Rachel Joyce was oorweldig oor hoe haar eerste boek, The Unlikely Pilgrimage of Harold Fry, wêreldwyd ontvang is en dat dit op die langlys vir die Man Booker-prys vir 2012 was.

Perfect FOTO: verskaf

Ek was gek oor Harold Fry en kon nie wag om, Perfect (Doubleday, R250) te lees nie. Ek was nie teleurgesteld nie. Twee verhale word parallel met mekaar vertel. Byron Hemming en James Lowe, twee kindervriende,  se storie speel af in 1972 toe daar twee minute bygetel is by tyd om horlosietyd te balanseer met die beweging van die aarde. Byron se ma, Diana is betrokke in ‘n ongeluk sonder dat sy dit eers besef. Die twee vriende se  lewe fokus daarop om te probeer om hierdie ongeluk van  Diana weg te hou en om alles te probeer regstel.

Jim is in sy vyftigs en sy storie speel af in die hede en is in skrille kontras met die van Byron. Jim is obsessief kompulsief en sosiaal disfunksioneel. Hy is angsbevange dat hy iemand skade sal aanrig deur bloot net in kontak te wees met hulle en hy sukkel om ‘n sinvolle lewe buite die sielkundige hospitaal te lewe. Hy woon  alleen in 'n tipe karavaan en plant orals waar hy kan plantjies. Hy kruis paaie met Eileen en die verhouding, ten spyte van sy poging om dit te laat boemerang, groei tog sterker. Daar is 'n kinderlike onskuld aan Jim en jy kan nie anders as om hom met empatie te bejeën nie.

Die kern van die verhaal is die verband tussen Byron en Jim. Hierdie raaisel het my aanhou laat lees aan die broeiende en boeiende verhaal. Ek het per e-pos met Rachel gesels oor haar skrywery.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Was jou verras deur hoe goed jou debuut, The Unlikely Pilgrimage of Harold Fry, ontvang is?

Ek was heeltemal verras. Die hoogtepunt vir my was om ‘n uitgewer in die VK te kry wat my boek wou publiseer. Dis waarvoor ek gehoop het. Dit het my nooit by my opgekom dat Harold Fry se sukses regoor die wêreld sal wees nie. Mense vra my waarom die boek so wye impak gehad het. Die eerlike antwoord is dat ek nie weet nie – miskien is dit nie my plek om te weet nie. Dit was ‘n warrelwind ervaring waarvan ek niks as selfvansprekend aanvaar nie.

In daardie boek is die protagonis ‘n man. In jou tweede boek, Perfect, is dit weereens ‘n man. Waarom verkies jy om die hoofrol aan ‘n man te gee?

Ek weet nie of ek dit verkies nie. Dit was net toepaslik vir daardie stories. In ‘n stadium het ek probeer om Perfect uit Diana, Byron se ma, se oogpunt te skryf, maar sy is so ontwykende persoon. Een van daardie mense in die lewe wat dit moeilik is om ‘n greep aan te kry. En toe voel dit heeltemal verkeerd om haar van binne af aan die lesers voor te hou, om dit so te stel. Dit het haar te solied gemaak. Dit lyk asof ‘n pragtige jong vrou haarself in die kern van my derde boek plaas. Dit voel vir my asof  dit baie moeilik gaan wees om haar te ignoreer.

Jim is ‘n aangrypende en hartseer karakter, sonder om bejammerenswaardig te wees. Hoe moeilik was dit om sy karakter te skep en het jy hom op ‘n ware persoon gebaseer?

Jim is nie op iemand spesifiek gebaseer nie, of ten minste nie as geheel nie. Wanneer ek my hoofkarakters skep, gebruik ek ‘n klein stukkie van myself as afspringplek, en miskien ‘n glimp wat ek van iemand gekry het, en dan dink ek dit verder uit. ‘n Man het elke dag by ons huis verby gestap. Hy het ‘n baie kort, ongevoelige en brutale haarsnit gehad. Hy het altyd op sy klein hondjie geskreeu asof sy ‘n leeu was. Maar daar was iets aan die brutaliteit van die haarsnit en die uit die plek wees van sy geskree wat my geraak het. Ek het gevoel hy is al deur baie in die lewe. Miskien het hy my verbeelding aan die gang gesit.

Waar kom jou inspirasie vir die storie vandaan?

Die eerste stukkie van die storie het ek jare gelede gekry toe my oudste dogter net begin skoolgaan het en my seun ‘n baba was, en ek op pad was skool toe. Ek het ‘n bord koekies op die passasiersitplek langs my gehad vir die skool se koekverkoping. En ek het van voordat  Jo gebore is, sleg geslaap; boonop was ek bekommerd oor my dogter by haar nuwe skool en Jo se geskree. Ek onthou hoe ek besef het dat ek so moeg en dun gesaai was dat as enigiets buitengewoon sou gebeur, ek nie die krag of ruimte sou hê om dit te hanteer nie. Dit was skrikwekkend.

Waarom het jy die hele storie gebou rondom die konsep van “The addition of time”  en hoe beduidend was die twee sekondes werklik?

Die twee sekondes was beduidend want die blote gedagte daaraan skop ‘n hele rits gebeure af wat baie, baie jare neem om reg te stel. Ek het nie van die toevoeging van tyd in 1972 geweet nie, totdat ek navorsing vir die boek begin doen het. Ek het ook net besluit om die storie in 1972 te laat afspeel want ek was toe 10 en ek wou my so veel as moontlik in Byron se skoene plaas. Om uit te vind twee sekondes was regtig toegevoeg by daardie jaar (‘n jaar waarin ek ‘n lewensveranderende en skielike ongeluk wou plaas) was om een van daardie oomblikke in skryf te ervaar, wat soos ‘n geskenk is. Jy sien dit nie kom nie, jy het nie eens beplan daarvoor nie, maar dit werk. Dit het my hoendervel gegee.

Hoe het jy die boek geskryf; het jy van die begin af geweet hoe Byron se lewe gaan verloop?

Ek het heeltyd geweet wie Byron was. Ek het ‘n baie duidelike prentjie van hom gehad. Ek het die twee drade van die boek in volgorde geskryf, alhoewel ek spring tussen die 1972 storie en die huidige een, wou ek seker maak die twee storielyne het die plot voortgestu vir die leser.

Waar kom die titel vandaan en waarom juis Perfect?

Ek is, soos jy dalk kon raai, nie ‘n groot voorstander van die idee van perfeksie nie. Vir my impliseer dit dat jy dink jy is gemaak, en ek sien die lewe nie so nie. Maar hierdie karakters probeer almal op een of ander manier om perfek te wees, om die lewe reg te kry. Op omtrent elke bladsy probeer iemand om dit te doen en wat dit nie regkry totdat hulle leer om dit anders te probeer nie. Dit het daarom vir my na die enigste titel gelyk.

Hoe het jou lewensreis verloop tot die van skrywer?

Ek het altyd goed neergeskryf. Selfs as kind het ek stories geskryf. Ek dink dis hoe ek sin maak van die lewe en van hoe ek voel. Na universiteit was ek ‘n aktrise. Ek het jare in die teater gewerk en het eers die skuif na die skryf van radiodrama's gemaak toe ek swanger was met my eerste dogter. Mense vra of ek die verhoog mis, maar ek doen nie, want ek dink jy gebruik dieselfde spiere, net op ‘n ander manier! Jy gebruik wat jy ken en jy is nie bang om diep daarin te delf nie. Dit pas my temperament ook beter om te skryf. Ek is nogal ‘n private persoon.

Wat is vir jou die lekkerste van skryf?

Skryf is vir my soos om iets te maak. Ek is gek oor die proses. Dis nie ooglopend aan die begin nie. Ek moet die storie konstant in my kop laat ronddraai en nuwe vorme toets totdat ek die waarheid vind soos wat ek dit sien. Ek werk ook by die huis uit ‘n werkwinkel met ‘n uitsig oor die vallei. Terwyl ek nou sit en skryf is die heuwels bedek met ‘n kombers van silwer mis. Dis pragtig. Waarom sal ek nie daaroor wil skryf nie?

Is daar ‘n moontlikheid dat een van jou boeke verfilm sal word?

Die regte vir The Unlikely Pilgrimage of Harold Fry  is gekoop en daar word aan ‘n draaiboek gewerk. Ek kan nie wag om te sien wat iemand anders met die storie doen nie. Ek voel glad nie besitlik daaroor nie. En daar word gefluister oor ‘n verdere lewe vir Perfect, maar ons sal moet wag en kyk. Ek dink daar is iets te sê vir die waardering van boeke as boeke – en die reis waarop jy gaan wanneer jy lees.