LEES OOK: Afgaanse-meisie kry 'n nuwe neus

Eens op ‘n tyd, wanneer jy van Soweto gehoor het, het jy gedink aan oproer en onluste. Deesdae vereenselwig sportliefhebbers  Soweto  met Blou Bul-rugby, Wêreldbeker-sokker en vuvuzelas.

Maar weet jy regtig hoe hierdie plek lyk, wat huis is vir soveel mense? In hierdie boek, Soweto (Jacana Publishers, R275) sien jy deur die oë van die fotograaf Jodi Bieber hoe die plek en die mense vandag lyk, hoe normaal hulle lewe en hoe ‘n groot wanopvatting ons het oor dié stad. Vir jare is Soweto deur plaaslike en internasionale media uitgebeeld as ‘n sogenaamde hot spot waar net klippe gegooi en motorbande gebrand het in die struggle. Gewone mense was te bang om Soweto te besoek, ten spyte van die busse vol oorsese toeriste wat daagliks deur die plek ry op soek na die plaaslike kultuur en geskiedenis.

Ek durf een aand die verkeer aan na Soweto (natuurlik saam met duisende sokkerondersteuners wat na die vriendskaplike wedstryd tussen BafanaBafana en Colombië gaan kyk) om Jodi Bieber se boekbekendstelling by te woon. Ná ‘n rit van drie uur op die snelweg (gewoonlik duur dit ‘n uur) is ek een van die eerste gaste wat opdaag by The Shack in Orlando-Wes waar die boek bekendgestel word. Die ander gaste sit nog vas in die verkeer. Maar dit het my die geleentheid gegee om solank met Jodi te gesels oor haar boek. Ons moes die gesprek die volgende dag voltooi, want die musiek en gekuier van almal het gemaak dat ek sou moes lippe lees om te verstaan wat sy sê. Nietemin het ons in tipiese Soweto-styl partytjie gehou (al was die gaste almal laat!) en is al ons whities daar weg met ‘n heel ander beeld van Soweto in ons koppe. Hier is my gesprek met Jodi oor haar boek:

Hoekom het jy Niq Mhlongo gevra om die essay voor in jou boek te skryf?
Niq is in Soweto gebore en hy ken die karakter van die plek. Hy is een van ons belowendste jong skrywers. Ek wou nie iemand van êrens anders gehad het om oor Soweto te skryf nie. Ek wou hê dit moet iemand wees wat in ‘n moderne stem kan sê hoe dit is om in Soweto te woon. Vir my het dit ontsettend baie verander. Op die oog af is dit vaal en bruin, maar as jy inzoem, is daar baie kleur en natuurlik is daar baie individuele karakters wat kleur gee aan hierdie plek. Daar is kreatiwiteit en individualiteit. Mense beskryf dit as huis. Dis lewendig en energiek. Ons moet die leefstyl van die mense in Soweto beny - kinders speel sorgeloos in die strate, oumas is by die huis, deel van die gemeenskap. Mense leef ‘n opnebare lewe na buite , in die strate en misdaad is tot ‘n groot mate hokgeslaan. Elke straat het iemand wat op die plaaslike gemeenskapsforum dien. Hulle duld net nie meer misdaad nie. Dis nie hoe ons in ons voorstede leef nie. Ek hou van hoe almal deel is van die gemeenskap en ingesluit word by almal se lewens. As iemand trou, dan word ‘n tent in die middel van die straat opgeslaan en die hele straat is genooi. Dieselfde geld begrafnisse. As jy eensaam is in Soweto is dit omdat jy kies om eensaam te wees. Miskien wil jy net wegkom van alles. Maar ek is mal oor die gevoel van gemeenskaplikheid en samehorigheid in Soweto.

Hoe het jy te werk gegaan om die werke vir die boek te skep?
Die werk is gedoen aan die einde van 2009, begin 2010. Dit was ‘n baie intense proses. Ek het vir drie maande voltyds in Soweto foto's geneem. Maandae en Dinsdae was vir produksie en redigering. Woensdae tot Sondae was vir foto's neem. Ek het met vier assistente gewerk. Die rede daarvoor is dat ons sewe aande gewerk het en twaalf ure op die dae wat ons geskiet het. As jy nie ‘n fotograaf is nie, is dit uitputtend. As fotograaf is ek gewoond daaraan en is dit my commitment. Maar dit bly fisiek uitputtend. Ons het 7 000 kilometer in Soweto alleen gery. Dis die eerste keer dat ek digitaal geskiet het. My kamera se skerm agter het ‘n probleem ontwikkel, maar daar was nie tyd om dit te laat herstel nie, omdat ek op so 'n vaste tydskedule gewerk het. Mens moet baie akkuraat werk en deeglik wees en sorg dat jy elke dag alles wat jy geskiet het, aflaai en back ups maak. Ek het ook ‘n digitale crop gebruik wat my fotografiese styl pas, van hoe ek foto's skiet.

Was jy verras deur die mense wat jy ontmoet het?
Soweto se mense is baie oop en gasvry, want daar is so baie toeriste. Ek was nogal verras om ‘n rock band, Ree-Burth, te ontmoet, wat ‘n hoofsaaklik wit ondersteunersbasis in die Kaap het en die bikers, The Soul Seekers Biking Club, het my verras. Maar as jy na Maponya Mall toe gaan - ons wys nooit die normaliteit van die alledaagse lewe in Soweto só nie, nie in die plaaslike of internasionale media nie. Mense is so normaal, veral met hoe hulle van dag tot dag lewe. Die verrassing was hoofsaaklik die mense van Soweto s'n. Hulle is nie gewoond daaraan dat wit Suid-Afrikaners Soweto inkom en belangstel in hul gemeenskap nie. Hulle het my konstant gevra: "From which country are you?" en daarom is dit ook die inleiding tot my boek.

Hoe het jy die werk beplan?
Ons het lukraak geskiet. Die projek was baie spontaan. Ek het gou die ritme van die plek leer ken en het geweet Vrydaemiddae, Saterdae en Sondae was die beste dae vir foto's. As ek mense terloops langs die pad raakgeloop het en hulle ‘n interessante fotogeleentheid bied, het ek dit onmiddellik geskiet. Ek het dit ook ongelooflik moeilik gevind om ‘n mooi landskap van Soweto te neem omdat die landskap baie plat is. Ek het dikwels vir ure gery en dan was daar niks wat die moeite werd was om af te neem nie. Ek moes ry en ry en ry om die mense en plekke te ontdek.

Gunsteling-foto in die boek?
Die omslag - dit bevat baie simboliek. Baie mense was verras dat daar ‘n swembad in Soweto is en dat dit soos enige ander ontspanningsoord lyk. Ek het dikwels gehoor: "Ek het nie geweet daar is ‘n swembad in Soweto nie" en dit het gewoonlik hand aan hand gegaan met die vooropgestelde opvatting dat swart mense nie kan swem nie. Dis nie die beeld wat mense in hul koppe van Soweto het nie. Hulle sien dit eerder as ‘n plek met stofstrate.

Het jy verlore gevoel na jy die boek voltooi het, omdat dit so 'n intense projek was?
Ek het die hele proses van die boek deurgemaak, die neem van die foto's, die skryf van die essays, die kies van die papier waarop dit gedruk is, die kleur en hoe die uitleg moet lyk. Ek sou graag wou hê my uitstalling, "Real Beauty", moet ook ‘n boek word. Ek het soveel versamelings van fotografiese werk, maar ek wou eers Soweto daar buite kry. Maar ek voel so 'n bietjie soos: "En nou. . ."