Christel het gereeld die familie en vriende in Suid-Afrika deur ’n nuusbrief ingelig oor hul lewe in die vreemde. Sy deel een van haar briewe met ons.

En so kom Sandstories ook tot 'n einde

Ons kyk met soveel dankbaarheid terug oor byna twee jaar in die vreemde. Twee akademiese jare se 'home schooling' het verbasend suksesvol verloop. Petrus (8) het die drie R'e (read, write and arithmetic) onder die knie gekry en Stellie (11) het die kuns bemeester om onafhanklik te leer en te werk. Hul twee se tonge knoop nie meer as hulle Engels praat nie. Boonop het ons in die woestyn ontdek die jongste het swemtalent! Die peste het ons nie gepla nie en die hitte was verskans in weelderige lugversorging. Saoedi was 'n oasis, nes ons vooraf belowe is.

Daar is so baie wat ek saam met my vat:

As jy nie kan wyn koop nie, dan brou jy dit – dit kom krom en skeef uit, maar dit help die son sak.

Die prayer call vyf maal 'n dag is deel van bekende geluide en roep baie herinneringe op.

Abaya dra is welkom – almal lyk maer en goed in 'n swart nommer.

Die dadelboom by ons voordeur se skaduwee op die motor se agterruit. Dadels saam met Arabiese koffie (gebrou met groen koffiebone, kardemom en naeltjies) geskink uit 'n dhalla. Hoemoes, platbrood, tabouleh en baba ganoush – 'n Midde-Oosterse feesmaal.

Bybelstudie op 'n Sondagoggend saam met vroue van Amerika, Spanje, Italië, Australië, Libanon en Suid-Afrika.

Die reuk van wierook as jy by die winkelsentrum instap.

Iran, Irak, Pakistan, Jemen, Oman en die Emirate is nie net name êrens op 'n kaart nie – dis plekke wat in my soom ingewerk is.

’n Gesluierde vroue is 'n ma net soos ek, of sy is iemand se sussie, pragtig en dikwels heel tevrede met haar lewe wat ryk borduur is met hegte familiebande.

Daar is rêrig 'n plek in die wêreld waar brandstof 90c per liter kos en 'n motorrit van 6 000 km deur Saoedi-Arabië en deur Jordanië net 'n verstommende R1 000 se brandstof verbruik.

50 grade Celsius is m&*^r warm

Aussies is nice mense!

Die pool-ster is iets om te beleef.

En enige plek word huis as al die vreemdheid gaan lê het – die mens is so aanpasbaar soos water wat ’n nuwe pad kry om ’n klip.