Ek het een van die heel lekkerste goed in my bestaan geëet, suurlemoenbroodpoeding met suurlemoenvla. Mensdom en gedorie! Voeg daarby die eerste kaggel van die winter en ’n onverwagse laaste Hoëveldse donderbui, en jy sal op die swartmark moet gaan soek vir groter genot.

Die poeding was ’n veerligte konkoksie van gebreekte brioche, styfgeklopte eierwit, suiker, likeur, suurlemoensap en skil. Die vla is gemaak met suikerklontjies wat teen ’n suurlemoen gevryf is. Ek was laas so gelukkig toe ek Patti LaBelle die eerste keer hoor sing het, grimering ontdek het, klein George gebore is, ek  skuinskoek geproe het en my eerste skoot Botox ontvang het.

Ná my onderonsie met die poeding en sy verruklike kombersie het ek vir ’n paar oomblikke stilgesit terwyl my lewe voor my verbygestrompel het. Met skil op my
tong en sitrus in my neus het ek my persoonlike geskiedenis gadegeslaan en was verstom om te sien hoeveel historiese geleenthede in die teenwoordigheid van ’n suurlemoen plaasgevind het. Die Grobbelaarsusters se dragtige boord op Riebeek-Kasteel, ’n halwe skuimtert op Ouma se kombuistafel, Topsi wat Roggeland se hele kombuis skoonvryf met ’n halwe suurlemoen, Mia wat liters en liters suurlemoen-en-tiemiestroop kook vir ons ontelbare vodka-kelkies, Pablo Neruda se gedig “Ode to the lemon”, wat my geleer het alledaagse artikels verdien ’n loflied, flesse vol gepiekelde suurlemoene op ’n rak in Franschhoek, ’n silwerskinkbord vol tertjies in ’n Paryse winkelvenster en die honderde koppies suurlemoentee wat al my gaar stem moes terugtoor voor ’n konsert.

Dis ondenkbaar dat die mensdom vir soveel eeue sonder die gebruik van ’n suurlemoen moes klaarkom. Selfs nadat dit wêreldwyd bekend geword het, is
suurlemoene vir lank gebruik as versiering of medisyne. Die bemannings van skepe het dit gebruik om siektes te verdryf en wonde te ontsmet. In die Verre Ooste
en Arabiese lande is suurlemoen gebruik om gif te neutraliseer en in Frankryk het adellike vroue die sap gebruik om hul lippe rooier te maak. In die vroeë
bankbedryf het kassiere hul vingers met suurlemoen natgemaak om vinniger geld te tel.

Dit was in die Victoriaanse tyd dat die smaak en geur vir die eerste keer behoorlik ontgin is. Gegoede families het suurlemoenbome in hul huise aangehou as simbole van voorspoed en om vertrekke ’n vars reuk te gee. Die skil en sap is gebruik om geregte te geur, drankies skop te gee en vleis sag te maak. So ook is die helende wonder van vitamien C ontdek, en die res is geskiedenis.

In die hedendaagse huishouding is die gebruike van suurlemoen onbeperk, vleisdisse, visgeregte, kerries, sop, groente, slaaisouse, koeke, poedings, doopsouse,
tee, koeldrank, konfyte, souse en sappe. Velle word gereinig, hare word gevoed, gemoedere word gekalmeer, baddens word varser  gemaak, oppervlakke en vloere word geskrop, insekte word verdryf en lug word gesuiwer. ’n Kombuis met vars tamaties, goeie olyfolie, knoffel, basiliekruid, growwe seesout en suurlemoen verteenwoordig ’n volledige vars en lewendige koskultuur.

My huidige gunstelinge: suurlemoen uitgedruk oor varsgebakte koek, gedroogde skil in beskuit, suurlemoenstroop in jogurt geroer, oondhoender gestop met heel suurlemoene, lamstjops gemarineer in olyfolie, roosmaryn, swartpeper en suurlemoenskil, jong aartappels met geroomde avokado en suurlemoensap, kaaskoek met vars dadels en versuikerde skil, marmelade met baie gemmer en, natuurlik, ’n reuse-suurlemoenkoek met papawersaad en mascarpone vir SARIE se
verjaardag.

Suurlemoene is vir die eerste keer in duisende jare besig met ’n natuurlike evolusie, hulle verander van vorm en groei klein vingers. (Een soort is die reeds  bekende Buddha’s Hand.)

Vanoggend het ek die verlepte blomme uitgegooi en nou is daar ’n glasbak vol suurlemoene op my tafel. Hulle poseer soos modelle en glimlag soos bruidsmeisies, hulle beloof opwindende ontbyte en glansryke onthale. Hulle is ferm en sappig, hulle is eeue oud en so vreeslik modern.