En natuurlik is die regte tyd die tyd wat óns pas, die gemaklike, voorspelbare tyd. En elke ma wat ’n kind in die wêreld ingebring het en groot moes kry, sal weet hoe die mens van sy eerste oomblikke beswaar maak teen die omverwerp van sy roetine. Meng in met die skedule en daar is moeilikheid, bring die melk tien minute laat en daar is ’n klein oorloggie.

Die één groot taboe: Moenie met die roetine lol nie!

En word ons groot, verander niks. Ons buig steeds voor die grootste van al ons aardse gode: Roetine.

Dit maak nie saak hoe besig ons is nie, solank ons net kan weet wat om naastenby te verwag. ’n Volmaakte week is nie noodwendig ’n vredevolle of produktiewe week nie. ’n Volmaakte week kan selfs uitputtend, oorlaai en chaoties onproduktief wees, solank dit net in die raamwerk kan inpas van probleme wat gereeld opduik.

Swaarkry is nie die probleem nie, solank dit net die swaarkry is waaraan ons gewoond is!

Hierdie oorlewingsmeganisme is sekerlik nodig in ’n lewe waar elke minuut van ons dag volgeprop word. Ons is nou só veilig in ons voorspelbare wêreld dat ons byna nie daaruit kan ontsnap nie.

Maar elke nou en dan kom die lewe en voel vere vir ons voorspelbare bestaan. Sonder respek vir ons beplanning, vir ons verwagtinge en allermins vir ons gemak.

Ek en die skoonheid in my huis het onlangs deeglik kennis gemaak met hierdie geneigdheid van die noodlot om te verskil van óns idees oor die pad vorentoe. Veilig in ons nuwe huis waarvan elke hoekie en draaitjie beplan is. Ook ons beroepe was gevestig en betreklik gemaklik.

Kortom: Die roetine het gewerk.

En toe kom dit - ons planne bots met die planne wat op ’n ander plek vir ons gemaak is.

Natuurlik is ’n mens onmiddellik terug waar jy was toe jy hierdie wêreld betree het. Jy skree en protesteer en soek onmiddellik jou bottel. Maar gaandeweg begin iets tot jou deurdring. Die roetine wat tel, is nie die een wat in jou eie hande is nie.

En só, op pad na ’n kleiner dorp, ’n ander bestaan, besef ons maar net weer hoe gevaarlik, en hoe vol avontuur dit is om te bid, en dit te bedoel: “Laat U koninkryk kom, laat U wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde."