Daar is raad oor hoe om jou dagtaak te doen, rustig te slaap, bekommernis en stres te hanteer, te rus, fees te vier en kinders groot te maak. Waarskuwings is daar volop - die versoekings van die vlees, die gevaar van te veel voggies, die verleidelikheid van die rykdom - die bedrieglikheid van die bevalligheid, die sekerheid van die ouderdom en die vlugtigheid van die lewe.

Ja, as dit by lewenswysheid kom, het hierdie antieke boek selfs vir vandag se mens veel te leer.

Een van die wyshede wat my telkens weer laat besef hoe ver ek tekort skiet, is die woorde van Jesus: “Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie!”

Selfs die psalmis het gesê dat die Here die slimmes onder ons beskaam deur die mond van die suigeling. En hoe waar is dit nie. Almal van ons - van ministers tot generaals, doktore, professore, predikante, direkteurs en prokureurs - kan in ons slim, volwasse wêreld veel van kinders leer.

Hoe het ek nie onlangs weer besef hoe min ek soms soos ’n kind dink nie. In trane het my dogtertjie kom vertel hoe sy te na gekom is deur maatjies. Die saak het vir my baie ernstiger as die gewone kinderstryery geklink en ek het dit as my ouerlike plig geag om werk te maak daarvan. Uiteindelik het ’n paar van ons volwassenes redelik ernstig oor die situasie verskil, om ’n paar dae later te sien hoe die dogtertjies lankal daarvan vergeet het.

Telkens as ek dae lank tob en daardie dodelike stilstuipe beleef wat glo eie is aan die manlike spesie, dan weet ek ek het kindermedisyne nodig. Om soos ’n kind te kan vergewe, vergeet en verder speel, is voorwaar ’n gawe van Bo. Só kan ons nog baie by kinders leer.

Naby ons huis is ’n speelpark in die bos. Ek kan my verluister aan die gilletjies, gelag, tergery en hemelse klanke van kinders wat ure lank buite speel. Elke nou en dan storm hulle die huis in, op soek na iets lekkers, om net weer met spoed die veld in te vaar. Want belangrike dinge moet gedoen word en donker kom en daar is nog lank nie genoeg gespeel nie.

En dan bid ek - maak my soos ’n kind. Gee my vandag - om te leef, te speel, te bemin en te vergeet wat vergeet moet word. Te leef met die diep wete daar is ’n Vader wat vir my sê ek kan my sorge by Hom los.