As jy gedink het die Jimny is ’n klein viertrek vir ’n stadsmeisie wat op die sypaadjie wil parkeer, het ek nuus vir jou. Dié kordate ryding is ’n hardebaardkalant wat alles kan doen wat sy groter rofry-rolmodelle regkry. As jy die Hel of selfs dongas wil aandurf, kan jy op dié Suzuki se 4x4-tegnologie (ja, ook laestrek-ratte) staatmaak. Sy voorsaat was nie verniet die Samurai 4x4 nie! Die groot vensters sorg vir goeie uitsig en hoewel pakplek maar effentjies is, kan die agterste sitplekke platslaan vir jou tent en kampstoele. Die 1.3 liter-enjin is ook geen gulsige vraat nie – 7,2 liter/100 km. Veiligheid is nie afgeskeep nie – daar is ABS-remme, lugsakke voor, rukstopgordels en frommelsones in geval van ’n botsing. Al probleem met die Jimny is dat baardman nie sy hande van hom kan afhou nie. Die handrat-model kos R179 900.