Soos: “Hoekom staan weervoorspellers op TV altyd voor die Kaap?”

Jy sou dink dis bloot ’n retoriese vraag, maar moenie dink nie. Om net ’n aanduiding te gee dat jy die vraag wel gehoor het - jy frons of roer jou ore - is nie goed genoeg nie.

Sy wag op ’n antwoord. Van jou.

(“Ek weet nie” is nie ’n antwoord nie.)

“En wat sou geword het van daardie vroue-weervoorspeller wat altyd praat van ‘verspryde donnerbye innie syde’? Dan staan sy die héle weerkaart vol - van die Weskus tot Port St. Johns en bo tot by Polokwane.” Jy wonder of dit ’n vraag is. Dit is.

Sy wag op ’n antwoord. Van jou.

“Sy kon seker nie meer die slegte weer vat nie,” waag jy dit. Sy kyk jou aan asof jy ligsinnig is. Sy’t haar klaar vandag vervies vir een of ander ou in ’n motor wat vir haar getoet het.

“Wie dink hy miskien is hy?” vra sy nou, ure later, verontwaardig.

Sy wag op ’n antwoord. Van jou.

“Ek was nie by nie,” antwoord jy versigtig. (Die regte antwoord sou iets wees soos: “Die onbeskofte vent!” Maar jy’t nie betyds daaraan gedink nie.)

“So, kies jy nou daai ou se kant?” vra sy reguit.

Sy wag op ’n antwoord. Van jou.

“Het jy nie dalk voor hom ingery nie?” waag jy dit. (Heeltemal die verkeerde antwoord, sy hoor nie eens die vraag nie.) Sy sê sy sien die nuwe bure verf hul huis, “maar hoekom sal enigiemand ’n huis dáárdie kleur wil verf?”

Sy wag op ’n antwoord. Van jou.

Los die nuwe bure, sê jy.

“Dis tussen roesbruin en niks,” sê sy. “Kies jy nou ook die bure (en die nuwe buurvrou) se kant?”

Sy wag op ’n antwoord. Van jou.

“Nog nooit!” sê jy, en jy voel jou geroepe om by te voeg: “Daai buurvrou het kennelik nie smaak nie.” Dis 100% die regte antwoord!

“Hoekom sou sy so ’n vreemde verskynsel vir ’n boyfriend gekies het?”

Sy wag op ’n antwoord. Van jou.

“Sal nie kan sê nie,” antwoord jy na die beste van jou vermoë. (Onthou: “Ek weet nie” of enige kombinasie daarvan is nie ’n antwoord nie.)

“Maar wat dínk jy?”

Ding is, sê jy: Jy dink nie daaroor nie, jy’t sekerlik beter dinge om aan te dink as vreemde verskynsels en boyfriends wat jy nog nie eens ontmoet het nie.

“Wat word van die wêreld?” vra sy sugtend-gelate.

En sy wag op ’n antwoord. Van jou.

“Die wêreld draai om sy eie as,” sê jy. “Ons weerpatrone verander en daar’s te veel vloede en droogtes en motors, gate in die lug en te min woude. Die wêreld het te warm geword vir die mens,” kom jou filosofiese kant na vore, “en een van die dae kan China nie meer genoeg rys produseer nie en wat word dán van die wêreld?”

Jy’t haar vraag netjies omgeswaai en vir haar teruggegee. Maar sy vat dit nie by jou aan nie: “Jy’t nog nie my vráág beantwoord nie,” troef sy.

“Watse vráág?”

“Hoekom staan weervoorspellers op TV altyd voor die Kaap?”

* Word vervolg, daar is ’n antwoord ...