Die skoonouers het kom kuier. Op versoek bring hulle VERVREEMDELING, 'n digbundel deur I.L. de Villiers, saam. Ek het iets daaroor raakgelees in die SARIE wat my ma ten duurste aan my gestuur het. Sy weet hoe ek voel oor die reuk van ink en die mooi van die glansbladsye. En ek hou van my wortels. Ek weet wat jy dink, maar lees nog 'n paar sinne, hierdie een sal ek verantwoord.

Ek het geen twyfel daaraan dat my skoonouers effe gefrons het oor dié versoek nie. Ek is nie bekend daarvoor dat ek boeke met 'n Christelike inslag lees nie. Lees ja, gelowig op my eie manier, beslis. Die boek is egter wel deur 'n groot kerkman van ons tyd geskryf, maar dis beslis nie 'n kerkboek nie. Dis 'n boek oor respek. Hope daarvan.

Ek bly in Saskatchewan. Ons het onder meer al na die suide getoer om die butte (spitskoppe) te gaan kyk. Dis daar waarheen Butch Cassidy and the Sundance Kid altyd gevlug het, noord na Kanada, suid na Mexico. Altyd die gejaag om die grens oor te steek voor die gereg hulle inhaal. Ons het ook al verder suid gery na Little Big Horn, waar die geskiedenis van Big Chief Sitting Bull dik gesaai lê in die gras en die heuwels.  

Jy, liewe leser, kan jy insig hê in my verbasing toe ek die boek uit Suid Afrika ontvang en daar pryk 'n pragtige foto van Big Chief Sitting Bull op die voorblad? Trots en mooi. Die heel eerste gedig in die bundel is oor hom en slaan my asem weg. Hoe op aarde het ek, wat NOOIT enige konneksie met I.L. de Villiers gehad het nie, met die boek ’n konneksie maak, in so mate dat ek baie moeite gedoen het om dit te bekom? Wat was I.L. de Viliers se konneksie met die Noord-Amerikaanse rebel dat hy so 'n roerende gedig oor die besonderse man geskryf het? Hier is my geloof in sinkronisiteit weer bevestig!

Ek lees die gedig oor en oor en ek glimlag te lekker in my mou. Daar bestaan altyd die gevaar dat 'n mens jou kop soos 'n volstruis in die grond kan steek oor sekere kwessies. Apartheid, diskriminasie en die uitmoor van nasies, tel beslis onder die onderwerpe wat ek sommer maklik vermy. Maar hoe bewonderenswaardig is dit nie as iemand dit kan regkry om respek te gee aan diesulkes wat onder dié kwessies gely het nie. Dis mos waaroor die lewe gaan. Dis waarvoor daar 'n Waarheid-en- Versoeningskommissie was.  Respek.  

Dis die essensie van die lewe – hier, in Suid Afrika en oral oor die wêreld. As ek respek het vir myself, kan ek respek hê vir my man en kinders. As ek respek het vir myself, kan ek mense om my sien en kan ek ware insig kry in die geskiedenis wat elke ou maar aan jou oordra soos hy self die storie beleef het. Deur konneksies te maak tussen my wortels en my vlerke, kan ek my hart en my brein gefokus hou op dit wat belangrik is, en dit wat okei is om te laat staan.    

Dit voel soos 'n Michaelangelo-oomblik waar die vingers van Dawid en God uiteindelik raak, of in elk geval 'n Tinkerbell-vonkie spring van die een vingerpunt na die ander. Dit voel soos 'n gloeilamp wat aanskakel en met BAIE volts my dag ophelder. Die storie van Sitting Bull en sy trawante kan enige dag my hart warm laat klop, net soos Bok van Blerk en "De la Rey". Respek is respek, hier en by die huis of is dit andersom, by die huis en daar . . .

 "Sitting bull" landskap

Die suide van Saskatchewan. Dis waar Big Chief Sitting Bull jare lank van die Amerikaners geskuil het nadat hy genl. Custor verslaan het.

 

Die spitskoppe (butte)met mooi name soos Ravenscrag-, Anxiety- en Frenchman’s Butte.

 T-Rex discovery Centre

Die T. Rex Discovery Centre in Eastend, Saskatchewan. Hier kan jy gaan sif en skrop en maak asof jy ’n argeoloog is. Die skelet van die dinosaurus wat in 1991 hier ontdek is, is beslis indrukwekkend.

 Elsabe op kaart in sentrum.

Die kaart van Saskatchewan op die vloer van die sentrum. Hier is ek in my T-hemp van die Windhoek-SARIE-kunstefees.

 Een van die mere.

Een van die baie mere in Saskatchewan.Hierdie een heet Jackfish Lake. In die somer swem ons, roei in kano's, ski en vang vis. In die winter snowmobile, skaats en icefish ons op dieselfde plek. Niks keer ons om in die somer langs die meer en in die winter op die meer vleis te braai nie!

 Jaarlikse rodeo.

Die jaarlikse rodeo op ons dorpie.

 Cowboys

Hier neem cowboys deel aan die Calgary Stampede.

 Op 'n plaas.

Op ’n ranch. Die beesboere dra regtig cowboy-klere en gebruik regtig 'n lasso (vangriem) om die kalfies te merk.

 Landskap

Saskatchewan se nommerplate lui: “Land of the living skies”. En inderdaad, dit voel asof die hemel baie groter is hier omdat dit so plat is. Die noorderligte maak die effek snags nog meer misterieus.

 Tradisionele danse  

Die tradisionele “first nation”-danse is kleurryk en passievol. Dit gaan gepaard met die speel van tromme. Dit sinkroniseer met jou hartklop en dwing jou om aandag te gee aan iets tussen die lyne.

   Die prêries is wyd en oop.
 Bison by die ingang van ons dorp. Bison.