"Ek hét al baie aan die dood gedink. Soos voor operasies. Dan sien ek my donker kant en dis scary. 'n Mens kom van aangesig tot aangesig met jou demone en vrese. Ek besef ook ek moet dit face, want die tyd is dalk min. Ek is bang vir die dood, ja, maar dis ongelooflik hoe rustig ek raak as ek vol pyn en kanker in die hospitaal lê. Dan is God die naaste aan my en ek aan Hom. Ek het al ná operasies bygekom met net vae gesigte en sagte stemme om my. Dan voel dit asof ek klaar dood is. Ek is dan sonder pyn en glad nie bang nie." - Elsje Blair, Ryk Neethling se suster

ELSJE VERTEL SELF
Ek is op 13 met ’n breingewas, choroid plexus carcinoma, gediagnoseer. Min navorsing was hieroor gedoen en dokters wou nie opereer nie. Hulle het vir my ouers gesê ek het drie maande oor om te leef. Maar hier is ek nog op 29!

Die dag ná die diagnose is ons Johannesburg toe vir ’n tweede opinie van dr. Mauritz van der Heever, die neurochirurg wat my lewe al ses keer gered het. Hy het besluit om wél te opereer.
Ek het toe pas vir die Vrystaatse swemspan gekwalifiseer en was bitter teleurgesteld dat ek nie die toer Kaap toe sou kon meemaak nie. Dood of verlamming of blind word, was nie in my kindergedagtes nie. Ek wou net weer normaal wees en skool toe gaan. Ek het geglo alles sal oukei wees.

Al het my gesin probeer sterk wees voor my, het ek geweet hulle huil almal en loop met krom skouers. Rykie het ook gehuil en sy frustrasies in die swembad uitgehaal.

My eerste bestralingsessie was op my ma se verjaardag (24 November) daardie jaar. Dié sessies was uitmergelend. En tog het ek elke dag ná bestraling gaan swem. Ek was bang ek word vet!

Intussen het ek kunsklasse geneem en wanneer ek sterker gevoel het skool toe gegaan met ’n bandana om my kaal kop. Weens die tot 20 kortisoonpille per dag was ek opgeswel. ’n Outjie het my eendag ’n seerower genoem . . .

Uiteindelik het ek drie brein-operasies gehad, want die gewas het sy verskyning bly maak. Dokters het aanvanklik gesê ek gaan blind wees, wat toe nie gebeur het nie. Ek het wel tonnelvisie in my linkeroog oorgehou en ek loop nog gereeld in goed vas.

Ek kon natuurlik verdere operasies weier, maar dit sou nie regverdig teenoor my en God en almal wees om die een kans wat ek het, te laat gaan nie. In so ’n situasie oorleef jy nie omdat jy sterk of dapper of verhewe is bo ander nie, maar omdat jy nie ’n keuse het nie.

* Lees haar aangrypende verhaal in die September-uitgawe van SARIE - nou te koop.