Ons het ‘n onverwagse week by die see gehad, sommer so onbeplan en in daardie week het ek, soos ons almal wanneer ons met vakansie is, al die tydskrifte van die maand deurgewerk! Toe ek sien wat ander mense se getuienisse vir my beteken het het ek dit sterk op my hart gekry om my pad van die afgelope 6 jaar met ander, veral vroue, te deel, hoofsaaklik omdat ek nie kan stilbly oor hoe groot God is en hoe Hy elkeen van ons bekragtig vir ons beproewinge sodat Sy Naam daardeur verheerlik kan word. Ek het vir Neels, my man, hiervan vertel en hy het my dadelik aangeraai om iemand te kry wat my kan help. Ek het besef hierdie is iets wat ek heel eerste by die voete van die Here moet gaan neersit en dan te wag op die pad wat Hy my wys. Die eerste naam wat by my opgekom het was Philmari Brummer ‘n Vriendin by wie ek al my advertensiewerk laat doen, ek het geweet sy sou my kon raadgee. Dadelik antwoord sy toe terug met jou mailadres!!! Voorkoms was nog altyd vir my baie belangrik, dalk TE belangrik! Tot en met 5 jaar gelede het ek rede gehad om myself te klassifiseer as volmaak gelukkig....... gelukkig getroud met Neels Dykman, ‘n makelaar van Kroonstad. ‘n Droomman en die pa van ons 4 pragtige kinders. Ek het myself uitgeleef in my beroep as kindertuinonderwyseres. Saam met my kinders se bedrywighede was my dae vol en bedrywig, maar dit was vir my lekker! Ek het gehou van baie praat. Dis mos waaruit ‘n kindertuinjuffrou se dag bestaan, ek het gehou van mooi rooilippe, mal oor lekker eet, interressante nuwe resepte en kosse, en toe, juis daar op die sentrale punt van my hele menswees het die Here my aangeraak! Ek wil my pad baie graag met ander vroue deel want ons vrouens is mos maar konstant besig om fout te vind met onsself oor een of ander iets aan ons voorkoms! Ek stuur my getuienis vir jou en heg ‘n paar foto’s aan. Ek het immers aan die begin van my pad vir die Here gese: “Ek sal lewe en nie sterwe nie en van die Here se groot werke vertel” Ps118:17 In November 2006 kom ek agter dat een van my tande geen lewe het nie. Ek steur my nie veel daaraan nie maar besluit tog om tandarts toe te gaan want ons is oppad see toe en, dink ek by myself, ek is nie lus vir ‘n abses by die see nie. Geen fout kan gekry word nie en my tandarts raai my aan om lekker te gaan vakansie hou en in Januarie sal hy my verwys na ‘n mond-kaak spesialis. Die hele vakansie is ek bewus van ‘n vreemde naalde en spelde gevoel op my ken, ‘n warm snaakse sensasie! Na vele x-strale en ondersoeke besluit die mond-kaak spesialis dat ek op my tande kners en ‘n bytplaatjie word vir my gemaak. In die week wat ek wat vir die bytplaatjie voel ek ‘n knoppie, so groot soos ‘n ertjie op my ken.......vandag nog vir my ‘n teken dat die Here my sou spaar. ‘n Biopsie word toe daarvan geneem en ek word gediagnoseer met Osteo Sarkoom – kanker in die kakebeen! Ek land by ‘n wonderlike mond-kaakchirurg en onkoloog! Ek ondergaan ‘n reeks chemobehandelings en chirurgie om die deel van die kakebeen waar die gewas was te verwyder. Phibula word dan uit die onderbeen gehaal en oorgeplant sowel as are vir die nodige bloedtoevoer vir latere implantate. ‘n Operasie van 12ure maar ons is baie verlig want dis mos dan die einde van die moeilike pad! Na twee weke bel die dr. ons met die skokkende nuus dat hulle kankereilande op albei punte van die been gekry het wat uitgehaal is en dat ek weer so gou as moontlik geopereer sou moes word. Hulle vaat toe nog ‘n stuk vd kakebeen weg en na 2 weke kom die volgende teleurstelling daar is steeds kankereilande aan die een kant van die been. Die pataloë kan ongelukkig nie in die teater die uitslag geen nie want omdat die kanker in die been is moet dit eers gekweek word en kan hulle dan eers die uitslag oor 2 weke gee. Weer gaan ek vir ‘n derde operasie, hulle verwyder nou nog ‘n stuk van die kakebeen sodat daar net 3 kosbare tande oorbly. Die dr stuur my terug vir nog chemoterapie om veilig te wees. Onder my tong op die mondvloer voel ek die heeltyd ‘n harde knopperige vergroeisel. Almal stel my egter gerus dat dit net bindweefsel is maar ek bly onrustig en heeltyd bewus van hierdie vreemde onwelkome knopperige vergroeise wat teen ‘n tempo groter word. Om my gerus te stel dring ek daarop aan dat daar ‘n biopsie van die weefsel gedoen moet word en na 2 weke kry ons die uitslag dat die kanker in die weefsel op die mondvloer versprei het! Hulle verwyder die hele mondvloer tesame met die laaste stukkie van die kakebeen met die 3 tande wat oor was. My bobeenspier word uitgehaal en daarmee bou hulle weer vir my ‘n mondvloer. Hierdie hele proses het alles in ‘n jaar en 4maande gebeur. Vandag kan ek terugkyk en die Here se goue draadjie dwarsdeur die afgelope 5 en ‘n halwe jaar geweef sien. Heel aan die begin het die Here vir my 2 Kron 20:15 gegee. Hy het gesê ek moet nie bang wees nie die oorlog is nie myne nie, Hy sal vir my veg en my ooit alleen los nie! Daarvan kan ek getuig, Hy het my nooit alleen gelos nie, tot vandag toe nog! Hy het my gepantser met ‘n wonderlike ondersteuningsraamwerk. My grootste bron van krag ongetwyfeld God wat my letterlik omvou het en op Sy skoot getel het. Ek het agtergekom dat God meer geinteresseerd is om ons te verander as wat Hy is om ons omstandighede te verander. Dis vir Hom swaar om ons te sien swaarkry maar Hy verlustig Hom in ons Geestelike groei en is dit nie waar dat hierdie geestelike groei mos ontwikkel gedurende die swaar tye nie? Dit leer ons om nie op onsself te vertrou nie en dit gee ons medelye met ander mense wat ook ‘n moeilike pad stap. Die krag van gebed is opwindend! Familie en vriende dwarsoor die hele wêreld het begin bid en by die Here se voete gepleit! Kosbare vriende het vir my gevas gedurende my operasies en tydsindelings is gemaak dat daar letterlik minuutliks vir my gebid was. Dis hoe die Here my bederf het en die oorlog op Sy juk geneem het sodat dit vir my ligter kon wees! Dan was daar my juweel van ‘n man met wie ek al my vrese kon deel saam met wie ek lekker kon lag te midde van moeilike omstandighede, want die Here het ook vir my gewys dat vreugde my krag was teen aanvalle van satan. Dit klink onmoontlik om vol vreugde te wees in moeilike tye maar dis juis dan wat ons baie meer daarvoor moet vra! Ek vra nou nog elke dag vir die Here om my vol van die vreugde van Neh 8:10 te maak. Daar staan die vreugde van die Here is my krag, in engels so mooi, the joy of the Lord is my strenght! Daar het soveel goeie dinge uit hierdie pad van beproewing met ons familie gebeur. Baie kosbaaar vir my was dat die Here ook d vir Neels, my man, aangeraak het om sy lewe te verander en in ons huis koning, priester en profeet te wees. Hy dien die Here met toewyding. Daar is niks so lekker as om saam met jou man opgewonde te kan raak oor die almag van God nie! Wat alles deur ons pragtige 4 kinders se gedagtes gegaan het, sal ek tot vandag nog nie weet nie, maar daar was moeilike tye vir hulle van onsekerheid, maar weereens was dit vir ons gesin ‘n “wake-up call” Verseker weet ons kinders vandag waar hulle hulp vandaan kom. Omdat nie ons of die dokter geweet het hoe groot die gewas op my mondvloer regtig was nie kon ek my nie voorberei vir wat sou kom nie, ek kan net onthou dat ek regtig op daardie stadium gewonder het waar alles gaan eindig, ek het gewonder wat hulle alles gaan wegsny want ek het agtergekom dat wanneer hulle kanker verwyder, hulle dit gggressief doen met een doel voor oë en dis om die kanker uit te kry! Hierdie operasie was vir my die heel ergste! Vir my wat ‘n onderwyseres was, mal oor rooi lippe, lekker eet en baie praat was dit ‘n skok om te besef ek gaan dalk moeilik praat want ‘n deel van my tong en onderlip is weggesny. En ja, die Here stuur engele op ‘n mens se beproewingspad. Soos die vriendin wat ek glad nie op daardie stadium geken het nie wat gevra het of sy my vir kyknet se superhero kompetisie kon inskryf. Ek het in my binneste gewonder wat op aarde sy my voor gaan kan inskryf met so ‘n gesig! Toe sy vir my die foto’s kom wys was dit so mooi dat ek besef het dat dit die Here se manier was om vir my weer my menswaardigheid te kon teruggee! Die kosbaarste belofte wat die Here vir my gegee het waaraan ek steeds vasklou is in die nuwe lewende vertaling in Jer 31:3-5 “Ek sal jou herbou soos jy vroeer was jong vrou, jy sal weer jou tamboeryn te voorskyn haal. Jy sal dans en vrolik wees....jy sal weer jou wingerde plant.” Twee jaar gelede het hulle my rekonstruksie gedoen waar hul die ander phibula uitgehaal het en om ‘n plaat vir my ‘n kakebeen opgebou het wat in Amerika volgens my ou xstrale gemaak is. Dit was nie suksesvol nie en die plaat moes weer uitgehaal word omdat die plaat te groot was gevorm was en dit moeilik gemaak het om vir my ‘n perfekte byt te kon gee om weer normaal te kon funksioneer. Daar is op ‘n stadiun kleiner plaatjies ingesit en been is uit die heup gehaal, maar dit was nie stewig genoeg nie en my byt het geskuif wat dit weereens moeilik gemaak het om net normaal te kon kou. Dit was nie elke dag maklik nie, maar weereens vind ek elke dag my krag in Neh 8:10 se vreugde en besef ek al hoe meer, my tyd is nie God se tyd nie en herinner Pred 3:1 my gereeld geduldig daaraan dat daar ‘n vaste tyd vir alles is en dat elke ding onder die son sy tyd het! Aan die begin van die jaar het ons saam met my mond-kaak chirurg besluit dat ons nog een laaste kans het om die rekonstruksie oor te doen. Dit sou dan die 13de operasie wees. Hulle sou weer ‘n soliede plaat insit en dan agterheupbeen uithaal om oor die plaat te lê. Dit was ‘n maand terug gedoen en danksy almal se gebede en die drs se toewyding en beplanning was dit ‘n baie geslaagde operasie! Ek moet nou geduldig wag dat die been mooi sterk aangroei om Januarie 2013 te begin met die implantate, verseker gaan my belofte in volmaakte vervulling gaan. Die tweede deel van my belofte, jy sal jou tamboeryn opneem en dans en vrolik wees is reeds vervul met die kosbare vreugde van Neh 8:10 en die laaste deel, jy sal weer jou wingerde plant is net so waardevol. Ek het wel weer aansoek gedoen vir poste maar sonder enige sukses! Weereens het die Here my so geseen met ‘n baie beter deur wat oopgegaan het. ‘n Vriendin en ek het saam koffie gedrink toe sy uit die bloute vir my sê dat ek ‘n kursus moet gaan doen om vroue met hulle klerekaste te help – ‘n voorkomskonsultante. Vir my was dit onmoontlik met al ons onkostes op daardie stadium onm R20 000 bymekaar te kry vir die kursus. Sy het die kursus vir my betaal nadat ek eers wou redekawel het sy net daarop aangedring!! Ek het die kursus gaan doen en vandag kan ek vroue help om op hulle mooiste te lyk! Ek kan ook my getuienis met hulle deel en verduidelik dat as ‘n mens se hart nie reg is nie kan jy nie op jou mooiste lyk nie! Ek doen kleuranalises, figuur en styl, grimering en haarstyle, klerekasbeplanning en dan gaan doen ek saam met my spesiale kliënt inkopies! So het die Here, getrou aan al Sy beloftes, sonder twyfel die oorlog vir my geveg en my nooit alleen gelos nie! Ek lewe en het nie gesterwe nie en kan van Sy groot werke vertel! Ek heg ‘n paar foto’s aan! Dankie dat ek my storie met jou kon deel! Liefde Riëtte Dykman