Waar woon julle?
In die noorde van Spanje, net buite die stad Valladolid. Die inwoners is trots daarop dat Valladolid, die destydse hoofstad van Spanje, bekend is as die plek waar Christopher Columbus gesterf het. Ons voorstad, Laguna de Duero, is net buite die stad. Ons woonstel kyk uit op 'n ou katedraal en is deel van die hoofplaza.

Was dit 'n groot aanpassing?
Taal was die grootste aanpassing,maar 'n lekker uitdaging. Ons is albei al byna 80% taalmagtig. Die siësta en etenstye was ook nogal iets om aan gewoond te raak. Alles sluit daagliks tussen twee en vyf, behalwe restaurante en koffiekroeë. Middagete is 'n instelling en duur 'n paar uur. Aandete is eers omtrent ná tien saans. Spanjaarde is ontsettend sosiaal en gasvry.

Hoekom speel Regardt juis daar rugby?
Hy het destyds vir die OP gespeel en toe 'n kontrak in Engeland gekry. Hy was twee jaar daar. Toe verander die visumregulasies en kon hy nie langer wettig daar aanbly nie. Terug in SA het hy 'n uitnodiging ontvang van sy huidige klub, Cetransa El Salvador. Hoewel Spanje nie juis 'n rugbyland is nie, word dié sportsoort al jare lank hier beoefen. Hulle het al aan die Wêreldbeker deelgeneem. Cetransa El Salvador is 'n topspan en Regardt het al hul toekenning as waardevolste speler ontvang.

Wat doen jy?
Ek was tot onlangs 'n Engels-tutor by 'n private kollege, maar het bedank om my suster met haar troureëlings te help. Ek is ook 'n agent vir 'n Europese sportagentskap en word tussenin deur Regardt se rugby besig gehou.

Wat mis julle?
Ons albei het op plase in die Oos-Kaap grootgeword en mis familie, vriende en die plaaslewe. Regardt mis veral braaivleis of gebraaide lamsboud op Sondae, terwyl ek die meeste na my honde op die plaas verlang.

Reis julle baie?
Nogal, Regardt net meer. Sy span speel elke tweede naweek 'n weg-wedstryd. Ons het heelwat van Spanje en die suide van Frankryk verken. In Italië was ons in Milaan en Parma. Ek het selfs 'n bietjie van Ierland verken saam met my ma en suster. Ons was vir 'n fantastiese vakansie na Majorka. En deur die kanale van Amsterdam. Die opwindendste reis is egter altyd die ene huis toe!

Hoe ontspan julle?
Ons gaan baie na die Picos de Europa,'n bergreeks tussen Spanje en Frankryk. Ons Spaanse vriende het 'n naweekhuisie daar. In die winter stap ons in die sneeu en in die somer stap ons en ry bergfiets. Ons eg Spaanse pêlle nooi ons voortdurend saam na fiëstas, onbekende plekkies en kultuur-saamtrekke.

Lekkerste van daar wees?
Die lewe in Spanje is rustig en verrykend. Dis lekker om maklik te kan reis. Europese gastronomie het ons 'n wêreld van geure en smake laat ontdek. Soms verlang ons, maar dis nooit 'n slegte gevoel nie, want dit herinner ons net aan waar ons wortels en harte werklik lê.

Het julle Penélope Cruz al in die strate gesien?
Nog nie,maar haar kêrel, Javier Bardem, was 'n nasionale rugbyspeler vir Spanje en het 'n paar jaar gelede nog vir CRCMadrid uitgedraf.

Watter stad in spanje is vir julle die mooiste?
Seville! Met meer as 30 000 lemoenbome is dit deurdrenk met die geur van sitrus. Die Catedral de Santa María de la Sede is 'n belewenis en die sangria en paella is sielsappig lekker.