Op 21 April 2009 is dit weer 'n vroeë oggend – 07:00 –  in Johannesburg, met 'n kreatiewe span wat baie gretig is om Rolanda om te tower met ons ou SARIE-voorblaaie as inspirasie. Skoensole word beplak sodat die sole nie beskadig word nie, terwyl Rolanda nóg mooier gemaak word deur Lesley (grimering) en Saadique (hare). Met TV-kameras wat rondom ons draai – iets heeltemal nuuts vir my – raak dinge nogals interessant. Daar moet heeltyd doodse stiltes wees wanneer hulle met elkeen van ons onderhoude voer. So elke nou dan en vergeet iemand en wil vinnig 'n storie vertel. Dan shhhh almal vir nog 10 minute!
Rolanda is gemaak om voor die kamera te wees, sy sprankel ten spyte van 'n ligte verkoue. Dit maak ook nie saak wat jy vir haar aantrek nie – sy dra dit met grasie en styl. Ons het lekker gelag die dag voor die shoot op kantoor, toe Fanie een van die uitrustings wou aanpas – maar die middel van die romp het net om sy bo-been gepas! Vir die fyne Rolanda pas die romp soos 'n handskoen. Die mode-afdeling skiet maar min in Johannesburg en dit was lekker om weer saam met 'n Johannesburgse span te werk en deel te wees van die haastigheid – al was dit net vir 2 dae.