Nee, dis in élk geval 'n produk om op trots te wees.

Ek was by die première, omring deur kameras, allerlei happies en die klank van vuvuzelas, want Bafana Bafana was besig om teen Uruguay te speel. Die Canal Walk-winkelsentrum naby Kaapstad het uit sy nate gebars soos mense voor groot TV-skerms saamgedrom het om sokker te kyk.

En by die Nu Metro-teaters was dit Egoli-tyd.

Nenna (Shaleen Surtie-Richards) was die Lady in Red en Franz Marx, die sepie-koning, het soos iemand uit The Godfather gelyk toe hulle eergisteraand by die Kaapse première opdaag.

Die vroue wou hulle om David Rees (Niek) drapeer en hy moes net regstaan vir foto's in sy denim, swart baadjie en swart T-hemp en bruin seemsleer-stewels.

''Niek was altyd die sexy een. As Ma kos gemaak het, het ons altyd Egoli gekyk. Niek was altyd die stoute een. Dís mos wat 'n man aantreklik maak,'' het een bewonderaar gesê.

Casper-herrie

Amanda de Lange, resensent van Beeld, het die rolprent Egoli een ster gegee en dit onder meer beskryf as “'n teleurstellende ervaring, om die minste te sê”... Lees verder by www.nuus24.com

 

Dié rolprent het gesorg vir baie verrassings. Ek is glád nie 'n Egoli-kyker nie en het my reggemaak vir 'n bubblegum-gedoente. Iets ligs. Sepie-vermaak. Dis mos wat 'n mens vooraf dink.

Toe nie! Maak jou klaar vir 'n donker fliek. Vol eg Suid-Afrikaanse temas. Emigrasie, afdankings, volwasse vermaak (strip clubs). . . (en ja, Lolly Jackson doen sy ding heel oukei!)

Swart bemagtiging kry bietjie glamour met die beeldskone Lerato Motao (TJ) - 'n sterk swart ''baas'' wat nie met haar laat mors nie. En in haar goue, bruin en roomkleurige tuniek by die première het sy soos 'n loopplank-model gelyk. Ons eie Halle Berry! Sy sê so ewe toe sy die eerste keer haarself op die skerm gesien het, was dit surrealisties. ''Dit was 'n ongelooflike gevoel. Dit was nie aldag maklik om aan die fliek te werk nie, maar 'n ondervinding. Ek is van nature nogal sweet. TJ is 'n tawwe vrou, so ek moes hard praat met myself om dié karakter te vertolk.''

Dan is daar die hele Boetman-tema. Mans wat nou nog ly aan post traumatiese stressindroom weens die grensoorlog. Hoe wens 'n mens nie iemand soos die oorlede joernalis Chris Louw kon dit sien nie. Albei die hoofkarakters, Niek en Joe (Darren Kelfkens), was op die grens. Albei wou graag dié boodskap oordra. Rees het sowat sewentien jaar gelede baie gesukkel met PTS.

As daar Oscars in dié land was, sou ek vir Kelfkens (die aktrise Mary-Anne Barlow se kêrel) een wou gee.

Sy spel is roerend. En wát 'n heer. Sy ma, Sandy, van Melkbosstrand, wat ook daar was, sê hy het al toe hy vyf jaar oud was, gesê hy gaan eendag 'n akteur wees. ''Hy is so 'n goeie seun. Hy maak my só trots.''

Willem Theunissen, 'n sakeman van Kaapstad sê dié fliek spreek tot middeljarige Afrikaanse mans. ''Die storielyn is baie sterk.''

Die nuweling Leandie du Randt (Peggy), het 'n ongelooflike lyf en is juis in die Teazers-tonele. Hou haar maar dop... Sy is nog baie energiek, talentvol en lus vir die bedryf (nou nie die Teazers-bedryf nie!)

Wat kan 'n mens sê oor Nenna? Daar is net een!

Toe Casper de Vries (Duifie) en Faan (Anton Stolz) opkom, het ek gedink ek gaan van my stoel afval. Veral met die braaivleistoneel. En toe Brüms kom kuier... (Ek sê niks meer nie). Casper weet hoe!

Natuurlik is dit nie perfek nie. Niks is nie. Maar dit is 'n verrassing en jy sal nie jou geld mors as jy gaan kyk nie.

Die fliek het gemengde resensies gekry sedert sy uitreiking op 16 Junie. Maar 'n fotograaf van Rapport meen: ''Hoe minder punte flieks kry, hoe meer mense lok dit dikwels. Kyk maar na die Schuster-movies... En sy sê ook: ''As mens nou fliek met wyn moet vergelyk: Kyk jy ooit na hoeveel sterre wyn kry voor jy dit drink? Nee man, jy drink wat vir jou lekker is!''