“Wat doen jy? Het jy dan nou pap in jou hande?” vra sy.

“Wat? Ek het niks gedoen of laat val nie. Ek sit hier voor die TV,” roep jy, rêrig onskuldig.

“Ek weet,” sê sy, “net omdat ek sê jý beteken nie ek praat met jou nie.”

“Nou met wie dan? Wie’t iets laat val?”

“Ek,” sê sy.

O.

Sy’t met haarself gepraat. (Partykeer noem sy haarself op haar naam, nie eens ’n skuilnaam nie.) Sy doen dit veral wanneer sy kosmaak. Deurlopende kommentaar as ’t ware, asof sy op BBC Food is.

“Nou sit ek die plaat op 3. Die oond kan rustig op sy eie warm word tot 180 grade. Hier’s die olyfolie. Braai die uie tot sag en deurskynend. Mmm, dit ruik lekker, daar skyn dit nou deur. Waar’t ek die koekroller gesit? Nou’t ek sowaar nie gemengde kruie nie. Toemaar, los dit, ek sal ekstra swartpeper bysit. Daar val die eier uit my hand uit, geklits op die vloer, ja, wat ’n gemors! Nou die bevrore ertjies - en hier’s die koekroller sowaar in die vrieskas, wie sou dit dáár gesit het? Is die oond al op 180 grade? Jip, die liggie is af. Gooi als bymekaar. Nou moet ek net nie die spulletjie laat verbrand nie.”

Sy begin die slaai maak. Selle storie, sy praat met die basiliekruidblare en die kappertjiesaad.

“Het jy iets gesê?” vra jy behulpsaam.

“Nee,” sê sy, “ek het met die fetakaas gepraat.”

O.

Ergste is, sy doen dit nie net by die huis nie.

“Nou wie’t die waspoeier geskuif? Dit was altyd op dié rak,” sê sy in die supermark.

’n Vrou in die verbygaan kyk op, en kyk vinnig weer weg. Maar ’n wakker pakker sê: “Dit was nie ek nie, Mevrou, dit was die bestuurder.”

Die pakker praat heeltemal uit sy beurt. Sy kyk hom aan asof hy uit die lug geval het.

“Die waspoeier is nou in aail no. 3, Mevrou,” bied hy aan.

“Maar ek het jou nie gevra nie,” sê sy verbaas. Al afleiding wat die pakker kan maak, ’n groot vraagteken op sy voorkop, is dat hy te doen het met ’n vrou wat met winkelrakke praat.

“Eintlik soek ek gemengde kruie,” sê sy vir die rak agter haar, toe loop die pakker liewer weg.

Terug by die huis sê sy: “Nou’t hy weer nie die tandepastabuisie se doppie ... en Meneer het nog nooit geleer hoe om ’n leë toiletrol te vervang nie, nee. Ek gaan sien sommer ’n prokureur.”

Dan weet jy sy praat nie met jou nie, maar ván jou - en jy was nie veronderstel om te hoor nie.

“Het jy iets gesê?” vra jy weer.

“Niks, jy verbeel jou,” antwoord sy.

“Ek weet ook nie hoekom ek so met myself praat nie,” sê sy (vir haarself).

“Solank jy nie jouself antwoord of begin terugpraat nie,” antwoord jy.

Kom jy in die badkamer is die tandepastabuisie se doppie terug waar hy hoort en daar’s ’n vol toiletrol netjies op sy plek. (As jy so maklik daarmee wegkom, gaan jy dit volgende keer mos weer doen, nè?)

Julle ruik albei iets brand.

“Whaaa!” hardloop sy kombuis toe. Daar gaan jul aandete op in rook.

“Mmm ... Sien al klaar hoe eet ons vanaand net van die spyse van die liefde.”

Praat jy met jouself