Parys was nog altyd my gunsteling-stad. Ek was gereeld twee keer ’n jaar daar op hoë hakke en
gepantser met ’n sonbril, altyd op ’n drafstap van die een modevertoning na die volgende. Onlangs het ek die hakke verruil vir ’n plastiekvoorskoot op die oewer van die Seine.

My kleinkinderdae in die Vrystaat roep herinneringe van ’n asemrowende ou huis op, met rooipolitoer-stoepe en Maria en Liza in stywe wit voorskooie. Wit rose in silwer potte en die mooiste vrou met swart hare in ’n sagte bolla op die kop, wat met haar klein handjies en fyn vingers die delikaatste konfyttertjies bak. Die botter word gerasper in die yskoue spens, saggies in die meel gefrommel, fyntjies toegedruk sodat die konfyt binne bly.

Alles was delikaat – behalwe natuurlik ek, wat sommer ’n warm jam-tertjie in my mond druk, sluk, en hallo maagpyn! Daar was nog nooit ’n melktert iewers in die wêreld soos Ma Issie se melktert nie, geen sjokoladekoek soos haar oliesjokoladekoek nie ...

              

Ek het nooit van die kombuis gehou nie. Die gier het my eers in my 40’s beetgekry. Ek het al die meesters rondom my gehad: Ma Issie wat Liza en Maria na die hand geleer het. Dié twee wonderlike vroue kon ’n lang tafel vir 20 met silwerdek, blomme rangskik en ’n 5-gang-maaltyd berei soos min. Die tafel in ons lang eetkamer het behoorlik gekreun onder al die wonderlike bakke kos...En dan was daar my liewe Vader Claerhout, wat kook met ’n glasie in die hand en glo jy kook met dit wat in die huis is!

Ma Issie se gebak was net altyd in my drome. Hoe dikwels wou sy my nie die kleiner, fyner geheime van haar legendariese terte leer nie, maar nee: “Wie bak nou, Ma, dis tydmors. ’n Mens koop die goed!” Mmm ... En nou op 56 byt daai gogga my behoorlik. En waar ek in Thaba’Nchu gratis en verniet kon leer, moet ek nou Parys toe foeter om die dissipline van bak te leer ...

Ek is nie skaam om te sê ek is ’n goeie kok nie. Bietjie onortodoks dalk, maar dis interessante geregte wat ek voorsit. En vandat ek hier op ’n Duin naby Langebaan kom bly het, het die huis ’n plek vir klein troues, vroue-oggende en verjaardagpartytjies geword. Die meubels word uitgedra en daar word ’n lang tafel gedek vir 40 mense. En madam kook!

Ek het my eie Weskus-tapas ontwikkel, so ’n lekker kombinasie van Portugese en Spaanse tapas-geregte en ’n bietjieWeskus-geur met pampoen en patatkoekies, viskoekies en miniatuurvetkoekies. Wanneer enigiemand vir iets gebak vra, het ek dit altyd laat doen. Tot nou toe het bak my net bang gemaak. Tog, diep in my hart was dit iets wat ek so graag wou leer en bemeester.

Beplanning vir ’n vakansie in Parys het my op die internet op kooklesse laat afkom. Klein kookskooltjie naby Rue de Rivoli op die oewer van die Seine. Dit was soveel pret. Ek leer macarons bak, asook croissants, quiches en tarte Tatin. Ons loop die strate van Parys plat, proe macarons oral, koop pannetjies, ’n digitale skaaltjie, termometer, mooi soufflépotjies, messe, silikoon-bakvelle – als kom saam terug. ’n Mens sou sweer ons het niks daarvan in Suid-Afrika nie.

Vir die macarons het ’n mens ’n KitchenAid nodig. Hier is nie eens ’n mikrogolf of ’n TV in die huis nie, maar ons spaar vir daai kombuishelper! Vir nou hou ek daarvan om als met die hand te doen. Dit laat my aan my ma dink. Daardie wonderlike gevoel tussen jou vingers as die meel en botter krummelstadium bereik...Ek het begin brosdeeg maak en quiches, al daardie presiese afweeg en afmeet. Die onderstebo-appeltert word sommer in elke vorm gebak, klein of groot.

So twee jaar gelede het ek ’n kosmark op Vredenburg begin en een van die vroue wat my gewoonlik met spyseniering help, het altyd vir my kleinkoekies gebak. Dié is dan met tou in papiersakkies toegebind en so verkoop. Te heerlik. Self het ek ook ’n paar keer probeer bak, maar die meeste baksels het in die hondebakke beland. Dan moes Jennifer maar weer kom uithelp. Nou staan daar al ’n blik vol perfekgebakte Spaanse soetkoekies.

Ek probeer sommer wonderlike resepte wat pêlle gee. En vinnig leer ek 120 gram is dit: 120 gram, nie 130 of 150 nie!

            

Weens die gebrek aan ’n TV-antenna (bang dit maak my huis lelik) lees ek geweldig baie. Ek is mal oor resepteboeke – ek lees dit soos storieboeke, en dit inspireer my nog meer om ad lib te kook. In verskillende boeke kry jy weergawes van ’n soortgelyke gereg, en jy onthou stukkies van elke weergawe. En as iets nie reg is nie, gooi rooiwyn of brandewyn by!

Bak is nou my nuwe speelding. Ek wil soos Ma Issie fyngebak maak ... in my agterkop is al die prentjies van haar in die koel spens gebêre. Dit gaan baie oefen kos om so met gemak als te doen, maar ek hou van die magic van weeg, van presies wees. Hoe’t hulle ons geleer in Parys? Sorg dat alles afgeweeg is vóór jy begin.

My bakboek het nou al drie resepte wat ek met selfvertroue kan maak. Nou net oefen om die perfekte croissant te maak, en dan Ma Issie se legendariese olie-sjokoladekoek en ragfyn jam-tertjies. Ek is seker sy glimlag breed saam met al haar engel-vriendinne oor die kind wat uiteindelik geleer bak het!

So groot is die bak-gier dat ek hier op my dek in Desember een keer ’n week Bella se Tafel wil hou – ’n lang tafel vir so 20 mense met die dag se gebak, ’n teetjie, ’n wyntjie en vars lekkertes uit die oond. Ek giggel lekker as ek dink aan al my probeerslae en die honde-gesiggies in afwagting as daai plaat uit die oond kom. Ek kan hul koppe lees: Het sy al weer ’n flop gemaak? Hoe lekker vir ons!

KRY DIÉ RESEPTE IN JOU SARIE KOS OKTOBER/NOVEMBER 2011


1. Gebakte kaaskoek

Gebakte kaaskoek

2. Tarte tatin (onderstebo-appeltert)

Tarte tatin (Onderstebo-appeltert)

3. Sampioen-quiche

Sampioen-quiche