In die Oktober-uitgawe van SARIE vertel Petrus hoe dit gekom het dat hy in Pirweli Maisi klasgee vir studente wat wil leer Engels praat. Hier vertel hy meer van sy reiservarings in Georgië en die gewoontes van die mense. Hoe lyk die landskap in Pirweli Maisi?
Erg bergagtig en dig bebos. Ek woon langs ’n groterige rivier, die Atsjaristschali (Acharistskhali). Die res van die land is grootliks ook bergagtig, omdat Georgië tussen die Groot Kaukasus- en die Kleinere Kaukasus-berge ingedruk is. Dis vreeslik groen hier. Die land is ryk aan water, ‘n hoof-uitvoerproduk. Groot riviere wat heeljaar sterk vloei, is volop. Byna die hele land word in die wintermaande met ’n dik laag sneeu bedek. Hier waar ek woon, was die sneeu tot 1 meter diep in Februarie. Hoër op in die vallei word dit tot 2,5 meter diep en die inwoners van daardie dorpies is gedurende die wintermaande van die buitewêreld afgesny.

Reis jy daar rond en wat was vir jou die opwindendste plek wat jy al besoek het?
Graag! Dis maklik om van plek tot plek te kom. Die land het ’n goeie busdiens, soortgelyk aan SA se minibus-taxi’s, wat tussen elke dorp, stad en gehuggie ry. Ek het die meeste van die groter stede besoek, soos Batoemi, Koetaisi, Zoegdidi en die hoofstad Tbilisi. Batoemi is skaars 35 minute se ry van my af, so ek gaan gereeld soontoe.

Verder was ek al by die bergstad van Wardzia, ’n interessante historiese stadskompleks wat binne ’n berghang uitgegrawe is en wat herinner aan Kappadosië in naburige Turkye. Dis ook baie naby aan die Armeense grens geleë. Dié land het ek in die Paasvakansie saam met ’n groep vriende besoek. Vanaf Tbilisi het ons per trein Jerewan toe gery. Dit was ’n fantastiese ervaring in elke opsig. Jerewan is ’n kosmopolitiese stad. Dis modern, dog oud, en bied baie om te sien. Ek sal dit met graagte aanbeveel vir enigiemand wat hou van geskiedenis, want Jerewan is selfs ouer as Rome! Die stad spog natuurlik ook met ’n fantastiese uitsig oor die berg Ararat, die hoë, mitiese, sneeubedekte Bybelberg waarop Noag se ark gestrand het. Vandag is Ararat diep ingeburger in die Armeense kultuur en simboliek – dit pryk op feitlik alles van die grootste brandewynkelders tot die amptelike landswapen.

Het die mense snaakse gewoontes?
Dis ’n patriargale samelewing waar die vrou alles doen in die huis. Die mans werk (miskien), maar in die huis lig ’n man nooit, ooit ’n vinger nie. Ek word nie toegelaat om iets self te doen nie. Nes die seun sit ek net en word bedien. Al wil ek help, word ek aangesê om op te hou borde afdra of om my eie wasgoed op te hang. My gasma se ma kom gereeld kuier, dan werk die twee vroue in die groentetuin (skoffel en grawe!), terwyl die seun op die rekenaar speel of saam met sy vriende kuier.

Die vroue kry later in hul lewe soort van vergoeding, want Georgië het glad nie ouetehuise nie. Die gebruik is dat ’n seun se ma (en pa) by hom en sy gesin bly totdat sy doodgaan. ’n Vrou sal dus altyd saam met haar skoonma woon. Seuns erf ook altyd die huis, nie dogters nie. 

Is dit maklik om te kommunikeer?
Dis een van die grootste struikelblokke om te oorbrug: kommunikasie. Almal praat Georgies as eerste taal met Russies (wat deur byna almal bo 30 gepraat kan word) as ’n tweede taal. Toe ek hier aangekom het, het ek nie Georgies of Russies gepraat nie. Die gesin by wie ek bly, praat geen Engels nie. Ná ’n paar maande het my Georgies so verbeter dat ek basiese frases en konsepte kan begryp as my huismense met my praat. Danksy die Engels-lesse wat ek aan naas my skoolkinders ook vir my familie gee, het hul Engels merkbaar verbeter sodat ons ’n hele gesprek in ’n mengsel van die twee tale kan voer.

Georgies het ‘n uiters komplekse werkwoordsisteem. Dit wil voorkom asof daar nie reëls is wat 'n mens kan volg nie. Hulle gebruik ook ’n unieke alfabet, bestaande uit 33 letters met 26 fonetiese weergawes in die Latynse alfabet (A-Z) tesame met nog 7 unieke “letters”. Dit het ’n tydjie geneem om hierdie nuwe alfabet te leer en dit neem my steeds ’n tydjie om ’n lang woord in Georgies eers foneties te lees en dan te ontsyfer wat dit beteken.

Op my dorpie praat niemand Engels nie. In die skool is een van die onderwysers se Engels op ’n vlak dat ons gemaklik kan gesels, maar ek moet eenvoudige woorde gebruik en stadig praat. My ander mede-onderwyser is niks beter as die lede van my gesin nie, so dis ontsettend frustrerend om saam met haar ’n klas te probeer aanbied as sy eintlik nog self haar Engels eers moet verbeter.

Kon jy maklik vriende maak in die gemeenskap?
'n Mens kan nie anders as om baie nuwe vriende hier te maak nie. In die eerste week van die program word nuwelinge in Tbilisi touwys gemaak oor die taal en die kultuur, klasgee ensovoorts. Jy is die hele week saam met nuwe mense van reg oor die wêreld wat in Georgië wil klasgee. Uit hierdie diverse groep mense het ek baie goeie vriende gemaak wat ek baie gaan mis as ek teruggaan Suid-Afrika toe. Ná die week van opleiding word die groep opgebreek en oor die land versprei, maar ons bly steeds in kontak met mekaar en sien mekaar wanneer ons kan.