leipoldt. Dan, hierby, definitief subjektief: hoe kan ek Kos van die Eeu deur my vennoot, die gastrosoof, nie aanlas nie? Ek het hierdie boek saam met hom meegemaak en was verfris-verras met ou-dae kennis wat nie genoeg geprys kan word nie. Hierdie boek het my geworstel oor "dit wat was, sal in gister begrawe word as ons dit nie nou afluister nie", besweer.

Handjie hieraan het Hettie Claassens se Die Geskiedenis van Boerekos die draai van die sleutel na die Oosterkim in my begin. Getrek deur die Midde-Ooste, waar baie van ons elkedagse kenniskos sy wortels eens gegroei het. Ook aan Hettie, dankie - ek is armer sonder hierdie padpredikant.

Ek sit nou die dag en dink aan die geykte reënboognasie: hoe baie van die kleure - en skakerings van geure - uit soveel wêrelddele hulself hier suid kom tuismaak het - 'n laslappie waarvan ons steeds te min van verstaan. Ja, dan weet mens, Vader Tyd is nie genadig nie. Dashi and Umami - The Heart of Japanese Cuisine lê gereed om my kinderlik by die wiskunde van hierdie straks onverstaanbare kultuur te reken. Mens weet min.

Hierdie boer vou sy hande saam. Gee my waterblommetjie-en-veldkoolbredie en handevol vars aspersies uit my geboortedorp, die laaste paar minute bygestoom, op saggeparfuumde lensie-rys. En in my glas Sémillon uit Citrusdal se Cederberg.