Skaars het ek met die Sandero by my motorhek ingery of my buurman wou weet hoe hy ry. Daar’s nie klagtes van my kant nie. Die 1.6-liter-enjin sal dalk nie goed wees vir sommige baardmanne se bloeddruk nie, maar ek was beïndruk. Vier van ons, elk met ’n naweeksak in die kattebak, het baie lekker gesit vir ’n rit see toe. Vir ’n derde maeretjie op die agterste sitplek sou ons ook kon plek maak. Die motor, wat by Rosslyn buite Pretoria in Nissan se nuwe fabriek gebou word, hanteer gemaklik op die oop pad en in stadsverkeer. Daar’s lugsakke vir die voorste insittendes, kragstuur, lugversorging en ABS-remme met remhulp. Nog pluspunte is die goeie uitsig en die feit dat onderdele danksy die plaaslike vervaardiging makliker beskikbaar sal wees.

Drie 1.6-modelle – die United, Cup en League – se pryse wissel van R119 800 tot R139 800.