Ryger sleur jou mee met sy verhale wat soms absurd, humoristies en ontstellend is. Jy kan die boek nie neersit voor die einde nie.  

‘n 101 Bakgat Maniere om te Lewe en Sterwe (Queillerie, R210)bestaan uittwee uitstekende verhale soos net deur R.R.Ryger vertel kan word. Karien Labuschagne vertel meer oor sy jongste boek en vra vir Ryger 'n paar vrae.

In Bloedlyn word Dirk Steyn, joernalis en skrywer oor die okkulte, deur Josef Staal gehuur om sy dogter, Maria te vind. Maria, ‘n ontkleedanseres, het na ‘n rusie met haar pa uit die huis gestorm. Hy begin sy ondersoek deur met Ansie, sy oorlede vrou Roelien, se suster te praat. Ansie was saam met Maria op skool. Sy raai Dirk aan om eerder met Duane, sy broer, te praat. Dirk laat Duane vlieg van Kaapstad na Johannesburg om te kom help om vir Maria op te spoor. In die soektog na Maria kom hulle in aanraking met ‘n satanistiese kultusleier, ‘n kannibalistiese dwerg en ‘n psigopatiese pastoor. Die storie neem ‘n verrassende en absurde wending aan die einde.

In Kaktushart ontmoet Walter Cronjè, die suksesvolle afrigter van die Springbok-rugbyspan, Essie Kokkot weer na lang jare. Hulle was saam op laerskool. Essie is deesdae ‘n kontroversiële kunstenaar, redaktrise van haar eie kunstydskrif en lektor by WITS. Sy nooi hom om langer by haar te kuier. Hy stem in, maar berou sy besluit as Essie en haar vriende hom teen sy wil aanhou. Hulle besluit om sy hart met ‘n kaktus te vervang as deel van ‘n unieke kunswerk.

Jou verhale is nogal bloeddorstig. Waarom?

Ek is nie so seker oor die “bloeddorstigheid” nie? Ek dink daar is baie ander Afrikaanse verhale tans in omloop wat rooier is. Die bloed wat vloei in my verhale is hopelik nie soos in iets soos slasher-movies nie, maar geloofwaardig.

Die vroue karakters het altyd een of ander probleem – fisiek of emosioneel en kom voor asof hulle nie by hul sinne is nie. Hoekom skets jy jou vrouekarakters so?

Die vroue wat so oorkom kom so oor, omdat dit deel van die verhaal is. Dis nie asof ek iets teen vroue het nie. Ek is van kleins af omring deur wonderlike, sterk vroue. My ma het op 'n rustige manier ‘n groot invloed op my kreatiwiteit gehad. Sy het my standvastigheid gegee in die lewe, soos my vrou, Willemien nou doen. My skoonma, Alet Koen, is ook ‘n sterk vrou wat al die wêreld vol gereis het vir besigheid.

Is die okkulte iets wat jou fassineer, want dis ‘n onderwerp waaroor jy voorheen ook reeds geskryf het?

Dis een van baie dinge waarin ek belangstel.

Is dit makliker vir jou om onder R R Ryger te skryf as onder jou alter ego, Michael Green?

Dit maak geen verskil nie.

Hoe sien jy jouself as skrywer?

Ek sien myself as ‘n ontsettend gefrustreerde skrywer. Uitgewers is lugtig om my boeke te publiseer en as hulle dit gedoen het, koop sekere boekwinkels dit nie aan nie. Ek maak bitter min geld uit my boeke. Wanneer ek dan mense ontmoet wat vir my sê hulle het begin flieks maak, of musiek/sing of self skryf omdat ek hulle met my boeke geïnspireer het, voel ek dis seker maar die moeite werd.

Is alles fiksie of gebruik jy ware gebeure om die stories op te baseer? (Fact is sometimes stranger than fiction)

Miskien beter om nie daardie een te antwoord nie!

Gaan ons eendag ‘n volledige verhaal oor rugby uit jou pen sien?

Ek hoop so. Maar daar sal eers ‘n kortverhaalbundel met essays en goed oor rugby uitkom voor dit, dink ek. As rugbyskrywer van beroep lê die sportsoort diep in my hart.

As jy akteurs kan kies wat jou karakters moet uitbeeld, wie sou dit wees?

Ouens soos Christopher Walken, David Bowie, Woody Harrelson, Casper de Vries, my seun, Gareth, en die Wahlberg-broers, Mark en Donny. Vroue soos Sarah Shahi, Cate Blanchett, Jessica Lange, Halle Berry en PJ Harvey. PJ Harvey en Bowie kan help met die klankbaan. Noudat ek daaraan dink, dalk sal ek net Gareth en Casper kan gebruik, die res praat mos Engels.

En watter regisseur sou jy wou hê moet jou storie maak?

My seun, Gareth, en ek wil in die toekoms saamwerk aan flieks, soos die Coen-broers. Stanley Kubrick is ongelukkig dood, maar daar is baie goeie regisseurs daar buite.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf