Young Adult is nie 'n plesierige Sondagmiddaguitstappie nie. Dit is ook nie die komedie wat die voorprent dit uitmaak om te wees nie. Dit is 'n ernstige en deeglike ondersoek na die menslike psige en die film kyk veral na diegene wat nooit groot word nie.

Die storie
Mavis, skrywer van 'n eens suksesvolle tienerfiksie reeks wat binnekort gekanselleer gaan word, keer terug na haar tuisdorp om haar hoërskool liefde, Buddy, terug te wen. Die enigste probleem? Buddy is getroud en die trotse pa van 'n nuwe baba. Dit skeel Mavis blykbaar min.

Die hoogtepunte

Charlize. Charlize. Charlize. En Patton Oswalt.

Die humor is droog, vlymskerp en lewer bytende kommentaar op die samelewing. Ek is bevrees dit gaan wel nie toeganklik wees vir 'n breër filmgehoor nie.

Young Adult kyk na 'n groot probleem in moderne samelewing – individue wat nie emosioneel ‘grootword’ nie. Ons almal het so 'n tipe vriend of familielied wat doen net wat hulle wil, nooit gelukkig is met die lewe nie en dink die wêreld skuld hulle iets. Wat Young Adult beweer is dat die fenomeen al hoe groter word, dat mense nie gelukkig is nie, net oorleef en niks daaraan doen nie.

Young Adult gee gelukkig ook geen antwoorde nie, dit gee jou bloot 'n blik op hierdie mense se lewens. Ek sê ‘gelukkig’, oor die antwoorde op hierdie probleem kompleks is, te kompleks dalk vir 'n filmregisseur om op te los, maar die moeite werd is om onder die soeklig te plaas.

Die laagtepunt
As filmresensent sien ek baie films en word ek blootgestel aan verskillende vorms/kwaliteit van draaiboeke, kamerawerk, karakterontwikkeling, ens. Dit is dus maklik vir my om die ‘film meriete’ in Young Adult te sien. Ek sou ook bitter min aan die film wou verander. Tog besef ek die film is ongelukkig nie baie toeganklik vir 'n breër gehoor nie. Dit is 'n jammerte, want dit is 'n onderwerp wat getakel moet word.

Vir wie sal ek dit aanbeveel?
Mense wat films kyk vir meer as blote ontspanning.

Opsommend
Young Adult is 'n merkwaardige film, wat krities na ons samelewing se tekortkominge kyk en hierdie resensent vir dae lank daaroor laat wonder het.

Spelers: Charlize Theron, Patrick Wilson and Patton Oswalt
Regisseur: Jason Reitman
Skrywer: Diablo Cody
Tyd: 94 min