Tussen die leerdery deur, kry sy gelukkig genoeg geleentheid om België bietjie te verken. Haar grootste uitdaging was om die versoeking om haar aan die wonderlike Belgiese sjokolade te vergryp, te weerstaan!

Hier is ek op Le Bateau, 'n kuierplek op 'n boot. Hier is ek op Le Bateau, 'n kuierplek op 'n boot.

Wanneer en waarom is jy België toe?

Ek het in Februarie vanjaar na België gekom om ’n semesterlange uitruilprogram in Gent mee te maak. Ek is ’n finalejaar, BA Tale en Kulture-student aan die Universiteit van Stellenbosch. Ek was altyd bewus van die Universiteit se Internasionale Kantoor en dat uitruilprogramme ’n moontlikheid was, maar ek het nooit gedink dit sal vir my werklikheid word nie. Ek het aansoek gedoen, gehoor ek is aanvaar en toe die administrasie aangepak. Vliegtuigkaartjies, visumaansoekvorms en universiteitsgoedkeuring . . . Die lysie was lewenslank. Voordat ek my oë kon uitvee was ek op die vliegtuig op pad na Gent.

Wat maak dié stad spesiaal?

Gent is ongelooflik mooi en vol geskiedenis. Nie net is die argitektuur oud en indrukwekkend nie, maar die waterkanale lei mens deur die stad en skep ’n romantiese, kultuurryke wêreld. My eerste indruk van die stad was dat dit letterlik nie einde het nie. Dit nie so groot nie, maar my oë kon net nie al die mooi inneem en verwerk nie. Alles was, en is steeds net te mooi. Van die kasteel, Gravensteen in die hart van die stad tot die musikante onder die brûe en in stegies wat hul instrumente laat weergalm. Die stad is bekend vir sy drie torings: die Belfry, St. Nicholas Kerk and St. Baafs Katedraal met die bekende poliptieke paneelskildery, “Het Lam Gods” (1432) deur Gebroeders van Eyck.

Sjokoladewinkels is in oorvloed te vinde. En om vir 5 maande daardie versoeking te weerstaan, is bykans onmoontlik! Die reuk van vars wafels hang permanent in die lug van die markte soos “Korenmarkt” en “Vrijdagmarkt”. Iets wat ek van die Belge geleer het, is dat hulle nooit die son as vanselfsprekend aanvaar nie. Wanneer die son skyn, sit almal buite met ’n bier en absorbeer elke moontlike stukkie vitamien D. Hierdie tendens het my weereens laat besef hoe gelukkig ons is met ons wonderlike klimaat in Suid-Afrika.

Sint Peters Abdy in Gent Sint Peters Abdy in Gent

Was daar iets waarmee jy baie gesukkel het daar?

Vir ’n Suid-Afrikaner wat Frans praat, is België nie ’n slegte keuse as jy kommunikasiegapings wil vermy nie. Vlaams word in die Noord-Oostelike helfte van die land gepraat en die onmiskenbare ooreenkoms tussen Vlaams en Afrikaans gee my ’n warm gevoel van huis. Iets waarmee ek wel gesukkel het, was die aanpassing by die Universiteit. Mens raak gewoond aan ’n Universiteit se manier van doen. Dit was vir my ’n openbaring om feitlik weer soos ’n eerstejaar rond te hardloop opsoek na ’n lokaal en niemand weet waarvan ek praat nie.

Was dit maklik om in te skakel by nuwe vriende daar?

Om nuwe mense te ontmoet is vir my soos ’n passie, nie dat ek die “oues” afskeep nie. Ek glo net dat mense in en uit mekaar se lewens beweeg met rede. Om mense uit verskillende nasionaliteite te leer ken, is vir my sielsverrykend en dit verbreed my wêreld en verander ook mens se uitkyk op die lewe.

Wat moet mens doen as jy in België reis?

België is baie toeganklik vir toeriste. Die treine is gerieflik, skoon en op tyd, die busse is netjies en modern. Gent het ook ’n tremstelsel wat mens se beweging in die stad vergemaklik en versnel. Die verskeie moontlikhede van openbare vervoer in België maak dit maklik om al die klein dorpies te besoek. Brussel is natuurlik die kommersiële hart van die land. Die stad is modern en het ’n onbeskryflike energieke teenwoordigheid. Fietse vleg om karre en jy kry die gevoel dat hierdie ratse fietsryers dié aktiwiteit reeds op ’n vroëe ouderdom vervolmaak het. Die gewilde toeriste-aantreklikhede in Brussel is onder meer die klein standbeeldjie, Manneken pis, die Brussel Stadsaal, die Atomium, Mini-Europe en St. Michael Katedraal. Die stad het soveel meer om te bied. Hoe meer mens sien in die moderne stad, hoe meer wil jy sien.

Brugge is bekend vir sy kase en sjokolades. Wat meer wil ’n mens dan hê? Díe kleiner weergawe van Gent, met meer waterkanale is perfek vir ’n dagbesoek - pragtige strate en winkeltjies, markte en argitektuur. Vir mode inkopies is Antwerpen net die plek. Daar is wonderlike klerewinkels.

’n Paar ander plekke om te sien is geleë aan die Belgiese kus. Oostende en Knokke is baie gewild gedurende die somer en daar kan mens ook goeie klere inkopies doen. Ek is skaam om te erken dat ek nog nie Antwerpen besoek het nie. Wat ek wel weet is dat die treinstasie beeldskoon is.

België as ’n vakansiebestemming is ’n moet. As jy koue verkies, sal die sneeubedekte straatjies in die winter jou hart laat smelt en as jy ’n paar dae van son wil geniet, sal die somerklimaat jou mooi rooi wangetjies gee. Die land van bier, sjokolade en wafels is werklik ’n bestemming om toe te voeg tot jou “Bucket-list”.

Blaai deur die gallery vir nog foto's.